Jack le Roux en Jesus Camp

  • 0

Jack

 

Dankie, vir jou terugvoer oor Jesus Camp.

Die hantering van die kinders moet mens dalk nie in isolasie beskou nie. Jy weet, ons as gelowiges hier in die land se blootstelling aan Godsdiensbeoefening wissel van die uiters stigtelike Gereformeerde ervaring regdeur tot by die mees aktiewe charismatiese kerk.

Die kinders se reaksie op die charismatiese benadering by Jesus Camp is iets om te aanskou. Anders as kinders in die Gereformeerde milieu (my eie agtergrond), raak kinders spontaan betrokke by Godsdiensbeoefening en is hulle veel meer betrokke en geïnspireerd. Vir die Gereformeerde, byvoorbeeld, om die charismata te kritiseer, is dalk nie net ongevraagd nie, maar sekerlik uit plek uit. Op geen stadium word charismatiese kinders gebreinspoel in hulle belewenis nie, maar het hulle die geleentheid om vrye teuels te gee aan hulle eie belewenis van die ervaring.

Net so in Jesus Camp. Ons weet dat die kinders hoofsaaklik uit die Amerikaanse charismatiese Godsdienstige gemeenskap kom en baie gemaklik en vertroud is met die Jesus Camp-soort ervaring. Hulle sal hulle in ’n Gereformeerde ervaring waarskynlik ongemaklik bevind, omdat hulle aangekyk sal word as hulle net effens die inhibisies daar afgooi. Die Gereformeerde kinders ervaar hulle Godsdiens belewenis meestal as vervelig en iets wat hulle moet doen. Daar is bitter weinig wat hulle in hulle kinderlike dinamika aangryp in hulle Godsdiens belewenis. Nie so nie, met die charismatiese kinders. Hulle word toegelaat om spontaan en dinamies hulle Godsdiens uit te leef.

Ek sou egter net die direkte politieke agenda van die organiseerders bevraagteken, maar nie die idee om die kinders te lei om vir ’n Godsdienstige regering te bid en te beywer nie.

Maar die aspekte wat veral uitstaan, en wat mense ongelukkig weens die inhibisies maklik miskyk, is die absolute opregtheid waarmee die kinders hulle spiritualiteit in al hulle energie daar uitleef en kon uitleef. Kinders het nie verskuilde agendas nie en kinders mislei nie. Hulle is opreg en eerlik. En dáár in die Jesus Camp-milieu sien ons hoe dinamies hulle is wanneer hulle toegelaat word, selfs aangemoedig word, om opreg spontaan hulleself te wees in hulle Godsdiensbeoefening. Dit is ’n bewys dat hulle nié skokkend behandel word nie, óf uitgebuit, gedreig en gebreinspoel word nie.

En dit is nie asof ek gemaklik is met die aanbieding nie, want ek is steeds ongemaklik in daardie milieu weens my Gereformeerde blootstelling en opvoeding, maar ek beskou dit my plig om binne Woord-Christelike norme onbevooroordeeld en objektief na die ervaring van ander te kyk – vandaar my standpunt.

Die rede waarom ek die resensies aanbied, is juis omdat dit boekdele spreek in wat dit nie direk sê nie – niémand, sal die Jesus Camp-aanbieding so prys en hoog aanslaan, as dit waar was dat kinders daar skokkend behandel was, óf uitgebuit, gedreig en gebreinspoel was nie. Net ongelowiges met ’n agenda skiet dit af, Jy is dus reg as jy sê dat dit glad nie is as gevolg van enige geloofsboodskap daarin vervat nie, want die resensies is hoofsaaklik deur sekulêre resensente, maar juis vanweë die openhartige, eerlike manier en die absolute dinamika van die verrigtinge. En dit volg dan dat as dié produksie ’n plek was waar kinders werklik skokkend behandel was, óf uitgebuit, gedreig en gebreinspoel was, sou hulle almal ten hemele skreeu en die produksie en dit wat dit weergee, afgetakel het – ek ook.

Ongelowige sal uiteraard baie ongemaklik wees daarmee … Verdraagsame (diegene wie spontane uitlewing van opregte, eerlike geloofsbeoefening kan en behoort te verdra) Christene nie.

Groete,

Kobus de Klerk 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top