Vir Jan; dis goed om oor taal te dink

  • 1

Beste Jan Rap,

Nee, jy skuld my niks vir Poerr nie; hoop net jy het lekker gelees. Ek is seker ek sal jou boek ook geniet, mits jy dit nie as betaling vir skuld aanbied nie.

Dis goed as ’n mens oor taal dink, soos ons hier probeer doen. Ek beskryf hoofsaaklik wat ek sien gebeur, en probeer dit verklaar; nie dat ek altyd daarvan hou van wat ek sien nie, of daarmee saamstem nie.

Om terug te kom tot ons gesprek; ek het dit teen jou verkeerdelike verstaan van “lukraak” wat eintlik vir my eienaardig is, want jy het al voorheen te kenne gegee dat jy ’n fundi op die gebied van die Wiskunde is. Volgens die HAT:

luk’raak, b.nw. en bw. Sommer wildweg; wat van die toeval afhang: ’n Lukrake gissing. Lukraak antwoord. Nommers lukraak uit ’n hoed trek by ’n loting.

Êrens het ek gelees dat dit onmoontlik is om te sê hoeveel woorde die Engelse taal bevat, aangesien dit daagliks aangroei (natuurlik om aan te pas). Die Oxford-woordeboek bevat glo ongeveer 175,000 woordinskrywings, met 50,000 obsoleet.

Indien al die Engelse woorde dus in ’n hoed gegooi word, kan jy nogal seker daarvan wees dat die woorde “stage” en “studio” nie uitgetrek sal word wanneer die spreker “verhoog” en “ateljee” bedoel nie. “Stage” en “studio” het besondere betekenis en daarom word juis hulle gebruik. So ook met jou ander voorbeelde wat jy as “lukraak ingegooi” beskryf. Hierdie woorde word gebruik as gevolg van hulle unieke betekenis. Die keuse van woorde kan dus beslis nie lukraak wees nie.

As ’n Engelse woord in Afrikaans gebruik word, is dit beslis nie sommer lukraak uit die Engelse woordeskathoed gepluk nie. Hierby kan ’n mens ook sê dat die gekose woord bydra tot makliker kommunikasie, en dít is tog die primêre funksie van taal. As nuwe woorde uit ander tale bydra tot beter kommunikasie, kan dit onmoontlik agteruitgang van die taal beteken, soos jy beweer. (Kan jy enige Afrikaanse woord noem wat nie uit woordmateriaal van ander tale afkomstig is nie? Miskien Poerr, kadwarra! en woera-warra, en miskien ook mamparra, en dalk kan jy nog so ’n paar “suiwer Afrikaanse” woorde byvoeg?)

Ek het voorheen ook vir jou gesê Diglossie (Eng. Diglossia) kom natuurlik voor by alle tale. ’n Onderwyser of lektor sal bv in ’n formele les oor elektrisiteit moet praat van ’n muurprop. As hy bv prekêr op ’n tamatiekissie in sy motorhuis staan en werk, sal hy sommer vir sy seun  vra om vir hom  die plug aan te gee.

Dan verstaan jy ook nie die woord “verengels” nie, daarom moet ek weer uit HAT aanhaal:

ver?en’gels, ww. (__). Engels maak of word; Engelse maniere, ens (laat) aanneem: ’n Engelse skool kan ’n kind gou verengels. Hulle het vinnig verengels in Londen. ’n Verengelste Afrikaner.

Die voorvoegsel ver- het in hierdie geval die betekenis van “maak, of word”. So ook met die woorde versteen (word steen, klip), verkalk, ens.  ’n Gevestigde taal soos Afrikaans kan onmoontlik nie in Engels verander nie, al maak dit gebruik van Engelse woorde. Afrikaans met Engelse woorde is nie Engels nie, en kan nooit Engels word nie. Wat kan gebeur is dat ’n nuwe taal kan ontstaan uit die vermenging. (Afrikaans sal nog altyd Afrikaans bly, en Engels, Engels.) Ingewikkelde stelsels regdeur die wêreld het nog altyd ontstaan as gevolg van vermenging; soos in Geologie, die weer, lig, klank,  kookkuns. Sonder vermenging sou evolusie nooit plaasgevind het nie, en sou ek en jy nie oor taal kon besin het nie.   

Dis hoofsaaklik mense wat kan verengels, maar woorde kan ook verengels of verafrikaans. As ’n Afrikaanse woord soos “braaivleis” of “veld” binne  Engelse sinsverband gebruik word, het dit verengels, met ander woorde, dit het ’n Engelse woord geword. As ’n Engelse woord in ’n Afrikaanse sin voorkom, het dit ’n Afrikaanse woord geword, maw dit het verafrikaans. Die Engelse woord import verafrikaans as iemand sê hy het die goedere van Amerika geïmporteer. Dan ook: geïmporteerde goedere. So ’n woord kry natuurlik weerstand van ’n Afrikaanse woord soos ingevoer, maar weldra word dit al hoe meer gebruik, en spoedig in woordeboeke opgeneem.

Die Kaapses, soos jy hulle noem, praat Afrikaans waarin daar Engelse woorde gebruik word, wat nou Afrikaans geword het. As hulle praat en dit klink baie na Engels, wil dit nie sê hulle praat Engels nie. Vir ’n Fransman klink die “suiwer Afrikaans” wat gepraat word, baie na Engels. Dit wil mos nie sê ons praat Engels as ons Afrikaans praat nie?

Ek ken Fanagalo glad nie, en moet maar kyk wat in WAT en HAT staan. Dit is moontlik dat dit grammaties Engels en Afrikaans is, want albei is Germaanse tale. Dan kán ’n mens sê dat die Nguni-woorde daarin verafrikaanste of verengelste Zulu- of Xhosawoorde is.

Ek stel geweldig baie belang in die grammatika van taal, omdat dit parallel loop met die genetiese kombinasie van die lewende organisme.  Die tegniese taal van die Genetika, die DNS-sekwensies, bevat ook “letters” en “punktuasie”, dit kan ook “vertaal” word, “betekenisloos” wees, daarin kan ook “sinonimie” gesien word, dit kan bv ook “palindromies”, en in “libraries” gebêre word. (Jammer, ek het “boekerye” probeer, maar dis nie wat dit is nie; “biblioteke” ook nie, want dit laat aan geboue dink; Afrikaans, om aan te pas, sal noodgedwonge maar “libraries” hier moet ontleen.)

Wat die krakies betref: die taalbewustes het ook eens, lank gelede met die ontstaan van Afrikaans, lelik gekla oor die krakies in die Nederlandse taal aan die Kaap. Die damwal het toe gebreek, en kyk net watter kragtige taal het daaruit ontstaan: ’n Taal waarop ons trots kan wees.

Dankie, by voorbaat, vir daardie present. Ek sal dit geniet, mits dit nie as betaling gesien word nie.

Groete,

Angus

  • 1

Kommentaar

  • Beste Angus

    Interessant wat jy hierbo noem van woorde wat nie lekker in Afrikaans is nie. Daar was 'n tyd toe slaghuise plakkate van vleissnitte teen hul mure gehad het. Daarop was al die vleissnitte in Afrikaans. Dit was 'n veldtog om mense bewus te maak van die regte Afrikaanse terme. Ons het ons vrek gelag vir "beeshaas"(fillet) en "kottelet"(tjoppie)! Sulke woorde laat mens eintlik skaamkry, omdat dit so dof klink. Duidelik het dit nie vreeslik posgevat nie, want ek hoor nooit hierdie woorde nie.

    Ek stem saam met Jan Rap dat Afrikaans pragtige woorde het, wat agv luiheid deur Engels vervang word. Ek het 'n boertjie dood aan "song" en "show". Ongelukkig word dit al so algemeen gebruik, dat ons seker maar verlief moet neem dat dit verAfrikaans het tot sjou en song. (met 'n kappie op die o...my rekenaar vang snaakse goed aan as ek 'n kappie probeer maak).

    Dis egter nie verskoonbaar om 'n woord soos "pragtig" te vervang met "beautiful" nie. Dis sommer "kommin" en en pleinweg "stjoepid". Kyk net hoe het "kommin" en "stjoepid" hulle ook al ingegrawe ... Hehe!

    Groete (my gebruiklike "groetnis" is ook al 'n fossiel!) 

    Perdebytjie 

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top