Hello Jan
Baie dankie vir die terugvoer van jou kant af.
Jaco, met wie jy voorheen al in gesprek was, skryf die volgende aan Yuri:
Jy beaam Dan Roodt se rubriek in laas Sondag Rapport rakende apartheid, en stem saam met sy vertolking van geskiedenis, en dit is net wat dit is, ’n vertolking (plus manipuleering daarvan ook).
Die kern om te gebruik is die woord “manipulering”. Geen mening word in hierdie brief aangebied oor die aard van die argumente verwoord deur Yuri of Dan Roodt nie, maar wel oor wat jy aanbied. Dit is duidelik dat jy ’n aarts-manipuleerder van die verlede, die geskiedenis en argumente is.
Elke stelling gemaak deur jou in die brief aan my gerig is alreeds deur my in ander briewe aangespreek en in direkte kontradiksie van wat jy aanbied in jou antwoord aan my.
Om nou weer daarop te antwoord is om in wese my vorige antwoorde te herhaal en dalk so verveling te veroorsaak. Indien dit wel benodig word, dan net die volgende opsomming.
Die Bantoe-onderwyswet van 1953 is ’n feit en is op rekord net soos Verwoerd se menings oor die onderwerp in die argiewe van die New York Times, soos gepubliseer in die 1950's gevind kan word, tesame met die klaaglike mislukking wat dit was en die blatante afskeping van die Afrikaan se onderwys. Hierdie is die historiese rekord.
Engelse universiteite soos, UCT, het ’n swart studente-komponent van by die 20% gehad voor die wetgewing van 1959 dit tot ’n einde gebring het. Hierdie is ook aangeteken in die argiewe van die New York Times en die oproer wat dit in die internasionale gemeenskap veroorsaak het. Hierdie is die historiese rekord.
Dan blameer jy uit die mond van ’n kollega, die swart onnies en nie die fatale mislukking van die hele idee nie. ’n Eksperiment wat ’n klaaglike mislukking was en jy verwag ’n intelligente leser moet aanvaar dat die probleem met die swart onnies was.
Skreiend om jou leser se intelligensie so te onderskat.
Oor Afrikaans se bevoorregte rol het ek genoeg geskryf behalwe om dan nou te vra indien Afrikaans nie bevoorreg was nie, verduidelik hoekom die Nguni's wat 40% van die bevolking uitmaak, in groepe gedeel natuurlik, nie ’n enkele universiteit het nie, waarvan Zoeloe die voertaal is nie en indien Suid-Afrika ’n korrekte verteenwoordiging van die grootste taalgroep moes gee, dan moes Zoeloe die amptelike taal gewees het.
Oor die luuksheid.
Die luukse daarvan verwys na die geleentheidskoste wat ’n kind het om verkillende tale aan te leer ten einde die vakke in Afrikaans of Engels te kan loop. Die koste is te vinde in die laer punte wat die leerling behaal en die uitdaging wat dit stel om die leerling vir die universiteit voor te berei. Engels is dus die voertaal van keuse en kan Stellenbosch indien dit ontvanklik is vir dit sal dan meer studente van ander bevolkingsgroepe ontvang. So onlangs soos 2006 was 72% van die studente nog wit en Afrikaans.
Jan, ek weet nie wie jou gehoor is hier nie, regs en dalk nog meer regs. Dit is ’n verligting aan my kant dat ek nie afhanklik is van jou insette om sin te maak van die werklikheid nie, aangesien jou aanbieding daarvan grootliks ’n verdraaide weergawe daarvan is.
’n Goeie korrektief vir dit waarmee jy vorendag kom, kan gevind word in die Cambridge History of South Africa – Volume II en word aanbeveel, maar nie aan jou of Comestor nie, aangesien julle ’n baie spesifieke weergawe van die geskiedenis aanbied, wat nie op rekord gevind kan word nie.
Baie dankie
Wouter
NS Dink jy in taal? Jy sou met jou gesin bevestig het?

