Jaco Thom se Lea gee 'n spreekbeurt vir die 'underdog'

  • 0

Carpe Diem Media, 2007
ISBN 9781770310629
Prys nie vermeld

Ons ken almal die Bybelverhaal van Jakob wat sy hart verloor op Rachel, en "lobola" moet betaal deur sewe jaar vir haar pa te werk. Dis dalk die mooiste liefdesverhaal in die Bybel: 'n verhaal van 'n man wat 'n vrou so liefgehad het dat hy bereid was om sewe lang, hardwerkende jare vir haar op te offer.

Dis natuurlik nie waar dit eindig nie: Laban, Jakob se inhalige skoonpa, sorg dat dit sy ánder dogter - Lea - is wat langs Jakob voor die spreekwoordelike kansel staan. Natuurlik kan Jakob steeds met Rachel trou ... mits hy nóg sewe jaar opoffer.

Maar wat van Lea? Die Bybel sê sy het "dowwe" oë gehad (in die Nuwe Vertaling is dit "sagte" oë), in teenstelling met haar beeldskone suster. Sy is 'n bietjie van 'n "dark horse": Bybellesers weet nie altyd wat om van haar te dink nie. Sy verdien dalk deernis omdat minder mooi vroue dit nog altyd moeilik gehad het. Sy moet verneder en seergemaak gevoel het omdat sy, as oudste dogter, "oorgeslaan" is ter wille van Rachel: dit was gebruiklik dat die oudste dogter in die gesin eerste trou.

Maar wat is Lea se aandeel in haar pa se bedrogspul? Het haar pa haar gedwing om met Jakob te trou? Dalk was sy bitter en wraakgierig, en afgunstig op haar jonger sussie: haar pa se plan het haar soos 'n handskoen gepas en sy was meer as gewillig om deel te hê daaraan.

En hoe het die bedrogspul die verhouding tussen die twee susters beïnvloed? 'n Redelike afleiding is dat Rachel omgekrap sou wees omdat sy beroof is van die voorreg om haar geliefde se éérste vrou te wees. Dat Lea die een fris baba ná die ander vir Jakob in die wêreld gebring het terwyl Rachel minder geseënd is op dié gebied, sou dinge nie makliker gemaak het nie. En hoe het Jakob gevoel oor die vrou met wie hy feitlik gedwing is om te trou? Hoe deel jy 'n huis met twee susters (én hul kinders) wat waarskynlik nie veel ooghare gehad het vir mekaar nie? Dan het dié vroue nog elkeen 'n persoonlike slavin wat op hulle beurt óók vir jou kinders in die wêreld bring ...

Dis op vrae soos hierdie dat Jaco Thom in sy Bybelse roman Lea antwoorde probeer vind. Die resultaat is 'n leesbare, boeiende roman wat volkome geloofwaardig en Bybels verantwoordbaar is. Dit was 'n goeie idee om die verhaal uit Lea se oogpunt te vertel: dit kon net sowel Rachel of Jakob se storie gewees het, maar dis altyd goed wanneer 'n "underdog" kans kry op 'n spreukbeurt. Nie dat Lea opgehemel word nie: sy is aanvanklik nie die soort vrou wat in aanmerking sou kom as Persoonlikheid van die Jaar nie. Ons leer haar wel ken as 'n sterk, regverdige en liefdevolle vrou, maar eers nadat sy indringende en geloofwaardige karakterontwikkeling ondergaan het en deeglik gelouter is. Haar huwelik is byvoorbeeld alles behalwe dít waaroor sy gedroom het: "Sedert haar huwelik met Jakob het sy alleen geword," staan daar op p 50.

Die Bybelse leefwêreld word oortuigend en met genoeg detail uitgebeeld. Een van die roman se pluspunte is dat die karakters met genoeg emosionele diepte uitgebeeld word (Jakob is byvoorbeeld nie so kreukvry soos 'n mens sou verwag nie).

Daar is wel 'n paar setfoute en ander glipsies ("huweliksformule" op p 19 moet byvoorbeeld "huweliksformulier" wees) wat hopelik in 'n herdruk reggestel sal word. Lea is nie op dieselfde vlak geskryf as byvoorbeeld Barend Vos se Eksodus nie, maar in die geheel is daar nie veel fout met hierdie boek nie. Dit word veral aanbeveel vir aanhangers van hierdie genre.

• Jaybee Roux is 'n skrywer en boekliefhebber van Velddrif.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top