Vir Angus

  • 1

Hallo Angus

Ek verwys na jou brief 'Dis goed om oor taal te dink' van gister.

Dit is inderdaad goed om oor taal te dink.  Dit is juis oor die dink aan taal dat ek dink ons is hier afgelaai deur ruimteskepe eerder as evoleer het saam met die primate van een of ander oerprimaat af.

As jy nou kyk na taal dan is daar geen sweempie daarvan onder enige van die diersoorte nie.  Daar is wel kommunikasie –  blaf, grom, brul, blêr of wat ookal vir dreig, waarsku, roep ens – maar hulle sit nooit en filosofeer of grappies vertel nie.  Ook, soos moderne tale ontstaan of ou tale vermoderniseer word die grammatika eenvoudiger.  Dit is al of taal op 'n stadium aan ons gegee is en, soos die tyd verloop, word dit verwaarloos.

Dus, as taal soos evoleer en ontwikkel soos die organisme sal die taal ingewikkelder word, meet grammatika bykry, soos die tyd verloop maar dit is net mooi andersom.  By Engels is daar hier en daar nog 'n verbuiging wat aan die datief herinner maar, soos in Afrikaans, is omtrent al die naamvalle weg. 

As taal byvoorbeeld soos die organisme moes evoleer sou 'n pidgin uiteindelik, soos Latyn, 'n ingewikkelde grammatika kry.  'n Pidgin kan wel effens formaliseer en 'n kreool word maar die grammatika word nie ingewikkelder nie.

Tot sover dan die gedink oor taal anders gaan ek heelnag voort.

Wat die lukrake gebruik van Engelse woorde in Afrikaans betref:  Afrikaanssprekendes, weens die verpligte Engels, verloor hulle woordeskat en gryp dan die Engelse woord.  Ek het al gehoor waar 'n ou praat van 'design' maar later in die gesprek onthou hy die Afrikaanse woord is 'ontwerp' wat hy dan gebruik en later gebruik hy weer 'design'.  Dis maar een voorbeeld, daar is talle. 

Daar is selfs Engelssprekendes wat Afrikaanse woorde op hierdie manier gebruik maar dit is by verre nie so erg as wat die geval met Afrikaanssprekers is nie.  Die feit is dat, soos die spreker se sinne verskerp of kwyn in 'n gesprek gebruik hy op 'n lukrake wyse die woorde wat by hom opkom.  Party sprekers word heeltemal van hul sinne beroof en slaan dan sommer heeltemal Engels toe oor vir 'n sin of drie, soms 'n hele paragraaf, veral die Kaapse mense.

Op die manier verengels die taal dan; 'n sin wat 50% Engelse woorde in het is amper halfpad Engels (net die sintaks wys dis Afrikaans en partykeer is dit andersom, die woorde is Afrikaans maar die sintaks is Engels).

Jy is dus die ou wat nie verstaan wat verengels beteken nie.  Die voorbeelde wat jy uit die HAT aanhaal, naam dat die kind verengels in die Engelse skool, of dat ons emigrante vinnig in Londen verengels, beteken maar net dat hulle van taal verander het.  As jy tussen die Apache's gaan bly word jy nie rooi nie; jy vergeet net jou taal en praat Apache. 

So, in 'n Engelse skool of in Londen verengels jy maar dit beteken bloot dat jy tale geruil het onder Engelse invloed.  In Suid-Afrika, onder die alomteenwoordige Engels en die gewettigde afdruk van Engels in ons kele verengels die mense wat beteken dat hulle taal besig is om te verengels. 

As jy so 'n 50% Engels nog steeds Afrikaans wil noem is dit jou saak maar ek kan jou waarborg 'n ou van, sê Elandsrug, wat geen Engels ken nie, gaan dit nie verstaan nie.  As hy wil weet wat die ou bedoel wat sê "usually as ek vir my goals geset het achieve ek hulle gewoonlik" sal hy in 'n tweetalige woordeboek moet gaan opsoek wat 'usually', 'set', 'goals' en 'achieve' beteken.  Dit is gewoon nie Afrikaans nie; dis verengelsde Afrikaans.

Die krakies waarvan Hermien Toerien praat is nie krakies in Hollands wat uiteindelik tot Afrikaans gelei het nie.  Daardie krakies verswak die struktuur en gaan uiteindelik die wal laat breek.  Die slordige gebruik van Afrikaans, met ander woorde die lukrake ingooi van Engelse woorde, is die krakies.  Die ingooi van sê Zoeloe-, Khoi- of Venda- of Eskimowoorde is in die haak want daar is geen gevaar dat hierdie tale Afrikaans gaan oorneem nie.  Engels, egter, weens sy alomteenwoordigheid, is 'n gevaar; dit het reeds my Ierse en Skotse voorvaders se tale oorgeneem.

Net een en ander oor Perdebytjie se opmerking onderaan jou brief.  'Steak', byvoorbeeld, kom van Nederlandse 'stuk' (kort vir 'biefstuk'?) af maar nou klink biefstuk kamtig snaaks en ons gebruik ook 'steak'.  Ek dink daar is talle woorde wat die Engelse vervorm het om by die Engelse sleutel te pas en wat ons nou gebruik omdat ons dink ons het nie 'n Afrikaanse woord daarvoor nie (daar is selfs 'n moontlikheid dat van daardie woorde van Afrikaans afkomstig is).

Groetnis

Jan Rap

  • 1

Kommentaar

  • Beste Jan,

    Dankie vir jou interessante brief. Ek antwoord so gou ek kan. Eintlik brand ek om jou te antwoord.
    Groete,
    Angus
  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top