Jerusalem

  • 0

in ’n niemandsland tussen laaste lig en aand
in sonverworpe skaduwees
in huiwerende skimme
in geparste tydsbeslag
beier voorverledes en tydsbeslaan die uur

’n oogwink smee tyd weereens in
gebede en propagandaprewel
in ’n koepelson word die tempelhoogte vergoud

’n aandwind kolk
tussen buurtes aan mekaar verwand
tussen land en waterkant

olywe en palms en eike ets die horisonlyn
bok-bok en herder leun in laasteligskimme
die bepaalde tydslot in

die aandwind draal tydsaam
die herder hurk op die hoogte
die goue koepel van ’n knipoogson
sluit ’n skrefie in die sienersoog

’n reënverbeel biggel in ’n huiwerwind

sononder vonkslag in ’n stapel klippe
die bakhandkraal en windskerm vir sy vuur
bidbessiekrale in sy hande
soek die kulgebed

soek die swerwers in die nuwe ghetto’s

die aandwind suig
die nag dieper die vallei in

smee ’n muur van ouds

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top