Ja Jaco
Jy is heeltemal reg dat ek besorg is oor jou! Ek wil regtig nie inmeng in julle privaat lewens nie, maar ek het die laaste ruk nogal ’n sagte plekke vir baie van julle ontwikkel, en dit maak mens soms hartseer om te dink dat iemand so roekeloos tekere kan gaan. Ek sal maar voortaan maak asof hierdie vertellinge van jou, bloot stories is, wat jy vertel om ons siele te versondig.
Ja, ek is dalk baie meer soos die Tant Gawie waarvan jy vertel, as wat julle dink. Hier kom gereeld jongmense by my aan huis, en ek luister graag na hulle probleme. Ek het juis een vriendin wie ook heeltemal die pad byster geraak het, maar ek probeer om haar nie te oordeel nie, en luister maar aandagtig na haar dinge. Ek het ook al op ’n kol met ’n homoseksuele buurman oor en weer gekuier, maar ek het nooit by hom hierdie desperaatheid wat jy deesdae het om jou seksuele wedervaringe te bespreek bemerk nie. Ek probeer maar altyd ’n voorbeeld stel as ek met ander mense te doen het, en gee my raad en advies gebaseer op wat vir my belangrik is. Dit is natuurlik die Woord en die riglyne wat daarin vervat is. Ons kan nie oordeel en julle dwing om julle oë oop te maak nie, maar ons kan bid dat julle ook die Genade sal ontvang.
Mense soos Cornelius, het nog altyd probeer voorgee asof ek so verstok en niks gewoond is nie! Alhoewel jy nooit liederlike en smerige taal gebruik by my sal vind nie, is ek nogal aan baie meer gewoond as wat jy kan dink. Die feit dat ek so na as moontlik aan God leef, beteken nie dat ek soms omring word deur mense wat die pad byster geraak het, of soekend is nie. Vir die opregtes onder hulle, het ek baie simpatie, en probeer maar op my manier raad en leiding gee. Dit is al wat ons kan doen. So julle skokkende stories, bring my nie regtig van stryk nie, alhoewel ek natuurlik die wenkbroue lig!
Ek hoop dus maar dat jy werklik stories vertel en in die regte lewe baie meer verantwoordelik optree, as wat jy hier voorgee!
Sterkte
Tant Alie

