Johannes
Ek kom toe so met ’n ompad op dié brief van jou af, waarin jy heel vaderlik vir Wouter ’n les wil leer. Jy vermeld daarin en kritiseer hom hoe hy soos ’n vlytige by van blom tot blom gaan en bietjies-bietjies nektar versamel, maar nie genoeg tyd het om heuning te maak nie. Jy doen jou voor as beskeie en wys en maak Wouter af as hardegat, beterweterig en voortvarend … Jy sien blykbaar nie in dat daar nie uiteindelik heuning te make was nie, sou dit nie wees vir die onverpoosde insameling van die bietjies-bietjies nektar nie … en dat daar van jou één blommetjie waar jy in jou bedeesdheid stil vertoef en ál die nektar probeer uitput, bepaald nié heuning gemaak kan word nie. Dalk moes die les vir jou in jou eie analogie wees dat jy die nektar versamelaar nie moet afskiet en ontmoedig nie, maar self ook heuning probeer maak met al die versamelde nektar.
Net jammer dat daardie nektar, dié wat moet handel oor sake spiritueel, al te dikwels met gif besmet is en dus onbruikbaar. As die vlytige bytjie tog maar net in die regte plekke sy nektar wou gaan versamel … Maar dit doen nie afbreuk aan die les in metodiek vir jouself daarin nie.
Maar dit so terloops.
Waaroor ek eintlik aan jou skrywe, is die verrassing wat my te beurt geval het in daardie einste brief van jou. Jy skrywe “Ek het met Kobus verskille gehad, maar deesdae gun ons mekaar die nodige ruimte. Ek lees nie eintlik sy briewe nie, maar as ek vinnig daaroor gaan, merk ek dat hy heel dikwels goedkeurend na Johannes verwys. Hy noem my op my voornaam …”
Nou, dít is goeie nuus, Johannes! Dat jy jou só vereenselwig met die aanhalings van Johannes vir wie ek so uit die Woord aanhaal, dat jy selfs dit eien as komende van jouself. Wanneer het dit met jou gebeur?
Groete,
Kobus de Klerk

