Jan Rap en die Taal

  • 0

Beste Jan

Ek kan nie genoeg met jou saamstem hier nie. Ek het Vrydag die voorreg gehad om ’n goeie vriend se prysuitdeling en eedaflegging van finalejaar mediese studente, by Tuks by te woon. Dit was ’n pragtige geleentheid, maar Afrikaans het nie eers aan die agterspeen gesuig nie ... daar was geen speen om aan te suig nie. Die baba het op die grond geval!

Die seremoniemeester het ewe skynheilig gesê dat die eedaflegging in Afrikaans is, want dit word al om die ander jaar in Engels of Afrikaans gedoen. Behalwe twee powere sinnetjies van verwelkoming in Afrikaans, was die eed die enigste ander Afrikaans! Sjoe, Ons moet dankbaar wees vir die krummels.

Tog vreemd, dat die seremoniemeester, wat duidelik Afrikaanssprekend was, nie die hele klomp Afrikaanse studente se prestasies in hul moedertaal kon lees nie. Dit sou so mooi gewees het as elke student in sy eie taal geluk gewens kon word. Ek sou geen probleem daarmee gehad het as hulle al die swart studente ook in die taal van hul voorkeur, geluk gewens het nie. Dit sou net ’n klein bietjie ekstra moeite gekos het, maar nee: “We congratulate doctor so and so who passed cum laude, with distinctions in ... Ingels, Ingels, alles Ingels!!

Op ’n positiewe noot, daar het baie swart en wit meisies cum laude geslaag, en ek dink die bevolking was goed verteenwoordig. Die manne was ook daar, maar dit lyk of die vrouens in die toekoms nie meer so ’n vreemde verskynsel gaan wees nie. Ons jeug het pragtig gelyk en ek is voorwaar saam met hul ouers en familie baie trots op hulle!

Groetnis

Perdebytjie

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top