Jakobsleer

  • 0

Voortrekkermonument, 2006

Vir die eerste keer sedert kindsbeen
besoek ek weer die monument.
Waar ek laas was met Pa, op ouderdom vyf jaar.

En dis aan die Tor van Glastonbury
wat ek skielik dink, 'n mistieke hoogtetjie
op die platteland van Engeland.

’n Geheimsinnige skryn. Vir 'n vreemde Godheid.
Dit huldig pioniers, van 'n vergane kultuur.
’n Vierkantige monoliet, wat hol is aan die binnekant.
Hier, so word beweer, skuif realiteite oor mekaar ...

Ek kom wys vandag
die curiosum van ’n kolos
aan my Belgiese vriend Frank.
’n Reliek uit die koloniale tyd
gebou vir Apartheid.

Ons bestyg die terrasse.

Binne: tafereel op tafereel van die “werklike verlede”:
’n Moses en sy staf, mure van Jericho ...
Zoeloes in ons hand … die Beloofde Land.
Omring staan ons deur die helde van klip:
versteen natuurlik, toe hulle die waarheid ontrafel het.

In ’n hoek
van die bonkige konstruksie wat uittroon bo die stad
is ’n donker deurtjie,
daaragter die windsels na bo
en na onder van 'n nimmereindigende spiraaltrap.

Pa het my destyds
by die hand geneem, óp langs die duiselende wand;
hy, Vergilius, en ek ’n kleine Dante.
“Wanneer gaan dit eindig,
ek voel soos 'n duisendpoot!”
“Moenie bekommerd wees nie,
dis hoe dit hoort.” –

swymelend,
die Vage Vuur uit.

Droomfigure
op Jakob se leer.

Witrotte –
op die trapmeul van tyd.

Tot sover: “hoe dit was”.

Vanuit die uitkyk
jare later, van waar alles lyk na wat dit miskien is,
waar ’n meisie oor die leunmuurtjie
haar lang hare tussen die swaels laat hang
soos Raponsie

– op die horison
die rokerige string plakkerskampe wat maar altyd
om en om wentel in hul ringe van Saturnus –

daal ek
saam met Frank
met dieselfde sirkels na benede,
effens duiselig weer – swewend eintlik
nes die eerste keer –
soos engele

wat leviteer in nuwe mitologieë,
’n paar van my medeburgers ook hier vandag omtrent
deurskynend so gesuiwer deur die terugblik,
herskrywers van die geskiedenis
(is alle herskrywers nie deurskynend nie?)
– Frank is selfs van België –
ons voete wat net-net die grond nie raak nie.

Rondom ons, die slagting
wat voordurend in klip stol.

En wat betref die werklikheid,
ook soms genoem die waarheid:

in ’n plek
waar die sinne so swem is dit eenvoudig

nié iets wat toentertyd gebeur het nie
en ewe min
gebeur dit vandag.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top