Die Nobelprys vir Letterkunde is in 2003 aan J(ohn) M(ichael) Coetzee (gebore in 1940) toegeken. Hy het onder andere drie boeke gepubliseer wat eksplisiet outobiografies is. Maar die teks word elke keer in die derdepersoon aangebied. Om praktiese redes sal ek skryf asof die outeur en die hoofkarakter identies is, maar ’n mens moet nie alles in sy teks sonder meer as feitelik vertolk nie. Die outeur is as filter in beheer van sy vertelling.
JC Kannemeyer se biografie oor Coetzee verskyn eersdaags. Dalk is dit nou die aangewese tyd om die genoemde drie boeke agtereenvolgens onder die loep te neem. Wat dadelik opval, is dat die titels van die eerste twee (Boyhood en Youth) soortgelyk aan twee van Leo Tolstoy (1828-1910) se werke is. In 1852 is Tolstoy se Childhood gepubliseer, in 1854 Boyhood en in 1857 Youth.
Boyhood: Scenes from Provincial Life (London: Vintage, 1998, 166p) handel hoofsaaklik oor Coetzee se skooljare, eers op Worcester en daarna in Kaapstad. Worcester met sy wind, oranje straatligte en waterleivore word duidelik uitgebeeld. Ook die stowwerige, boomlose nuwe dorpsgebied, Reunion Park, waarin hy woon. Sy ma is die huishoudster. Sy pa is ’n boekhouer by die plaaslike vrugte-inmaakfabriek. Hy het ’n jonger broer maar oor hom word baie min vertel.
Coetzee ry skool toe met sy fiets wat "the most solid thing in his life" is (p 55). Hy is in die Engelse klas van die oorwegend Afrikaanse skool. Die kontras tussen sy Afrikaanse van en sy Engelse huistaal veroorsaak probleme vir hom. Hy is "English only in a way" (p 67). Sy isolasie word vererger deurdat die Coetzees Sappe tussen oorwegend Nattes is. "Instead of friends they have family" (p 78). "He comes from an unnatural and shameful family ... no one goes to church and shoes are worn every day" (p 6). In die skool gee hy noodgedwonge voor dat hy Rooms-Katoliek is. "He is angry with his mother for not having normal children and making them live a normal life ... he is angry with his mother for turning him into something unnatural" (p 8). "He has a sense that he is damaged" (p 9).
Sy pa het in die Tweede Wêreldoorlog diens gedoen. Hy respekteer nie sy pa nie: "The denies and detests his father" (p 79). Hy probeer om sy ma se liefde af te weer. "Her blinding, overwhelming, self-sacrificial love ... disturbs him" (p 47). Tog skryf hy: "He wants her always to be in the house, waiting for him when he comes home" (p 4). Moontlik die aangrypendste insident wat beskryf word, is toe die reisende sirkus sy jaarlikse besoek aan Worcester bring. Sy ma neem haar twee seuns na die sirkus, maar die kaartjies kos meer as wat sy verwag het. Sy koop dus net vir haar kinders kaartjies en wag buite op hulle totdat die vertoning verby is. "He cannot imagine her dying. She is the finest thing in his life" (p 35).
"He fears and loaths the hulking, barefoot Afrikaans boys in their tight short trousers" (p 69). ’n Ligpunt in sy lewe is dat hy boeke by die openbare biblioteek kan leen. "He knows that if he wants to be a great man he ought to be reading serious books" (p 103). Hy verkies hierdie soort selfopvoeding bo skoolbywoning. Dit bring mee dat hy die Russe bo die Amerikaners en die Britte bo die Boere verkies. Maar: "One thing about the English that disappoints him, that he will not imitate, is their contempt for Afrikaans" (p 125). Hy bly dikwels uit die skool maar slaag nogtans daarin om akademies baie goed te presteer.
Die laaste vier van die negentien hoofstukke handel oor sy verblyf in Kaapstad. Sy pa het besluit om weer as prokureur te praktiseer, in Goodwood. Hulle bly in Plumstead en hy woon die Rooms-Katolieke skool St Joseph by. "St Joseph’s ... is a kind of basket to catch boys who fit nowhere else" (p 148). Hier vind hy dit moeiliker om steeds die beste in sy klas te presteer.
Die resensent van The Times het die boek "the best description of a childhood I have ever read" genoem. Die aanduiding van die inhoud wat ek hier gee, laat sekerlik nie reg aan die werk geskied nie. Omdat ek met Worcester en Kaapstad uit daardie selfde tyd goed bekend is, het ek die boek meesleurend gevind. Soos Coetzee het ek skoolvakansies op ’n familieplaas in die Karoo deurgebring. Niemand wat daardie plekke uitsluitlik of hoofsaaklik in die nuwe Suid-Afrika leer ken het, kan werklik weet hoe anders dit toe was nie. Daar is rede vir nostalgie.
Daar is egter ook dinge wat ek anders as Coetzee ervaar het. "Best of all he loves the honey-tan legs of boys with blond hair. The most beautiful boys, he is surprised to find, are in the Afrikaans classes ... What is there that can be done with legs beyond devouring them with one’s eyes?" (p 56). "Among all these boys he is the only one in whom this dark erotic current runs" (p 57, ook p 60). In 1945 het sy pa kaal in ’n dam op die familieplaas geswem. Daaroor word geskryf: "He has seen his father’s penis only once" (p 121). Die plaas se naam is Voëlfontein.
Johannes Comestor


Kommentaar
Hello,