Joe Speedboot
Tommy Wieringa
Uitgewer: Queillerie
ISBN: 9780795800405
Bestel Joe Speedboot by Kalahari.com!
Wanneer die veertienjarige Fransie Hermans ná 220 dae se “weg-wêreld” wees kruppel in sy hospitaalbed wakker word, verneem hy van sy familie dat Lomark nuwe inwoners bygekry het én ly onder heelwat ontploffings. Die enigmatiese nuweling met die onwaarskynlike naam Joe Speedboot is klaarblyklik verantwoordelik vir hierdie ontploffings en vandat Fransie dié naam hoor, dink hy dat Joe Speedboot na ’n “lekker ou” klink (10).
Vanweë ’n fratsongeluk met ’n trekker beland Fransie in ’n rolstol en kan hy ook nie praat nie. Die verhaal word vanuit die oogpunt van sy verbeelding en fantasieë vertel. Fransie ontwikkel ná sy herstel ’n obsessie met die samoeraiswaard-heilige Miyamoto Musashi en sy boek Go Rin No Sho, oftewel Die boek van die vyf ringe. Musashi verduidelik hierin dat “die weg van die samoerai tweeledig is: die weg van die swaard en die penseel […]” (48). Wierenga se roman volg dan ook hoofsaaklik hierdie afdelings in ommekeer: Penseel en Swaard. Die twee afdelings dien ook as aanduiders van belangrike tydperke in Fransie se lewe.
In Penseel besluit Fransie om dagboeke te skryf wat voorsiening sou maak vir sy oudag: “Ek het gedink: As ek nou presies neerskryf wat alles gebeur, dan kan mense my later kom vra: ‘Fransie, wat het op 27 Oktober van so en so jaar gebeur? En kyk of jy iets oor my kry op daardie spesifieke dag.’ […] En nadat ek jou toegelaat het om dit in daardie spesifieke boek te lees, sou ek in my notaboek aanteken hoeveel jy daarvoor moes betaal” (49-50). Hierdie skryfdaad word egter nie net gepleeg om eendag ’n inkomste en dus ’n lewensbestaan te hê nie. Op ’n simbolies eksistensiële vlak word Fransie se manuskripte ’n bevestiging van sy, en ook Lomark, se daarwees. Die tema van eksistensialisme kom sterk na vore wanneer Fransie die dag-tot-dag-gebeure in Lomark, asook sy en veral Joe Speedboot se doen en late, boekstaaf in die skadu van die E981, die nuwe snelweg wat verby Lomark gebou word en die dorp se voortbestaan bedreig.
Fransie het ’n groot bewondering vir Joe Speedboot (’n naam wat Joe self vir hom gekies het en wat vir ’n element van magiese realisme sorg). Op sy beurt het Joe ’n groot bewondering vir die binnebrandenjin. Dit is Joe se bewondering vir beweging wat hom noop om ’n vliegtuig te bou sodat hy op die Suid-Afrikaner Kathleen Eilander, wat kaal in haar tuin rondloop, kan spioeneer en om later ook ’n laaigraaf te herbou om aan die Parys-Dakar deel te neem.
Dit is ook Joe wat Fransie se potensiaal as bobaas-armdrukker raaksien en hom begin afrig. Só help Joe vir Fransie om tot by die wêreldkampioenskappe te vorder en om figuurlik teen sy gebreke te stoei.
Met Swaard betree Fransie, in teenstelling met Penseel, ’n fisiese stryd teen sy gebreke en laat hy in die proses ook ’n paar hardebaard-armdrukkers les opsê. In dié tydperk word Fransie al hoe meer bewus van sy onblusbare liefde vir PJ (die beeldskone Suid-Afrikaner en dogter van die nudis) wat ten tyde van die armdrukwedstryd in ’n verhouding met Joe is en byna die twee se vriendskap verongeluk. Fransie is egter die enigste persoon in Lomark wat die ware PJ ken …
Hierdie roman spring, soms onlogies, van een absurde scenario na die ander (nie te ver verwyder van hoe ’n tienerseun se kop in werklikheid werk nie – as ek reg onthou), maar terselfdertyd wys dit ook op die banale, eentonige feit dat die lewe net aangaan ten spyte van “lewensveranderende” gebeure, soos ’n trekker wat bo-oor jou ry en jou kruppel en stom laat. Bo en behalwe die eksistensiële tema is vriendskap, grootword en liefde ook belangrike temas wat in hierdie roman ondersoek word.
Wierenga is in 2006 vir hierdie roman bekroon met die Ferdinand Bordewijk Prijs en nou, in 2012, vertaal Zandra Bezuidenhout dit uit die oorspronklike Nederlands in Afrikaans.
Tussendeur die lawwe avonture van spioenasievliegtuie, warmgemaakte laaigrawe en liefdesdriehoeke wat van een bladsy na die volgende oorspoel, kry Wierenga dit steeds reg om mooi én sobere waarhede by monde van Joe Speedboot kwyt te raak wat my steeds, ná ek die laaste bladsy geblaai het, bybly en die roman beslis die lees werd maak: “Solank jy nie verdwaal nie, is jy nooit alleen nie” (317).
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter