Inligtings- en kommunikasietegnologie hoef nie van natuurwetenskaplike aard te wees nie. "The alphabet was a founding technology of information" (p 11). Om 'n boodskap oor 'n afstand te stuur, is rookseine, tromme, vlae en spieëls gebruik. Gesproke en geskrewe taal word as werktuie (of instrumente) vir denke en uitdrukking benut. Die vaslegging (rekordering, dokumentering) van taal en illustrasies maak die uitbreiding van kennis moontlik en onderskraag die geheue. Oor bv oudiovisuele inligting word Marshall McLuhan (1911-1980) soos volg geparafraseer: "The larger the number of senses involved, the better the chance of transmitting a reliable copy of the sender's mental state" (p 48). Bewustheid van iets (dus om te weet) kan denke stimuleer. "Oral people lacked the categories that become second nature even to illiterate individuals in literate cultures" (p 39). Die nuttigheid van dokumente word verhoog as hulle goed bewaar en die inligting kundig ontsluit word (deur bv ordening, klassifisering en trefwoordvorming, titelbeskrywing) en dus (maklik) herwin kan word.
Toe die teoretiese grondslag van inligting- en kommunikasiekunde as sosiale wetenskappe in die jare sewentig plaaslik gelê is, is wiskundig- en natuurwetenskaplik-geöriënteerde tekste soos dié van Claude Shannon, asook van Warren Weaver, Norbert Wiener, John Pierce en JCR Licklider, bestudeer. Shannon het in die konteks van telekommunikasie beweer: "The fundamental problem of communication is that of reproducing at one point either exactly or approximately a message selected at another point" (p 221). Sy benadering was dié van 'n ingenieur: "The meaning of a message is generally irrelevant" (p 219). "Shannon wanted to define the measure of information ... as the measure of uncertainty" (p 228). So 'n benadering kan aan sosiaalwetenskaplike dissiplines die eksakte aanskyn van die natuurwetenskappe gee, maar dit is juis die betekenis van boodskappe wat sosiaal van deurslaggewende belang is. "Memes are hard to mathematize" (p 321), maar inligting word natuurlik deesdae digitaal versyfer. Vannevar Bush se geskrifte uit dieselfde era is vir die sosiaal-wetenskaplike meer toepaslik.
Tegnologiese uitvindings word nie deur almal goed verstaan nie. Inligting (die boodskap) en die inligtingdraer (die medium) moet onderskei word. "There was the woman who brought a dish of sauerkraut into the telegraph office in Karlsruhe to be 'sent' to her son in Rastatt. She had heard of soldiers being 'sent' to the front by telegraph. There was the man who brought a 'message' into the telegraph office in Bangor, Maine. The operator manipulated the telegraph key and then placed the paper on the hook. The customer complained that the message had not been sent, because he could still see it hanging on the hook" (p 150).
Sonder wet en orde sou inligtingstegnologie stadiger ontwikkel het. Samuel Morse (1791-1872) kon in 1844 suksesvol met telegrafie eksperimenteer deur pale van Washington tot Baltimore te plant en hulle met drade te verbind, want "the lines had 'remained undisturbed from the wantonness or evil disposition of any one'" (p 144). In die nuwe Suid-Afrika word koperkabels dikwels gesteel en soms noodgedwonge met glasveselkabels vervang.
Johannes Comestor

