Die idee van ’n nuwe, private en selfs "gratis" Afrikaanse universiteit is ’n hele aantal jare oud. Die skrywer Piet Haasbroek het voorkeur aan ’n nuwe Afrikaanse universiteit bo die hedendaagse meertalige Universiteit Stellenbosch (US) gegee, met as alternatief dat studente eerder aan beter Engelstalige universiteite in die buiteland of aan Nederlandse universiteite studeer (SêNet, 5.10.2009). Om finansiële redes is buitelandse studie vir die meeste Suid-Afrikaners egter nie haalbaar nie. Amerika is bekend daarvoor dat hy sowel private as staatsuniversiteite het, maar die wesenlike verskil is bloot dat die sogenaamde private universiteite in mindere mate van owerheidsfinansiering afhanklik is; sonder daardie subsidie sal ook hulle nie kan voortbestaan nie.
Christo van der Rheede het by talle geleenthede ’n nuwe Afrikaanse universiteit bepleit. Sy motivering kan seker altruïsties genoem word. Sy kinders ontvang hulle skoolonderrig in Engels, gevolglik sal net ander mense se kinders van so ’n universiteit gebruik maak. Hy verkies dat die onderrig vir die studente "gratis" moet wees (soos Karl Marx wou hê). Van der Rheede dink kennelik aan benadeeldes wat vergoed moet word omdat hulle glo so baie gely het. Cida, ’n sogenaamde gratis universiteit aan die Rand, verkies om net swartes as studente te hê, maar laat bruines en Asiate in uitsonderlike gevalle toe. Wittes word uitgesluit, maar teen hierdie vorm van nie-inklusiwiteit het Van der Rheede (sover ek weet) nog nooit beswaar geopper nie (SêNet, 19.12.2009).
Die frase "Vrye Afrikaanse Universiteit" (VAU) is deur Van der Rheede gebruik. In ’n verdere bydrae het ek al drie elemente in die VAU-benaming bevraagteken (SêNet, 30.04.2010). Hierop het Van der Rheede gereageer, maar oor sy VAU geswyg en net oor die Stigting vir die Bemagtiging deur Afrikaans geskryf (SêNet, 24.05.2010). Ek het vervolgens daarop gewys dat ’n universiteit veronderstel is om ideologies neutraal te wees. Dit is dus buite orde dat ’n universiteit amptelik bv demokrasie bevorder, soos Van der Rheede en Russel Botman wil hê. As die VAU ’n afstandsuniversiteit gaan wees, moet sy bestaan naas Unisa geregverdig kan word. Ek het ook daarop aangedring dat daar nie op grond van etnisiteit of geslag teen die studente of personeel gediskrimineer word nie. Die grondslag van die VAU moet anders as dié van Cida wees (SêNet, 25.05.2010). Van der Rheede het my nie geantwoord nie.
Politiek-korrek het Gerrit Brand op Dinknet gedink (as dit die regte woord is) dat die voorgestelde nuwe universiteit viertalig moet wees (SêNet, 19.12.2009), want as iets vir Afrikaans gedoen word, is daar mos die neiging om dit ook vir "ons ander inheemse tale" te doen. Maar ’n tweetalige universiteit is al hoogs onprakties en koste-ondoeltreffend. Hoeveel te meer sal dit nie geld vir ’n viertalige universiteit nie.
Jason Lloyd het pas oor "’n nuwe Afrikaanse universiteit in die Suide" geskryf (Die Burger, 27.12.2011, p 9). Volgens hom is die tradisioneel Afrikaanse US dermate met "vrot politieke bagasie" naamlik apartheid, besmet dat dit in ’n eentalige Engelse universiteit getransformeer moet word. Sy "praktiese" voorstel is ’n nuwe Afrikaanse universiteit. Hy bepleit "’n nierassige en inklusiewe Afrikaanse universiteit iewers in die Wes-Kaap", maar een wat "hoofsaaklik deur bruin of swart Afrikaanses bestuur word". Van meet af beperk hy dus sy nierassigheid en inklusiwiteit. Wittes moet nie die topbestuursposte beklee nie. Hy kan gerus vir ons vertel watter bruines of swartes hy vir die topbestuursposte in gedagte het. Hoekom in die Wes-Kaap? As hy wittes in ag neem, kan die universiteit net sowel in een van in die ander provinsies gesetel wees. Maar hy dink bruingesentreerd, gevolglik moet die universiteit in die Wes-Kaap wees. Hy noem dit "’n nuwe, onselfsugtige benadering met goeie bedoelings wat alle belanghebbendes akkommodeer". (Terloops, hy verkeer verkeerdelik onder die indruk dat Jonathan Jansen van huis uit Engelssprekend is, terwyl Engels Jansen se "eerste taal" geword het omdat hy ses jaar lank ’n student in Amerika was; en natuurlik ook en veral om politieke redes.)
Lloyd stel voor dat daar met die regering saamgewerk word deur die US heeltemal te verengels en dat die kamerade dan in ruil ’n nuwe Afrikaanse universiteit toelaat. Maar as Afrikaans as onderrigmedium (anders as Engels) volgens die ANC ’n uitsluitingsmeganisme is, waarom sal hy nie dieselfde drogredenasie op die voorgestelde universiteit toepas nie? As regeringsamptenaar reken Lloyd blykbaar dat die ANC-regering iets is waarmee in redelikheid onderhandel kan word; dat die ANC nie ideologie-gepreokkupeerd is nie. Christo Viljoen is iemand wat gesaghebbend en sinvol oor die US skryf. Die gevolgtrekking waartoe hy gekom het, is: "Lloyd se ondeurdagte voorstel regverdig nie ernstige oorweging nie en maak geen sinvolle bydrae nie" (Die Burger, 30.12.2011, p 14).
Hoe aanstootlik Lloyd se voorstel vir wittes (veral Afrikaners) is, sal deur diegene verstaan word wat die geskiedenis ken. Daar word telkens beweer dat HF Verwoerd alle nie-wittes tot houthakkers en waterdraers verdoem het. In werklikheid was die ideaal dat enigeen tot op die hoogste vlak binne sy etniese verband kon ontwikkel. Daar is teen groot koste nuwe universiteite soos Durban-Westville (vir Indiërs), Wes-Kaapland (vir bruines), Noorde en Zoeloeland (vir swartes) gestig en Fort Hare (vir swartes) is oorgeneem. Later het Medunsa, Venda, Vista, ens, gevolg. Hierteenoor was daar vyf Afrikaanse universiteite vir wittes: Oranje-Vrystaat, Potchefstroom, Pretoria, Randse Afrikaanse Universiteit en Stellenbosch. Daar was drie tweetalige universiteite: Port Elizabeth, Unisa en Wes-Kaapland.
Al die genoemde universiteite, asook die Engelse universiteite (Kaapstad, Natal, Rhodes, Wits) is deur wittes tot stand gebring en onder hulle leiding uitgebou. Die finansiering het feitlik uitsluitlik van wittes gekom. ’n Mens moet dus ’n baie dik vel hê as jy in die nuwe Suid-Afrika om hoofsaaklik politieke redes as rektor van ’n tradisioneel Afrikaanse universiteit aangestel word en jy jou dan as buitestander aanmatig deur aktivisties te verklaar dat jy daardie universiteit so gou moontlik gaan transformeer, naamlik deur Afrikaans af te skaal en op veral nie-akademiese gronde die studentekorps en personeel so gou moontlik gaan laat verswart. Maar dit is wat in die meeste gevalle met die Afrikaanse universiteite gebeur het. Vir die ANC-regering is dit steeds nie goed genoeg nie. Die minister van hoër onderwys, Blade Nzimande, het bv kennis gegee dat hy groter regeringsverteenwoordiging in die raad van die US wil hê.
Lloyd kom met die voorstel dat Afrikaners nog ’n offer moet bring; dat hulle moet toelaat dat die US ’n eentalige Engelse universiteit word. Dit getuig myns insiens van die uiterste ongevoeligheid jeens Afrikaners. Dit behoort duidelik te wees dat geen werklik nierassige en uitsluitlik Afrikaanse universiteit deur die ANC-regering geduld sal word nie. As die voorgestelde universiteit werklik nierassig en uitsluitlik Afrikaans sou wees en suiwer akademiese norme by studente-toelating en by die aanstelling en bevordering van personeel toegepas sou word (dus anders as by die ander plaaslike universiteite) sou dit akademies voortreflik wees. Maar dit sal nie geduld word nie. Die bevoordeling van swartes het ’n mensereg geword. Daar sal voortdurend besware oor toelatings, beurstoekennings, aanstellings, bevorderings, ens, wees. Insidente sal geskep en gewelddadige "oplossings" sal gesoek word.
Nadat Afrikaners vyf voortreflike Afrikaanse universiteite uitgebou en talle ander tot stand gebring het, is dit gewoon vermetel om van hulle te verwag om nog een te stig. Waarom? Sodat die nuwe universiteit, nadat die harde werk gedoen is, ook deur swartes oorgeneem kan word? Sodat swartes weer kan maai waar hulle nie gesaai het nie? Vir regte Afrikaners behoort dit duidelik te wees dat die tradisionele Afrikaanse universiteite veel eerder reggetrek moet word. Taalgewys moet hulle gedetransformeer word. Hulle moet ook grondig geherakademiseer word.
Lloyd se uitgangspunt is foutief. Die eens Afrikaanse US kan nie aan apartheid gelykgestel word nie. Aan die US is daar voorheen baie vir Afrikaans, Afrikaners, die Suid-Afrikaanse samelewing in die algemeen en bowenal vir die akademie gedoen. Apartheid was ook nie net sleg nie. Dink maar aan al die genoemde universiteite wat spesifiek ten bate van swartes bedryf is. Die tradisionele Afrikaanse US is nie iets wat ideologie-gedrewe ligtelik (verder) vernietig moet word nie.
Johannes Comestor

