'n Uitstaande, en vir my nou aktuele kenmerk van een van ons veelsydigste Afrikaanse beeldende kunstenaars en skrywers wyle Johannes Meintjes van Molteno, was sy ongeëwenaarde ryk en rare sintuig om aan 'n oënskynlik toevallige retoriese besonderheid profetiese uitdrukking te gee: soos om die terloopsheid van die manier waarop president Paul Kruger geloop het tot 'n unieke genetiese Kruger familie-motief vir sy leser aan die orde te stel.
So byvoorbeeld het ek en my maats as leerlinge van die Adelaide Hoërskool ons as juniors teenoor seniors laat geld deur hulle swakhede soos byname en eienaardighede op te som en uit te ken en dan op veilige afstand die "menere" daarmee te treiter.
Twee voorbeelde: Ezra, ons frisgeboude buurseun se bynaam op skool was "Donkie" en as ek en my boesemvriend-neef Chris vanuit die klein hekkie na skool in Thompsonstraat bevrydend huis toe stap en Donkie nog buite op hulle stoep vertoef, het Chris op veilige afstand luid soos 'n donkie begin balk ...
Totdat "Donkie" hom een fatale middag teen polisiesersant Smuts se heining vasgekeer het en hy met 'n hele paar blou letsels op die lyf losgelaat is om tuis oor sy gedrag te gaan nabetragting hou.
Maar my storie fokus hier op die streng en voorbeeldige prefek wat ook in ons straat te Adelaide gewoon het en wie se naam "toevallig" ook Paul Kruger was (later 'n vooraanstaande en ondernemende hoof van die Rooikruis in Port Elizabeth) en wat teen wil en dank ook een van my en Chris se slagoffers op veilige afstand was van ons twee se wakker waarnemingsvermoë en spontane treiteringsdrang om nie totaal uitgelewer te wees aan seniors en boelies se impulsiewe ontkenning en disrespek vir ons bestaansreg in terme van 'n nog ongeskrewe informele "bill of rights" nie.
Ons het Paul se manier van loop naamlik as voldoende on- of buitengewoon beskou om dit op oordrewe manier vanaf 'n veilige afstand na te boots wanneer ons Thompsonstraat binneloop en Paul ewe rustig en waardig op die stoep van hulle huis sou sien sit, sonder dat hy ooit blyke gegee het van vrees of ongemak vir of 'n voorgevoel oor die klein straatkomedie wat hy en ons twee geweet het nou sou volg.
Terwyl hy loop het Paul sy gewig naamlik met elke tree op die hak van die agterste voet geplaas en dit met 'n opwaartse rol- en wipbeweging na die punt van die skoen verplaas ter voorbereiding van die volgende tree. Ek het as vriend sonder om van die president te weet die loopstyl oor die jare vir baie van my skoolmaats en my eie familie nageboots!
Vir ons twee, Chris en my, was dit 'n prettige komedie om sy loop vir sy eie kennisname straatgewys te demonstreer en onderstreep en dan vinnig en summier te maak dat ons wegkom.
Dit sou bloot 'n kwajongstreek in my geheue gebly het as ek nie heelwat later in Johannes Meintjes se fassinerende biografie oor President Paul Kruger (Cassell, London) die volgende verrassende beskrywing van dieselfde verskynsel by president Paul Kruger deur Olive Schreiner se eggenoot gelees en vir latere verifikasie van my eie waarneming van ons eie plaaslike prefek Paul Kruger en die oorerwing van genetiese kenmerke in families vir moontlike gebruik opgeteken het nie.
Meintjes skryf: "Her (Olive Schreiner's) husband Cronwright recorded that Kruger even in old age impressed them with his massive frame, 'his powerful bone, the quick step and the hold his foot took of the ground as he walked, the way it seemed to grip the ground and lift him along, and the look of alertness and energy' which still indicated a man 'as outstanding physically as he was in character and in certain mental qualities' ".verw 821 pp 214/215.
My slotsom: Raar maar waar!
Meintjes se waarneming van en belangstelling vir detail word verder bevestig deur nog 'n voorbeeld in 'n boek van 1964* en 'n artikel in 'n Huisgenoot van dieselfde jaar waarin die skrywer na die uitsonderlike kunssinnigheid van ene mnr Arthur Lomax as kunsfotograaf van plaaslike inwoners en families op Molteno verwys.
Hy wonder wat van die begaafde kunsfotograaf geword het wat Molteno, tot skade van die gemeenskap, verlaat en hom glo elders as apteker gaan vestig het.
Meintjes se vraag is later sonder dat hy dit self mbt my belewing daarvan as 'n profetiese insig sou kon voorspel soos volg beantwoord: "Ons weet nie," skryf hy, "maar wonder maar net wat van Lomax geword het, want as hy dieselfde voortreflike eienskappe wat hy as fotograaf besit het in sy aptekersloopbaan uitgeleef het, sou hy sonder twyfel ook in sy nuwe beroep 'n groot sukses gemaak het ... ".
Ek het Meintjes se vraag soos sy verwysing na President Kruger se manier van loop al die jare sedert ek daarmee gekonfronteer is saam met al die ander terloopse en byna psigies- toevallige wetenswaardighede wat regstreeks met karakters uit my jeugjare op Adelaide verband hou, in my geheue bewaar.
Meintjes se verwysing na mnr Lomax het naamlik ou herinneringe opgeroep toe ek einde 1952 na die matriekeksamen as klerk in 'n plaaslike bank begin werk, 'n intieme kennis van ons dorp se besigheidskultuur opgedoen het, spesifiek van A Lomax se medisyne-fabriek asook aptekerye. Die herinneringe het by die lees van Meintjes se vraag nog meer aktueel geword omdat ek deur 'n bank-eed verbied was om finansiële inligting van kliënte soos Lomax se medisyne-fabriek uit te lap maar as letterkunde-dosent waarskynlik bloot toevallig die aangewese persoon was om Meintjes se retoriese vraag te registreer en daarop te reageer.
Ondanks die bank-eed mag ek nou stellig in die algemeen onthul hoe die produkte van dieselfde mnr Arthur Lomax na wie Meintjes verwys in Suid-Afrika en in die buiteland 'n suksesverhaal soos min vertel het.
Die medisyne-fabriek in Kerkstraat, Adelaide is, met die swaar reuk van roulynolie en ander preparate in die lug, deur mnr Arthur Lomax en personeel tot bekende medisyne-produkname ontwikkel.
Wat oorspronklik boererate van die distrik was, het mettertyd beroemde patentmedisyne geword wat reeds in die Vyftigerjare tot die omvang van 'n internasionale goudmyn gegroei het.
Oorkant die Adelaide Hoërskool met die skoollied uit die pen van ds M de Villiers, asook die indrukwekkende poskantoor en magistraatskantoorblok waarvan sir Herbert Baker die argitek was, het die onderneming tot 'n werkverskaffer en nywerheid van formaat gegroei totdat die patentregte in die laat Sestigerjare aan 'n bekende landswye medisyne-groep verkoop is.
Dis dan ook aan die Lomax-familie te danke dat ons jong klomp langs die erf van mnr Albert Hawke deurentyd toegang tot 'n eersteklas tennisbaan gehad het en die Adelaide Museum as een van die waardevolste tuistes van Africana deur die Ash-egpaar ('n dogter van mnr Lomax) ontwikkel en met kosbare erfstukke gevul is.
Die familie het oa uit mej Claire en dr Ronald maar ook die bestuurder/eienaarseun mnr Tollie en die bekende mnr Attie (uit Arthur) Lomax bestaan. Laasgenoemde het in die gesellige barbierswinkel van oom Basie Nell, na 'n besoek van Attie en sy pa aan Engeland, toe hy gevra is hoe hy van Engeland hou, geantwoord: "Niks nie, te veel Engelse!"
Om die besigheid na die verkoop van die regte aan die nuwe eienaars op te ruim, het 'n lid van 'n latere geslag wat elders grootgeword het en opgevoed is, tydelik op die dorp kom woon en gou die bynaam "Crime" verwerf.
Op my navraag wat die rede vir die vreemde bynaam was, het my informant vertel dat die jong Lomax elke middag na 5 gulhartig by die gholfklub se watergat onthaal is, maar self nooit aangebied het om die plaaslike manne terug te nooi nie. Vandaar die bynaam: "Crime" vir: "Crime does not pay!"


Kommentaar
Wat 'n aangename bydrae om te lees. Elke dorp het sy eie karakters en persoonlikhede gehad. Ek was gelukkig/bevoorreg om ook in 'n kleiner dorp groot en mens te word.