Dagsê Jan Rap
In ’n vorige skrywe van my aan jou het ek die volgende te sê gehad: “Volgens jou is ’n definisie van ’n Afrikaner onnodig omdat enige persoon wat na homself as ’n Afrikaner verwys, ’n Afrikaner is.” Dit klink na ’n rein en nobel voorstel totdat jy jou volgende sin begin met: “Hy sal dan logieserwys doen wat Afrikaners doen ...” Op daardie oomblik begin jy met jou definisie van die Afrikaner – een wat logieserwys alles doen wat jy doen.
Jy het nie destyds, toe die debat begin het, gekla oor my stelling nie maar nou pla dit jou blykbaar. Jou onwilligheid om vir ons ’n idee te gee van wie of wat die Afrikaner is (of was) laat my geen keuse as om jou sentimente wat jy hier op die Sê laat blyk, self te interpreteer nie. Volgens jou eie verklaring sal enige persoon wat verklaar dat hy ’n Afrikaner is logieserwys sekere sentimente onderskryf en is my gevolgtrekking logieserwys dat dit met jou sentimente sal strook. Jou sentimente (wat ek logieserwys uit jou skrywes aflei) dui op ’n totale afkeur van die post-1994-bedeling en ’n totale onwilligheid om die voordele en uitdagings van Suid-Afrikaanse burgerskap op te neem – iets waaraan ek glad nie Afrikanerskap uitsluitlik wil koppel nie.
Ek maak bloot ’n voorstel dat ons as Afrikaners rondom die taal wat ons praat moet saamtrek. Jou heftige teenkanting daarteen laat by my die vermoede ontstaan dat ek straks iemand gaan insluit wat jy eerder wou uitsluit as Afrikaner. Jou optrede laat my baie dink aan koningin Gertrude se woorde in Hamlet: “The lady doth protest too much, methinks”.
Ek moet nou regtig aandag aan daai hoofstuk gee – Kersfees is op ons.
Groetnis
Thomas


Kommentaar
Thomas, hoeveel keer moet ek dit nog vir jou mooi duidelik maak dat taal nie ’n saamtrekeienskap, kernelement of die "siel" van ’n volk uitmaak nie. Dis ander dinge soos eie kultuurgoedere, geskiedenis, sekere waardes en gebruike en ’n soort van gemeenskaplikheid wat kom uit opvoeding binne eie kring.
Daar is talle voorbeelde dwarsdeur die wereld waar verskillende volke ’n taal deel en ek het al daarvan vir jou gegee.
Net ’n vragie oor taal: Die Namas en Basters in Namibie praat ’n besondere mooi Afrikaans, Maak dit hulle Afrikaners? Daar is swartes (bedoelende mense wat afstan van die Bantoe-volkere) veral in dele van die Vrystaat wat Afrikaans praat – en so ook ’n groot deel van die Griekwas. Is hulle Afrikaners? En wil hylle wees – veral die Griekwas wat ’n baie trotse volk is? Dit was juis daardie eie "volkswees" van die Griekwas wat gemaak het dat ons in die ou dae van apartheid nie ’n eenvormige beleid vir alle "bruinmense" kon skep nie want ons het besef dat daar net te veel duidelike groeperings was (’n stuk of sewe as ek reg onhtou) binne die gemeenskap wat as "bruin" bestempel kon word.
Julle moet asb. tog julle denke reg kry.
Thys
Die vraag is natuurlik of al hierdie fragmente van Afrikaanssprekendes bymekaargevoeg kan (moet?) word om een belangegroep te vorm. Ek is vas oortuig dat ons suksesvolle voortbestaan as taalgroep lê in samevoeging en nie in differensiasie nie. Jy sê ander dinge soos eie kultuurgoedere, geskiedenis, sekere waardes en gebruike en ’n soort van gemeenskaplikheid wat kom uit opvoeding binne eie kring is belangriker as taal om gemeenskaplikheid te bevorder. Dis lyk my waar ons van mekaar verskil. Alhoewel baie belangrik is sommige van daardie goed oorblyfsels van die apartheidsbedeling wat ek glo liewer tot die verlede moet behoort.
Groetnis
Thomas