Boer in Beton het vir ons onlangs, in ’n aantal briewe, vertel van sy militêre ondervindings in Angola. Dit was vir my ongelooflik om sy opofferings saam met hom te beleef. Die destydse verset van die ou Suid-Afrika het meegebring dat terroriste nie sommer vir Namibië en Suid-Afrika kon gryp nie en dat daar grondwette en bestendigheid vir die twee lande geskep is, wat ons in staat stel om steeds op ’n min of meer aanvaarbare basis te funksioneer. Hopelik sal ons in die toekoms nog gereeld van Boer in Beton verneem (ek volg hom reeds jare) en miskien weer twee keer per week (?) Oester se verhale hoor (ja, Oester dit sal lekker wees om weer baie van jou te hoor!), want dit sal die webwerf laat floreer.
Saterdag is Jeugdag herdenk. Vir baie lesers is 37 jaar gelede verder as wat hulle geheue strek. Dit is nie my bedoeling om a la Hermann Gilliomee oor die saak te skryf nie - ek is nie daartoe in staat nie - maar eerder informeel, want ek was toe al ’n groot man. As jy nie in die Kaap gebore is nie sal jy nie die uitdrukking "’n groot man" of " ’n groot vrou" verstaan nie. Dit word gebruik om aan te dui dat iemand nie meer ’n jong man of ’n jong vrou is nie. Eintlik beteken dit maar net dat jy minstens 10 jaar uit die skool is of dalk selfs 20 jaar en reeds in ’n beroep gevestig is. Om by die punt te kom in 1976 was ek al ’n groot man en ek wil herinnerings van destyds met julle deel.
Dit is nie my gewoonte om onwelriekende woorde rond te strooi nie maar dit moet gesê word dat dr Aap Treurnich ’n drol was. A P Treurnich was ’n predikant op Stellenbosch met politieke ambisies. Hy het die aandag getrek deur konserwatiewe godsdienstige beskouings met politiek te meng. Op hierdie wyse het hy redakteur van Die Kerkbode geword. Dat hy die kerk se lyfblad skade aangedoen het, het hom nie gepla nie, want hy het die politieke aandag gekry waarna hy gesoek het. Hy het gevolglik ’n volksraadlid geword en was gewild in regse kringe. Die eerste minister, John Vorster, het hom mettertyd adjunk-minister gemaak - volgens sekere waarnemers was dit om beter kontrole oor Treurnich te hou, maar die doel was moontlik ook om regse party ondersteuners gelukkig te maak. As ’n mens terugdink aan die tragiese gebeure van 16 Junie 1976 is dit noodwendig dat vingers na Treurnich gewys word. Vorster was egter net so skuldig want hy het Treurnich as minister van Bantoe Onderwys aangestel en hom sonder kontrole laat begaan.
Treurnich het besluit dat swart kinders in Afrikaans onderrig moet word. Die helfte van skoolvakke kan in Engels geneem word maar die res in Afrikaans. Die feit dat daar hopeloos te min onderwysers was wat in staat is om in Afrikaans onderrig te gee, het hy hom nie aan gesteur nie. Vir die ouers en die kinders was hulle skoolopleiding kern belangrik en Treurnich se onverbiddelike hardkoppigheid het die kruitvat laat ontplof. Destyds het ek die opbou van die situasie deur die koerante gevolg en was baie bekommerd - ek het egter nie geprotesteer nie. Dat daar reaksie sou wees was ’n feit, maar die omvang daarvan is nie voorsien nie.
Daar is aspekte van die verhaal wat in die vergetelheid verdwyn het, soos die Joodse nagraadse student wat as navorser in die omgewing gewerk het. Hy was hierdie kinders simpatiek gesind, maar omdat hy wit was is hy wreedaardig vermoor.
Wat tans hoop gee is dat mense in die burgerlike samelewing nie meer stilsit nie, maar hulle stem laat hoor. Cosatu weet nou dat dit nie net hulle is wat die strate kan invaar nie, maar dat die DA dit ook doen. Verstandige en verantwoordelike protes maak die wêreld vir die ANC al hoe nouer en bring mee dat hulle versigtiger moet trap. Dit gee hoop vir die toekoms. Naas die politiek behoort ons almal die regte burgerlike aksies sterk te ondersteun.
George

