Jaco se "whimper"-brief

  • 0

Hallo Jaco

Jy laat my dink aan die voosgeslane bokser wat, na die klok gelui het, sy arms triomfantelik in die lug stoot. Die idee is natuurlik om die beoordelaars te beïnvloed maar dit werk nie.

Laat ek nou jou brief van Vrydag behandel. Jy praat van die “absurde gevolgtrekking” wat ek sou maak, die storie van die “lat vir jou gat” en daar hou jy toe op met die aanhaling (slu selektief). Ek sê weer: Jy praat van ouens wat in Angola sterf terwyl Dan Roodt destyds in Frankryk sou skuil. Dan is egter NOU besig om ’n bestel aan die kaak te stel waar in VREDESTYD meer burgerlikes, veral plaasboere, sterf as wat in die oorlog die geval was.

Jy't my vertel Dan was eers ’n “liberal” en ek het gevra, as dit die geval was, het hy mos intussen van opinie verander en dis mos geen sonde nie, of hoe? Daarop het jy geen woord gesprak nie. Verder, na aanleiding van jou verwysing dat Dan eers ’n libberil (nuwe woord, hy's nog net in my woordeboek) was, het ek aangedui dat, as meer mense destyds al, soos Dan, hulle libberil-isme versaak het, was ons nie nou in die gemors wat al julle libberils so ywerig besig is om goed te praat nie. Dít was die lat vir jou gat maar weer eens systap en pypkan jy; jy haal gedeeltelik aan en noem dit absurd; geen sprake van debat nie.

Jy sê ek is “... tjoepstil oor AfriForum se bewese suksesvolle doen en late in vergelyking met praatsieke Rooi Daantjie se absolute gebrek aan bewese dade ten gunste van Afrikaner-belange”.

Nee ek is nie; die ball is in jou court, gaan kyk maar. Ek het gesê dit a) is wonderlik dat AfriForum veg vir Afrikaans en b), gevra of goeie dade in die verband ander goeie dade negeer wat volgens jou nie AfriForum se prestasie ewenaar nie. Ek het nog voorbeelde genoem soos, gaan jy kwaad wees vir Dames Dinamiek as jy uitvind hulle doen minder as die Vrouefederasie (of so iets). Daaroor was jý tjoepstil.

Let ook sommer op die gebrek aan ordentlike debatvoerpraktyk waarvan ek jou so dikwels beskuldig, naamlik die roekelose rondgooi van persoonlike opinies soos "praatsieke" en "absolute gebrek aan bewese dade" asook die ad homonimiese "Rooi Daantjie".

Hier's nou vir jou ’n goeie oefening: Sit jou ses of sewe briewe of hoeveel ook al in hierdie verband op een Word-dokument en met die “vind”-fasiliteit spoor jy al die vraagtekens op. Plak al die sinne (vrae) wat hierdie vraagtekens voorafgaan op een dokument en merk die wat jy dink ek gesystap het. Ek sal om verskoning vra en hulle dan antwoord.

Ek wou eers self die oefening doen maar, op die gevaar heen dat jy my van manipulasie beskuldig, is dit beter as jy dit doen. Intussen kan jy die vraag antwoord wat ek aan die begin van hierdie briefwisseling aan jou gestel het, naamlik hoekom is jy so neerhalend teenoor Dan Roodt? Jou redes tot dusver, naamlik dat hy minder as AfriForum doen, dat hy eers ’n libberil was en dat hy Afrikaners sou beledig hou nie water nie; daar is ander wat minder as AfriForum doen en ander wat Afrikaners beledig en hulle pla jou nie.

Groetnis

Jan Rap

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top