Liewe Jan Rap
Jy kan darem nonsens praat die dag as jy eers aan die gang is. Jy is veral disingenuous (kom gee my ’n goeie Afrikaanse woord wat dieselfde gevoelswaarde het – nee, dis nie skelm nie) met die idees rondom droom en dink.
My besigheid is uitsluitlik in Engels, en al my kliënte is Engels, maar by die huis praat ek slegs Afrikaans. En ek maak my mense gek omdat ek die suiwerste Afrikaans moontlik probeer praat: biefstuk, kotelette, ens. Ek droom steeds in Afrikaans en tel steeds in Afrikaans – nogal ’n goeie toets vir ’n mens se "denktaal".
En watse nonsens is dit dat ’n mens nie in ’n taal droom of dink nie? Gee bewyse asb.
Die Afrikaans wat ons het is ook nie onbuigsaam en onveranderbaar nie. Afrikaans is steeds n taal in wording. Ons het in die verlede by Engels geleen en sal sekerlik dit in die toekoms ook doen. Gaan kyk ’n bietjie na die ou woordelyste en/of etimologiese woordeboeke – jy sal verbaas wees oor die hoeveelheid leenwoorde uit Engels wat al vir meer as ’n eeu in gebruik is.
Ek sou ook graag wou weet hoekom dit dan juis aanvaarbaar is om Latynse terme in baie vaktale te gebruik, maar nie Engels nie? Afrikaans het tog ’n Germaanse oorsprong, dan nie?
"koos sas"

