James Gleick: The Information I

  • 0

Behalwe vir sy eerste roman, Lucky Jim (1954), kon Kingsley Amis (1922-1995) my nooit beïndruk nie. Ek was in Londen toe sy seun, Martin, se roman, The Information (1995), bekendgestel is. Die publisiteit was so oorweldigend dat ek 'n eksemplaar gekoop en dit daarna berou het. James Gleick se boek, The Information: A history, a theory, a flood (London: Fourth Estate, 2011, 527p), is in 'n ander liga. Inligting was nog altyd met ons. Soos Fred Dretske dit stel: "In the beginning there was information" (p 323). Maar hierdie fundamentele verskynsel word eintlik maar sedert die Tweede Wêreldoorlog ernstig bestudeer en nagevors. Gaan gerus na hoe uitsonderlik dit is as algemene vakkundige naslaanwerke 'n inskrywing oor inligting het en 'n pogingaanwend om die term te verduidelik.

Soos uit die newetitel van Gleick se boek blyk, het inligting inderdaad 'n geskiedenis, is daar inligtingsteorieë en word ons vanweë die massa- en elektroniese media deesdae aan 'n oorvloed inligting blootgestel. Kommunikasie is 'n verwante verskynsel met 'n soortgelyke geskiedenis. Inligting- en kommunikasiekunde het dieselfde fondament. Kommunikasie word bewerkstellig wanneer iets oorgedra (in 'n ander sin as vervoer, transport) of gekommunikeer word en daardie iets is inligting. Inligting het die potensiaal om ons in te lig, om via ons sintuie ons gees ("mind") te verander. Ingewikkelder gestel: "Information [is] anything which changes probabilities or reduces uncertainties" (p 248). "Information [is] the basic ingredient in building a mind" (p 262).

In ons gees word inligting in kennis omskep, wat verwerk en geëksternaliseer kan word (bv deur te praat of te skryf) en in die geheue gestoor kan word. Kennis kan waar of vals wees. Deur wat buite die gees is "inligting" te noem en wat in die gees is "kennis" te noem, kan baie van die terminologiese verwarring opgeklaar word. Die kernelement is betekenis. "Information per se is not a good measure of message value" (p 353). Meer inligting is nie noodwendig beter nie. In soverre inligting benut word, kan dit lei tot meer en beter kennis. "Information is not knowledge, and knowledge is not wisdom" (p 409).

Die ontdekking van DNS het die besef tuisgebring dat inligting nie net die mens se gees (bv in die vorm van meme, idees) beïnvloed nie. In elke sel is daar genetiese inligting wat van geslag tot geslag oorgedra word. Pogings is deur fisici en kosmoloë aangewend om inligting as meer fundamenteel as materie en energie voor te stel. Dit is myns insiens misplaas om soos bv Stephen Hawking te beweer dat dit eerder inligting as materie of energie is wat in 'n swart gat vasgevang word of daaruit ontsnap. As daar iets soos 'n swart gat is en as iets daarin vasgevang word of daaruit ontsnap, moet dit ingevolge ons huidige wetenskaplike kennis materie of energie wees. As ons ingelig word oor wat daar gebeur, is dit inligting oor materie of energie. Inligting is 'n begrip wat op 'n ander vlak as materie en energie funksioneer. Norbert Wiener het tereg gesê: "Information is information, not matter or energy" (p 241). Ons hoef nie soos Donald Rumsfeld klei te trap deur "unknown unknowns" en "known unknowns" te onderskei nie. Hawking fouteer deur te beweer dat inligting nie vernietig kan word nie. Dink aan die talle biblioteke wat afgebrand het. Dit is eerder materie of energie wat nie vernietig kan word nie. Nog meer vergesog is Hawking se stelling: "I think the information probably goes off into another universe" (p 358).

Vervolg ...

Johannes Comestor

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top