Jan Rap se mites en die Bybel

  • 0

Beste Jan Rap

Ek sien dat jy nou ook deesdae onder verdenking staan, en dat sommiges hier sinspeel op die feit dat jy dalk Anton B, mag wees. Ek geniet al ’n geruime ruk al jou briewe, alhoewel ons al soms verskil het. Verder dink ek ook dat Anton B, ’n briljante skrywer is, wat mens gereeld laat nadink oor die politieke klimaat in die land. Ek is ook deeglik bewus daarvan dat jy ’n Christen is, terwyl Anton al meermale hier erken het dat hy nie glo nie. Moet dus nie te veel ag slaan op hulle aantygings nie, want die van ons wie julle briewe noukeurig deurlees, is beslis bewus van die verskil.

Ek kan ook nie juis verstaan hoekom jou raak-beskrywing van die term "mite" die taal sodanig sou "verskraal" nie. Jou oorspronklike brief, is ’n baie raak beskrywing van die mites wat omtrent die gebruik van Afrikaans bestaan. Hoekom die antwoord op jou brief ’n klap na ons Calvinistiese gebruike probeer gee het, kan ek nie lekker verstaan nie.

Ek dink Cornelius, wie jou van hierdie aksie aangekla het, kon moontlik die woord "mite" in die verkeerde konteks aangehaal het, net om sy anti-godsdienstige agenda voort te sit. Ongelukkig is dit so ver verwyderd van die stelling wat jy probeer maak het, dat ek nie anders kan, as om lesers te wys op die feit dat hy knaend aanvalle loods op andere ten einde sy agenda in ons kele af te druk nie.

Verder kan mens ook nie help om te gril vir die gebruik van die woord "akkies" in die brief nie. Ek dink nie eers kleuters praat so nie. Dan is die gebruik van die woord "Anglo" in die konteks van die brief ook uiteraard verkeerd, maar ek is seker jy het dit reeds gesnap. Cornelius se eie taalgebruik verarm die taal drasties, aangesien hy berug is daarvoor om hogere terminologie in die verkeerde konteks aan te haal. Hy was nog nooit ’n taalvegter in enige opsig nie, so daar is geen werklike rede vir hom gewees om hierdie aanval op jou te loods nie.

Cornelius voer weereens ’n aanslag op die Christen-identiteit wat vir die meerderheid Afrikaners van uiterse belang is. Ek neem sy die aantygings oor "taalverskraling" met ’n tikkie sout.

Die werklike kwessie wat hy probeer opper in antwoord op jou brief, is die feit dat allerlei mites, legendes en ander valshede die laaste paar dekades hoofstroom-gelowe probeer binnedring. Ek het selfs al in my eie gemeente hierdie tendens sien ontwikkel. Ek is ook nie eers meer gemaklik met die hedonistiese wyse waarop Kersfees asook Paasfees gevier word nie. Met die Bybel as gids, is dit belangrik vir elke ware Christen om hom te vergewis van die feite en Boodskap wat daarin vervat is, en enige ander toevoegings daartoe, af te maak as mites. ’n Mite bly ’n valse lering en dus ook ’n leuen. Geen Christen kan op grond van wat in die Bybel verwoord is, sy Christelike gewete sus, deur voor te gee dat die toevoeging van leuens ons geloof bevorder nie. Cornelius probeer nog al die jare om mense wat behoudend glo en leef, af te maak as verkramp, Calvinisties en Protestants (en nou klaarblyklik "Anglo").

Ek dink nie jy hoef verder bekommerd te wees oor hierdie aanval op jou wyse woorde nie. Dit is duidelik dat Cornelius nou ander wee soek om sy dwalinge te adverteer en ’n klap uit te deel na die behoudende Afrikaners, vir wie Ware Geloof van die uiterste belang is.

Groete

Tant Alie

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top