Jan Rap se vrees vir die Engelse gevaar

  • 1

Beste Jan Rap

As antwoord op jou vorige brief 

Daar is verskeie mites, legendes en stories oor hoe die mens ontstaan het, en een daarvan is dat ons voorvaders van buitensteruimte gekom het, soos jy glo. ’n Ander storie beweer dat die eerste mens eensklaps van ’n hopie grond gemaak is en daarna ’n vrou vir hom van sy ribbebeen. Geeneen van hierdie stories is toetsbaar nie, ’n mens moet dit maar net glo. Slegs die evolusieteorie oor die ontstaan van die mens is toetsbaar, en bewysbaar; dus sal ek my maar by laasgenoemde skaar. Jy kan maar glo wat jy wil.

Wat egter waar is, is dat hierdie mens ’n inherente taalvermoë het. Hy kan klanke maak met sy spraakorgane om te kommunikeer. Wat meer is, hierdie spraakstelsel van die mens is goed georganiseer deur middel van ’n grammatikale stelsel. Diere het nie so ’n ingewikkelde kommunikasiestelsel nie, maar sou die mens van die aardbol af verdwyn, voorspel ek dat daar wel ’n spesie te voorskyn sal kom om hierdie niche te vul.

Dit is ook so dat moderne tale eenvoudiger is as ouer tale hoofsaaklik as gevolg van defleksie. Dis nou maar hoe ’n taal werk; hy is suinig, ekonomies, en maak gebruik slegs van dit wat vir hom nuttig en bruikbaar is. ’n Ouer taal sal nog bv geslag gebruik vir  ’n grammatiese klassifikasie. So gebeur dit dat ’n tafel in Duits as manlik geklassifiseer word. In ’n moderne taal, soos Afrikaans, het hierdie klassifikasie verdwyn, want dis nutteloos. Moderne tale se grammatika is eenvoudiger en bruikbaarder, maar nou sien jy in die vereenvoudiging van die taal ’n agteruitgang, ’n verwaarlosing.

Evolusie beteken in die eerste plek verandering om aan te pas. Hierdie verandering beteken nie dat ’n organisme noodwendig ingewikkelder moet raak om te kan voortbestaan nie. Waarom is vier naamvalle in soos in Duits en sewe in Latyn nodig as bloot ’n eenvoudige posisie van die s nw in ’n sin dieselfde resultaat het, soos in Afrikaans? Andersins is Afrikaans net so ’n komplekse taal as enige van sy voorouers.

’n Taal se grammatika sal vereenvoudig of ingewikkelder word na gelang van omstandighede. Pidgins is  ’n goeie voorbeeld daarvan. As werkers wat verskillende tale praat saam ’n taak moet vervul, en hulle het nie tyd om die ander se taal te leer nie,  sal hulle spoedig ’n makeshift taal ontwikkel, wat almal kan verstaan, bekend as Pidgins. Dit bestaan dan hoofsaaklik uit stringe woorde van die verskillende tale met min grammatikale verband. Soms, kom hierdie stringe woorde uiteindelik in grammatikale verband, (jy kan maar sê dit word ingewikkelder) en is die begin van ’n nuwe taal daar, soos in Pidgin English. Die linguis David Bickerton het bevind dat as kinders blootgestel word aan Pidgins, kan dit ’n nuwe taal word, want hulle sal hulle inherente taalvaardigheid toepas en woorde binne grammatikale verband bring. Hierdie taal kan dan hulle moedertaal word, en dit is juis hoe Kreools ontstaan het.

In Suid-Afrika, waar Engels en Afrikaans naas mekaar bestaan kan dit nie anders as dat die een ’n invloed op die ander het nie. Vir my is dit onlogies om te beweer dat die een die ander se kommunikasievermoë gaan verswak; dis mos onmoontlik. Ek het bv hierbo die woord “makeshift” gebruik, omdat ek die woord ken, en omdat dit vir my die betekenis van “tydelik totdat iets beters hom voordoen” inhou. Hier span ek mos Engels se sterk uitdrukkingsvermoë in om ’n tekortkoming in Afrikaans aan te vul. En moenie my vertel ek het hierdie woord sommer “lukraak” gegryp nie.

Na al my verduideliking verstaan jy nog nie die woord “verengels” nie. Jy kan maar nie begryp dat die voorvoegsel die betekenis van “word” het nie. Afrikaans kan in der ewigheid nooit Queen’s English word nie. Ek het presies dieselfde probleem met ons dominee. Vir hom beteken die evolusieteorie dat mense van ape afstam. Sy gesegde is: “As ’n olifant eendag ’n muis baar, dan sal ek die evolusieteorie glo.”  As jy dan glo dat Afrikaans besig is om Engels te word, dan is dit maar tot daarnatoe.

Jou 50% Engels in Elandsrug maak nie sin nie. Was jy al in Elandsrug en het jy sommer iemand daar voorgekeer en hom begin vertel van jou toekomsplanne? Natuurlik sou jy dan met ’n kommunikasieprobleem gesukkel het, veral as jy “suiwer Afrikaans” gepraat het. Sou jy nie ’n dringender gesprek met hom gevoer het nie? Sou jy nie liewer vir hom wou vra waar daar ’n keffie is waar jy vis en tjips kan koop en jou dors kan les nie? Watter rigting is  Mosselbaai? Weet jy hoe praat die mense op Elandsrug? “Nei, Maaste, hier’s  g’n keffie op Elandsrug  ‘ie! Die Maaste en die Mêrrem sal maar van my appeltjies moet koep. Kyk, Maaste, my tentjie is vol heppiness gepail. Die Bay? het die Maaste dan nie ’n GeePeeEs ‘ie?”

Ek is bewus daarvan dat Herman met krakies “slordige Afrikaans” bedoel het. Ek het dit as analogie gebruik. Laat ek dit uitspel: soos wat daar gekla word oor krakies in Afrikaans, wat slordige taal beteken, so het die taalkundiges gekla oor die swak Nederlands met die ontstaan van Afrikaans.

O, ek verstaan nou wat jy bedoel. As Afrikaans enige woord uit enige taal gebruik is dit in die haak, solank die woord net nie uit Engels kom nie. Engelse woorde beteken slordige taal.

En jou enigste rede is dat Engels ’n groot gevaar inhou. Kan enig iemand tog help dat ek dié “logika” kan verstaan?

Groete,

Angus

  • 1

Kommentaar

  • Pieter Redelinghuys

    Beste Angus,

    Dankie vir 'n besondere interessante artikel. Die volgende sin van jou slaan miskien die spyker finaal op die kop: As Afrikaans enige woord uit enige taal gebruik is dit in die haak, solank die woord net nie uit Engels kom nie.

    Vyftig jaar gelede op skool het my Afrikaans-onderwyser gekla oor die betreurenswaardige gebruik om woorde uit Engels te leen omdat daar ooreenkomstig van "die Dietse tale" (Nederlands en Duits) woorde geleen kon word om 'n gebrek aan te vul.

    My Ma het natuurlik dikwels Engelse woorde in haar kommunikasie  gebruik omdat sy nie onmiddellik op die Afrikaanse term kon kom nie ( sy het in n tweetalige huisgesin groot geword),  maar ek dink dat daar ook 'n element van snobisme betrokke was. Engels was die taal van middel en hoër-middelklas, professionele verstedelike mense, die taal van die ekonomie, en die eerste Universiteite in die land (Kaapstad). Afrikaans was destyds die taal van die werkers en die slagoffers van die depressie. Later die taal van die Nasionaliste en Apartheidstaal.

    Beste groete,

    Pieter Redelinghuys

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top