Jo'burg se lughawe

  • 0

Sofia van Pletzen trek die tas van die bagasieband in die lughawe af. Die tas pas byna nie deur die skandeermasjien nie en die sekuriteitswag wat na die inhoud staar op die skerm lig sy wenkbroue. Hy laat haar begaan. Eindelik druk sy deur die swaar deure in die aankomssaal in.Sy sien die toeroperateurs en taxi-eienaars wat haar, die enigste toeris in sig, se geld wil hê. Die vorige keer dat sy in Lima was, was dit anders.

***

Dis Maandag en vandag begin my nuwe lewe. Klaar met die dinge van 'n kind, gaan ek huis koop. Niks fancy nie, maar 'n plekkie wat my eie kan wees. Drie of vier slaapkamers, dubbelmotorhuis en genoeg bome vir sy kinders om eendag in te klim.

Die foon lui.

“Sarel Pretorius?”

“Ja?”

“Ek bevestig net dat u môre om 15:00 moet inweeg vir vlug MH403 na Mumbai. Die bestuurder sal u om 14:00 tuis oplaai en die dokumente in 'n helder rooi koevert saambring.”

“Regso, dankie Tanya. En dankie vir jou moeite hoor!”

***

Met haar eerste besoek aan Suid-Amerika was hy en die tannie in die saal en sy het niks anders as hy raakgesien nie. Hulle het verby die taxi's by die lughawe gestap. Die eienaars vra buitensporige pryse vir toeriste, maar nie vir hulle pisanos nie. Buite die lughawe, het hy 'n prys met 'n taximan onderhandel, daarna het sy nader gekom. Die man was ontsteld omdat sy ook in die taxi klim en Engels praat.

Dié keer moet sy self 'n taxi kry. Destyds het hy die adres vir haar neergeskryf. Hy het 'n stuk papier van die kasregisterpapier afgeskeur en dit, met drie telefoonnommers neergeskryf. Net vir in geval. Nou mag sy nie meer bel nie. Nie dat hy so gesê het nie, maar hy is seker kwaad vir haar. Tog, liewer voor die troue as na die troue, maak Sofia haarself wys.

"Fokus, Sofia" berispe sy haarself.

"Cuanto cuesta?" vra sy die taximan en wys na die adres. As jy nie kan Spaans praat nie, moet jy maar 'n plan maak.

Eindelik stop die taxi voor die huisie. Sy sien die kaktus op die balkon waarvan sy laas 'n foto geneem het. Die deurtjie in die houtmotorhuis is toe. By die voordeur, klop sy bangerig. Ouma maak die deur oop. Sy kan byna nie meer loop nie. Ses jaar en die oom se dood het haar hard getref. En te oordeel aan haar trui wat oor haar lyf span, hou sy nog van KFC en Inca Kola.

"Hola!" sê sy so vriendelik as moontlik. "Eduardo, por forvor."

Sy roep die tannie, wat haar dadelik herken. Sy stap sonder 'n woord by die agterdeur uit.

***

Ek steek die rooi koevert in my rugsak en gaan drink koffie. Ek kon nog nooit verstaan waarom mens drie ure voor 'n vlug moet inweeg nie. Dis moeilik om nie aan die blonde kop te dink nie. Daar is soveel blondines op die lughawe met haar liggaamsbou. Toe sy die ring teruggegee het maande gelede het dit soos 'n begrafnis gevoel.

Met tyd kom raad, sê sy ma altyd.

***

Sofia staan in die voorkamer en wag. Sofia weet die tannie stap oor die sementvloer in die binnehof, deur die sitkamer en kombuis, by die trappe op na die deur en klop.

Die deur sal toe wees, want hy het sekerlik 'n amorcita daarbinne. Sofia wil nie daaraan dink nie. Sy kyk rond in die vertrek. Die sitkamerstel uit die jare vyftig is deurgesit. Die kleiner kussings op die banke help seker dat lywe nie te diep in die stoele sak nie. Die huis ruik na gekookte aartappels, hoewel dit nie lyk of hulle binnekort wil eet nie. Sofia sien die foto's van die ouma se eerste kleinkind teen die muur met kleeflint opgeplak.

Na, wat soos 'n ewigheid voel, kom hy aangestap. Niemand praat in die ongemaklike stilte nie. Sy gaan hurk, maak die tas oop, en begin uitpak. Trane drup op die vloer en op die tas en op die klere in die tas. Retro Nike tekkies, 'n Garmin GPS, die tafeldoek, klere, en die boeke pak sy op die vloer langs die tas uit. Sy haal die erdepot uit en sit dit versigtig op die vloer. Die klein rooi boksie hou sy in haar hand terwyl sy in een beweging stadig opstaan.

Sonder 'n woord.

Sy staan regop en sien 'n traan oor sy wang rol.

Sy maak die rooi boksie oop en haal die wit boksie binne uit. Sy maak die wit boksie oop. Sy haal die witgoud ring met die safier waarin twee diamante ook geset is, uit. Bewerig hou sy dit in haar hand en gebruik albei haar hande om sy regterhand nader te trek en sy vingers oop te maak sodat sy die ring op sy palm kan neersit. Sy vou weer sy vingers daarom.

"Losiendo," sê sy met 'n fluisterstem en tussen die snikke. “I am really, so sorry …”

Vir een oomblik ontmoet hulle oë. Haar bloedrooi hare kleef aan haar natgehuilde gesig. Dis sleg. Baie. Sonder woorde stap Eduardo na buite en wink vir 'n taxi. Hy praat 'n paar woorde, betaal. Hy laai haar leë tas in en hou die deur vir haar oop. Hulle oë ontmoet terwyl sy na die taxi stap. Hy trek Sofia nader en hou haar lyf vir 'n oomblik styf vas. Dit voel soos dekades gelede dat hulle so naby aan mekaar was.

Sy klim in die taxi en maak die deur toe. Die hoofstuk is afgesluit. Die lewe begin terugsypel na haar verstand.

***

Die rekening kom en ek teken S. Pretorius op die rekening en laat 'n groot fooitjie vir die Zoeloe-kelner. Ek tel die rugsak op, hou die rooi koevert vas en stap. Dis nog lank voor die vlug. Ingedagte moet ek vir 'n advertensiebord koes – en loop toe trompop teen 'n rooikop vas.

Die koevert val en die mooi rooikop se McDonalds skyfies is opeens orals gestrooi.

Ons twee lag hard.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top