Dag Jaco, ek verwys na jou 'vergrootglas'-brief van gister.
Jou eerste fout is dat jy dink die Engelse 'people' word vertaal met 'gepeupel' in Afrikaans. Dit is nie so nie, 'gepeupel' is neerhalend, sal iets soos 'rabble' in Engels wees (daar kan seker gevalle wees waar mens wel 'people' met 'gepeupel' sal vertaal soos in byvoorbeeld 'the people looted and burnt shops in Sasolburg'). Jy moet versigtig wees vir sulke woorde wat dieselfde klink of lyk soos braaf, dapper, pure, warm, wyf ens, daar is baie.
So maak jy ook 'n fout met 'nasie' – 'nasie' en 'volk' is dieselfde, die Engelse praat van 'nation', ek glo nie hulle het 'n woord vir volk nie. Jy kan praat van die Boerevolk of die Boerenasie, die Duitse volk of die Duitse nasie, dis dieselfde ding. So, mense van iewers in Europa kan nie met teodoliete en goed reguit strepe op 'n stuk grond trek en, vir wie ookal hulself daar binne bevind, vertel 'julle is nou 'n nasie, per ons dekreet' nie. So, weer eens, die storie waarin ons ons nou bevind is alles behalwe 'n demokrasie.
Jy sê ek sien kans vir 'n outonome volkstaat. Ek kan nie onthou dat ek ooit so-iets gesê het nie. Wat ek wel sê is dat 'n outonome volkstaat wonderlik sal wees en ek kan my kwalik voorstel dat daar iemand in die land is wat nie weer pieknieks, flieks, veilige parke, window shopping, veilige reise, be- en vertroubare polisie, goedkoop elektrisiteit, standhoudende watervoorsiening en Afrikaans in die openbare lewe sal geniet nie (en dis maar onder andere, daar is nog talle ander goed wat verval en verdwyn het sedert '94).
Oor die 'dom' Afrikaners het ek al baie met jou gepraat. Die een voorbeeld wat ek aan kan dink wat ek al vir jou moes aanhaal is die wiskunde-onnie wat sy matriekklas 'n klomp dom bliksems noem. Natuurlik bedoel hy nie regtig hulle is dom nie, hulle het dan almal standerd 9 wiskunde deurgekom. 'Dom' in hierdie sin waarvan jy my (en Dan Roodt) beskuldig is maar eintlik 'naïef' want die groot gros van ons is met slap pap onder 'n wip gevang. Behalwe 'naïef' het ek nog woorde soos gedienstig, pateties, gedweë en jammerlik gebruik. Hoe anders as mense handeklap en juig dat hulle 'vry' is te midde van 'n toestand waar hulle Afrikaanse plekname weggevat word, waar hulle nie Afrikaans op kantoor of met die belastinggaarder kan praat nie en waar hulle volksgenote met eentonige reëlmaat op die allerwreedste maniere op plase vermoor word (weer eens net onder andere want daar is nog baie ander bose goed).
Jy verskaf menings van Dan Roodt ten opsigte verskeie politieke aangeleenthede, onder andere Helen Zille het en, omdat hierdie menings nie met joune strook nie, is dit vir jou 'n bewys dat hy lieg. Jy sal beter as dit moet doen. Terloops, ek dink ook Helen Zille en die ganse DA het nie veel ooghare vir die Afrikaner nie. Miskien is ek verkeerd.
Jy blyk ook vreeslik ontstig te wees oor Dan Roodt beweer dat (sekere?) Afrikaanse joernaliste op die NIR se betaalstaat is. Die blote feit dat jy net hierdie stelling aanhaal is nie 'n bewys dat hy wel lieg nie; as jy reken dis nie die waarheid nie moet jy die redes wat hy vir so 'n stelling verskaf kelder, dit help nie om net sy stelling aan te haal nie.
Ek kan nie glo jy kweel nog oor die dienspligstorie nie; dis mos nou al deurtrap. Ek weet nie wat Dan se verklaring daaromtrent is nie maar my siening is bloot dat hy tot ander insigte moes gekom het. Dis mos 'n ding wat taamlik algemeen voorkom; 'n klomp mense byvoorbeeld vra nou verskoning vir apartheid; hulle was voorheen skuldig aan die bedryf daarvan maar het nou tot ander insigte gekom (net, in Dan se geval is dit 'n kwessie van sy oë het oopgegaan waar die ander s'n nou weer 'n kwessie van breinspoeling was).
Nou ja, laat weet maar as daar iets is wat jy dink ek nie geantwoord het nie; ek antwoord graag.
Jan Rap


Kommentaar
"Jy blyk ook vreeslik ontstig te wees oor Dan Roodt BEWEEER dat (sekere?) Afrikaanse joernaliste op die NIR se betaalstaat is Die blote feit dat jy net hierdie stelling aanhaal is nie 'n bewys dat hy wel lieg nie; as jy reken dis nie die waarheid nie moet jy die redes wat hy vir so 'n stelling verskaf kelder, dit help nie om net sy stelling aan te haal nie."
Dis asof ek se: "Jan is 'n poepol" In terme van sy eie redenasie, het ek nie nodig om my bewering met bewyse te staaf nie. Die onus berus nou by Jan om die teendeel te bewys hy nie 'n poepol is nie.
Nee Jan. Jy is die een wat foute maak. Ek los dit aan die leser oor om sy eie gevolgtrekkings te maak, veral oor jou wegskraming van die kern onderwerp onder bespreking.
Jaco Fourie
Jaco, Dan het ongetwyfels sy redes gegee hoekom hy dink die joernaliste is in die sakkie van die NRI; hy sal mos nou nie so 'n stelling uit die bloute maak nie? As jy reken sy redes is ongegrond, sê hoekom. Jy kan nie bloot sy stelling herhaal en omdat nie strook met joune beweer dat hy lieg nie.
Wat is die onderwerp van bespreking waarvan ek sou wegskram? Lig my asseblief in - daar is niks waarvan ek sal wegskram as ek verkeerd is nie; dit sal my plig wees om te erken ek het 'n borrel gehap. Indien jy voel ek skram weg van iets, lig my in asseblief laat ek jou kan antwoord.
NS Skram jy weg van jou borrel oor 'gepeupel' en 'people'?