Beste Jakkie
Ek hoop dat dit goed gaan met jou. Ek wou al ’n geruime tydjie dieselfde aanbeveling maak aan die Ronel-karakter. Behalwe vir die gemors Afrikaans wat sy so gereeld hier besig, is haar briewe ongelooflik oppervlakkig en banaal. Dit kom eintlik so geforseerd voor, dat ek van mening is dat dit bloot ’n bekende SêNet-skrywer is wat probeer om sy ware identiteit hier te verdoesel.
Hoe dit ook al sy, ek het die laaste paar jaar agtergekom hoe vele Afrikaners, alle respek vir ons taal verloor het. Mens sou kon vingerwys na die jonger garde, wat poog om "grand" te klink in hulle skryfsels en die manier hoe hulle daagliks kommunikeer, maar ek het al verskeie ouer mense ook aangespreek die laaste ruk omdat hulle Engelse woorde en ander banaliteite in hulle taal inwerk. Dit is deesdae mos mode om die "F-woord" of ander Amerikaanse vloeke in ieder en elke sin te plaas.
Ek glo dat meeste van hierdie oortreders uit goeie huise kom, waar hulle in ordentlike standaard Afrikaans opgevoed is. Om die een of ander rede, glo hulle dat die gebruik van sulke swak taal, op die een of ander manier, op ’n vorm van rebelsheid dui. Wat my kwel is dat hierdie mense dan hierdie swak taalgebruik aan hulle kinders oordra, en kort voor lank gaan die gewone Afrikaanssprekende op straat so platvloers klink en leef, dat ons maar eerder kan oorskakel na die gebruik van Engels as voertaal.
Ek hoop werklik dat mense met meer sorg en trots ons taal sal begin gebruik. Dit is werklik nie moeilik om van hierdie slegte gewoontes ontslae te raak en ’n beskaafde vorm van Afrikaans te praat nie. Ek is geen taalkundige nie, en maak ook gereeld taalfoute, maar ek probeer so ver as moontlik om die regte Afrikaanse woord te gebruik, voordat ek uit pure laksheid ’n spul Engelse woorde as plaasvervangers gebruik.
Mense kan gerus maar tweetalige woordeboeke aanskaf indien hulle dit wel so moeilik vind om ons wonderlike taal suiwer te hou!
Groete
Tant Alie

