Jeugroman vol geheime soos ’n stel van ’n Hollywood-fliek: Fanie Viljoen resenseer Toko deur Leon de Villiers

  • 0

Toko

Leon de Villiers
Uitgewer: LAPA-Uitgewers
ISBN:
9780799338843
Formaat:
137 x 212mm; sagteband; 160 pp
Kategorie:
Tiener
Handelsprys:
R70

 

Gee ’n paar treë terug in tyd na ’n primitiewe era toe mense in klein gemeenskappe gebly en ’n bestaan gemaak het uit handvervaardigde produkte en landbou. Kyk om jou rond na die woud, die rivier met sy bote, die slaaphuise en vure. Maar kyk veral op na die berg, want dit is waar Toko begin en waar die spannende ontknoping op jou wag.

Om Leon de Villers se nuwe jeugverhaal te lees is soos om op ’n stel van ’n Hollywood-fliek te wees. Jy wil jou verkyk en verluister na alles om jou. Die skrywer het dit reggekry om ’n mistieke nuwe (of liewer ou) wêreld te skep. En hierdie wêreld beskilder hy met laag op laag kleur en klank totdat jy naderhand voel jy is saam met Toko binne-in die storie.

Toko begin sommer op ’n spannende noot. Die tienderjarige ou met die lang hare, grofgeweefde hemp en leersandale klim vreesbevange teen ’n berg uit om dit te gaan doen waarvoor niemand anders kans sien nie – nie na wat die vorige jaar met Bein, die wewer se seun, gebeur het nie. Dit was so erg dat Bein vir twee dae daarna nie kon praat nie.

Tromslae donder om Toko. In sy hand het hy ’n kruik met water. Hy moet dit gebruik om die jong leeus wat bo-op die berg saamgetrek het, terug te lok na die dorpie. Die jong leeus is as kinders uit die dorp gejaag sodat hulle deur die uitvoer van oerrituele op die berg mans kan word.

Maar daar is ’n kinkel in die storie. Op die berg is daar geen wette nie, en die leier van die jong leeus, Sjal, is aangesê om ’n vloek wat op die dorp rus, ongedaan te maak. Die vloek het alles te doen met Toko.

Veel meer gaan ek nie hieroor sê nie, maar die eerste deel van die boek sinspeel al klaar op dit wat aan die kom is. Die skrywer maak dan in die tweede deel ’n vinnige u-draai en vat ons terug na die gebeure wat aanleiding gee tot Toko se angs-nag op die berg. Dit is net hier waar lesers se tone gaan omkrul van plesier en nuuskierigheid, want wat gebeur dan nou daar op die berg?

Soos met Engemi Ferreira se boek Die jaar toe my ma begin sing het word Toko ook telkens vertel uit ’n ander karakter se perspektief. Daar is Sjal, Toko se halfbroer en vyand, Vasi, Toko se suster, Rako, Toko se neef, en natuurlik Toko self. Hierdie tegniek laat mens dink aan daardie ongelooflike kameraskote in The Matrix, waar jy koeëls deur die lug sien vlieg terwyl die kamera ’n netjies-berekende 360 grade-draai gooi. Jy sien al die gebeure net soveel duideliker terwyl jy jou asem ophou en wag vir die doodskoot. In Toko dra hierdie tegniek by tot die uitsonderlike spanningslyn en gaan dit jou aan die lees hou.

Die karakters se dialoog dra by tot hulle karakterisering. Die afskuwelike Sjal sê byvoorbeeld op ’n stadium vir Toko: “Pis soos ’n brandsiek brak op jouself! Walglike ding!” Maar daardeur vertel hy ons eintlik meer wat binne-in homself aan die gang is. As die hoofman, Jeroba, praat, is dit weer meer geanimeerd en statusbewus. “Die toekoms wag vir ons my seun. Vir my en jou en ons nageslag.”

Simbole speel ’n groot rol in die verhaal. Toko se naam beteken "klei", maar soos die jong leeus vasbeslote is om mans te word, wil Toko ook ontsnap van hierdie naam en streef hy na iets hoër.

Ander herhalende simbole is die houtsnywerk wat opduik in gekerfde fluite, maar veral in die beeltenis van mense. Dit is juis hierdie beeltenisse wat vir sommige ’n bron van besondere skoonheid is, maar vir ander ’n vloek.

Die simbool wat egter die meeste voorkom, is dié van die luiperd. Sjal se volwasse naam, Sjalon, beteken "luiperd". Om Rako se nek hang die massiewe slagtand van ’n luiperd wat hy by sy oupa ontvang het die dag toe hy gesterf het. Rako sit ook op ’n stadium in ’n boom met sy voet wat soos ’n luiperdstert heen en weer swaai. Laastens is daar die diaboliese plan van die jong leeus om ’n luiperd nader te lok met bobbejaanbloed.

Uiteindelik is dit die karakters se geheime wat die verhaal breekpunt laat bereik. Purallo sê vir Toko op bl 115: “Ek hoop daar kom gou ’n tyd in jou lewe wat jy nie alles hoef weg te steek nie.” As Toko kort daarna met Amni, praat sê sy vir hom: “Ek dog jy hou van geheime.” Hy antwoord: “Daar is geheime en geheime.” Dit is waar. Maar presies wat daardie geheime is, sal jy self moet lees.

Toko lees maklik en die vars, jeugdige aanslag sal groot aanklank vind by tieners en jong volwassenes. Ek kan net afsluit met verwysing na die karakters se gunsteling-uitroep: Heilige Ibis, Leon de Villiers kan skryf!

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top