Beste Jaco,
Daar's eintlik heelwat verskil tussen my en jou, en ek hoop rêrig dis nie bloot 'n kwessie vir 'n ooreenkom net om te wil verskil nie (hel, hoe's daai Anglisisme vir jou)!
Jy tik (net so): Buite SA en Namibia sterf die konsep van 'n Afrikaanse taal, volk en kultuur mettertyd. Dis 'n gegewe dat Afrikaners wat in die buiteland verhuis het, gaan vorentoe deur hulle gaslande se taal en kultuur geabsorbeer word, en is daar dan geen sprake van Afrikaners daar meer nie. Of kan jy weerlê wat ek nou net gesê het?
Maklik Jaco ... eintlik kan ek dit nie net weerlê nie, maar ook teen jou denke en verwagtinge met dit saamstem.
Vyandigheid teenoor Afrikaans binne, is net so dodelik vir Afrikaans buite Mzansi, as wat dit vir die Afrikaner in ieder geval is.
Jy sien, vir jou het 'n nuwe Afrikanerskap begin vanaf datum dat die WVK sy werksaamhede afgehandel het, die datum waarop die ANC glo ooreengekom het dat die Afrikaner se sogenaamde "foute van die verlede", vir die huidige geslag en geslagte vorentoe kamstig skoongevee is.
Anders as Jood, Griek, Portugees ... se trots op honderde jare se geskiedenis en erfenis, is jy skaam vir jou 100 jaartjies Jaco ...
Dus, jou onthutste beskouing jeens jou geskiedenis en erfenis, is als behalwe pragmaties, dis gewoon die gevolg van ewe veel breinspoeling as die van 'n Wouter.
Die Afrikaner het gewis 'n fout gemaak met hul hanskakie-apartheid, maar dis absurd om vandag so op die Afrikaner te wreek!
Het die Afrikaner nie ook 'n geboortereg hier nie, iets wat selfs in die Kolonie begin het, of dink jy ook ons is eintlik bywoners en Britse rebelle wat ons kom sleg gedra het in Afrika?
Jaco, gaan weeg die bydrae tot beskawing wat die Afrikaner en hul verkenning hier aan Mzansi gelewer het, teenoor hul aangeleerde Ingelse apartheid, en weeg dit dan teen hul miskenning in die ekonomie, werk, opvoeding en veiligheid waarin die Afrikaner vandag gemoor word.
Derhalwe Jaco, jy het jou definisie vir die Afrikaner, Wouter syne, en dan is daar FW de Klerk se beskrywing van die Afrikaner ...
Anders as jy en jou ouboet Dan, sluit FW de Klerk se beskrywing van 'n Afrikaner, die Kaapses en ander Afrikaanses wat nie met ons Voortrekkererfenis identifiseer nie, uit!
Nasionaliteit, is nie Godsdiens nie - nasionaliteit ken duidelike grense, Godsdiens nie!
Weereens Jaco, dis belaglik om enige volk op aarde se erfenis en geskiedenis te baken soos dit jou pas.
Waar sou die Jode byvoorbeeld wees sou hulle met hul 3000 jaar plus geskiedenis, so ydel om gegaan het?
Ja Jaco, jy is beslis een van die MEERDERHEID wat Bloedrivier genasionaliseer het en toe in die riool weggespoel het, want, wat het jy dan daarmee te doen? - nes die Nasionale Party ook die res van die Afrikaner se erfenis op ander probeer dwing het wat geen waarde daaraan kon het nie, en dit toe 'n doodskoot in 1994 gegee het.
Geskiedenis voor 1994, het die gevolge van vredesooreenkomste met die vyand smee, bewys. Na Vereniging, het dit destyds byna vyftig jaar geneem voor die Afrikaner uit haglike omstandighede kon kom en weer 'n mate van beheer oor hul toekoms neem. Die onderdrukkers destyds was net 'n handvol wit Ingelse wat hul Apartheid in 1913 reeds, in omstrede wette rakende grondbesit op boek geplaas het ... en vandag word die wit Afrikaner daarvoor gestraf!
Ja, ken jy nie jou geskiedenis nie, is dit maklik om die Afrikaners so skuldig aan die Britte se anderhaat te maak. Anders as 1948, is die MEERDERHEID teenoor wit Afrikaners vandag oorweldigend. Daar kan en sal nooit weer enige oorlewing by 'n stembus vir die Afrikaner gevind word nie. Sosiaal en kultuurgewys, mag die Afrikaner wel dalk vorentoe sy eie ding, en onafhanklik van ander kulture doen - byvoorbeeld Orania. Behalwe vir die ander kulture se jaloesie, sal die toenemende gebrek aan geleentheid en opvoeding weens die ANC se wettige diskriminasie teen wit studente by universiteite en loopbaan geleenthede vir wit kinders elders, die Afrikaner oor 'n geslag of wat onbeduidend laat.
Die Grieke, Portugese, Jode, Hindoes, Moslems, Sjinese, Egiptenare, en ander minderhede, het maklik onder Apartheid, danksy hul DIEP kulturele wortels oorleef.
Jaco, die MEERDERHEID Afrikaanses wat jou mening deel, laat die Afrikaner as iemand vlak wat net wil stamp op konserte waar "Afrikaans is groot" propaganda gelieg word. Die bejammerenswaardige Afrikaanses wat daarvoor val, neig na die tipiese Brit vol belle en prentjies, bedwelmend afhanklik van die staat. Waar is hul trots as hulle nie eens die avonture van Oom Paul en Hans Dons ken nie?
AfriForum doen noodsaaklike werk. VF+ en Solidariteit werk net so hard. Ek twyfel egter of enige van hierdie organisasies ooit die nasionalisering van die Afrikaner se erfenis ongedaan gaan maak, en so weer samehorigheid by WARE Afrikaners bewerk.
Anders as die Fariseërs, skrifgeleerdes, geveinsdes en spiritueel intelligentes wat met hul ware Godsdiens, ware Bybels en ware geloof hulself van ander harte in GOD onderskei, behoort 'n mens wel jou identiteit op aarde op alle vlakke met trots te kan onderskei, byvoorbeeld as 'n ware Afrikaner, ware Brit, ware Aussie, ware Amerikaner, ware Transvaler, ware Kapenaar, ensovoorts ... sonder om eens die trots wat mens met jou ware alma maters deel, hier te noem ...
Jaco, ek hoop jou konsentrasie hou en dat jy hierdie effense relaas van my met volle begrip geheel kon lees.
Boeregroete,
Cornelius

