Moenie laat ons mekaar mislei nie! Word standaard Afrikaans gemeet teen standaard Nederlands?
Appels en pere vergelyk?
Wees eerlik, GWM het amper Toyota-tegnologie, met klem op amper!
Waarteen word dit dan gemeet, Kaaps se geradbraakte taal of Vlaams?
Ek dink dat standaard Nederlands baie anglisismes gebruik, wat so ver van noordpool en suidpool, van Afrikaans verskil. Baie van die Afrikaanse 'vloekwoorde' is dan standaard Nederlandse werkwoorde?
Hans


Kommentaar
Dag Hans
Goeie vraag maar een vir Die Taalkommissie om te antwoord - hulle bepaal immers grammatika- en spelreëls vir Afrikaans. Dit kan ek jou nie met 100% sekerheid antwoord nie.
En jy het gelyk, standaard Afrikaans en standaardnederlands ken baie verskille maar so vêr verwyderd is die twee darem nou ook nie. Ek woon nou al 'n tydjie in Amsterdam en kan vir jou sê dit het weinig moeite gekos om Nederlands te begryp, te lees en eventueel te praat al is dit nog steeds bietjie gebrekkig.
Die punt wat ek probeer maak het is dat dit onjuis is om te sê Nederlands is 'n 'non-entiteit met verskillende dialekte'. 'n Standaardnederlands bestaan wel en dit is baie nou verwant aan standaard Afrikaans vanweë ons gedeelde afstammeling van 17de eeus Nederlands. Helaas wat grammatika betref is die twee volgens my onversoenbaar vandaar dat dit tog lyk asof mens appels en pere wil vergelyk, maar wat woordeskat betref dan is dit 'n heel ander verhaal.
Kaaps is trouens geen geradbraakte taal maar 'n erkende Afrikaanse variëteit net soos Vlaams amptelik beskou word as Suid-Nederlandse variëteit.
Ag, en wat vloekwoorde betref, die feit dat normale Nederlandse woorde in Afrikaans plotseling vloekwoord status verkry het het ons seker maar te danke aan die grys ou omies in die ontstaansjare van Afrikaans - ek weet nie. Moenie vergeet van die groot rol wat die kerke gespeel het in die ontwikkeling en uitbouing van Afrikaans nie - my opinie
Groet