Ons het agterlik geraak omdat my pa 'n blêddie gebore SAP-man was. Verwoerd het dit nooit gemaak op 'n foto in ons huis nie. Jan Smuts het bo die gangdeur uit die sitkamer gehang, tot hy dood is! Jannie was 'n ABO-held en klaar. So het my pa se transportbesigheid doodgeloop, omdat hy hardnekkig die swartes bly vervoer het Botswana toe, oorgrens sonder om deur die grenspos te gaan. So het sy filosofiese retoriek oneindige swaarkry in my lewe gebring? Hy was vlot met Tswana. Ek kan nie lekker die kloutjie by oor bring met al die politiek nie.
Die 60's was die begin van die totale 'mcarthur'-aanslagera in SA en dit het aangehou tot die 1983-referendum. So, ek het in lewe eerstehandse ABO-stories, wêreldoorloë-stories en selfs rebelliestories gekry, as ou mense saans gesit en praat het en ek gejaag was omdat ek nie tande moes tel nie. Nou ja, kan jy jou voorstel hoe ver agter ek was teenoor my anglikaanse eweknieë in bo-dorp hoërskool? Agterkleinkinders van Paul Kruger was van graad 1 tot matriek in dieselfde skool, maar was anders behandel, omdat hul ouers in strukture van die NP was. Ek het 'n kleintjie dood aan mense wat beweer al wat 'n wit man was 'voorheen bevoordeeldes', want ons was die plebs, bedoel vir handearbeid/ambagsmanne ens. Jy kon nie net kuier by enige meisie nie, jy moes by jou eie klas hou en was so aangesê as jy weggejaag was, veral deur die ma's. Nou ja, jy gryp na al die drek van die verlede? Dit wat as 'kultuur' voorgehou was, het baie hartseer en seerkry veroorsaak. Ek kon nie by bv die skoolinspekteur se dogter kuier nie, al het sy briefies geskryf in hoërskool. Ek was van 'onderdorp' en sy in bo-dorp bestem vir hogere dinge in lewe. Hoop sy het haar hogere hoogtes toe ook bereik?
Hans Richardt


Kommentaar
Beste Hans,
’n Interessante stukkie skrywe oor "klas" in die Afrikaner-gemeenskap, "klas" die verbode woord in die Afrikaner-politieke woordeskat. Die Nattes het mos Marx gevrees soos die pes omdat hy ’n ateïs was en alle godsdiens sou verban tesame met alle private eiendom, en dit kon die calvinistiese-kapitalistise Afrikaner nooit toelaat nie. Dus het besprekings oor "klas" in die politiek taboe geword (al die Afrikaners sou polities gesproke aan een klas allen behoort) en almal berekenend tot een nasionale christelike "sosialistiese" volk. Maar ons het almal geweet dat daar commin en lae klas Afrikaners was, soos dié wat gewerk het op die spoorweë en in die poskantoor, en met hulle het mens mos nie mee assosieer nie.
Beste groete,
Pieter Redelinghuys