In sy finale probeerslag probeer J W Gericke te kenne gee dat die metatekstuele geskiedenis-benadering die beweerde nie-bestaan (hoe lasterlik van hom) van God uitwys aangesien die sogenaamde al te lokale en al te onlangse oorsprong van Godsdiens vergeleke die historiese en kosmiese tyd- en omvang skaal nie ’n ander gevolgtrekking toelaat nie as dat die God konsep die produk is van tipiese menslike ideologiese verdigsel.
Gericke raak betrokke by die verskillende beweringe omtrent die ouderdom van die aarde en ook rondom die sogenaamde kronologie van die Ou Testamentiese Woord in ’n metatekstuele oefening om te probeer vasstel wat die eintlike aard van die Ou Testamentiese tekste dan sou wees, waar geloof in God vandaan kom en hoe dit kwansuis sou verander oor die verloop van die geskiedenis. Sy gevolgtrekking is min of meer dat die Ou Testamentiese gegewens onhoudbaar is en dat mense wat vandag lewe, in ieder geval nie meer glo in die Ou-Testamenties geopenbaarde God, nie en derhalwe is die God waarna die Woord verwys, ook fiksie. Wat hy te kenne wil gee, is dat die God-konsep deur die mens geskep is en saam met die mens verander en derhalwe is God nie-bestaande buite die konteks van die mens se kontekstualisering van die God-konsep. Dit kom daarop neer dat die mens God versin en daarom verskil die konsepte só maar is daar niks buiten die veranderlike menslike konsepte, wat onafhanklik daarvan bestaan, nie.
Hierdie konklusie is natuurlik van alle substansie ontbloot.
Gericke reken dat die geskiedenis te menslik georiënteerd, is om toegeskryf te word aan die betrokkenheid van God en dat die eerste tekens van die aanbidding (hy verwys daarna as ’n kultus) eers so laat as die Bronstydperk (ongeveer 1400 vC) ontstaan het. Wat hy egter geriefshalwe oor die hoof sien, is dat die eerste mense, Adam en Eva, al vir God gedien, het, van die begin af, lánk voor die Bronstydperk en natuurlik daarna, Noag en sy nasate totdat die korrupsie ingetree het. Die logiese punt is dat, hoewel God vir ewig bestaan, kon die mens God nie dien of op rekord stel voordat God die mens geskape het, nie en voordat Homself aan die mens openbaar het en dan ook slegs tot die mate waarin God dit gedoen het, nie.
Agnostici voer graag so ’n lysie van sogenaamde redes aan waarom mense kwansuis die Godheid versin, het – om aan allerlei sielkundige en sosiale behoeftes te voorsien – God as ’n tipe van ’n nie-werklike kruk. Maar dit is ongefundeerde snert.
Hoewel gelowiges groot bemoediging en krag uit hul verhouding met hul Skepper en Verlosser put, in omstandighede waar swaarkry (deur globale sonde) ’n geweldige nadelige deurpriemende invloed op die mens se bestaan teweeggebring het (die rede wat deur agnostici aangevoer word waarom mense vir hulle sielkundig ’n ‘god’ versin as kruk), het Adam en Eva géén sodanige motivering hoegenaamd gehad om vir hulle ’n ‘god’ te versin, nie en het ook géén sodanige ‘veroorsakende’ ervaringe of behoeftes gehad, nie. Ál die futiele redes wat agnostici versin waarom die mens vanuit ’n sielkundige en psigiatriese oogpunt gesien, kwansuis die Godheid sou wou versin, val by hierdie eenvoudige argument weg. Adam en Eva had absoluut géén tekort, behoefte en sinnigheid wat nie alreeds aan hulle voorsien is in Eden, nie. Hulle het dus nie behoefte gehad om vir hulle ’n Godheid te versin om aan só ’n nie-bestaande behoefte te voorsien, nie. Daar is géén rede, dus, waarom hulle hulself dan sou wou belet om van die Boom van Kennis van Goed en Kwaad, byvoorbeeld, te neem, nie en nog véél minder rede waarom hulle God sou probeer versin om vir hulle só ’n verbod op te lê. Tog het hulle met God te doen gekry, van meet af, aan. Dus, God is géén versinsels nie, maar is die onafhanklike Godheid Wie in elke mens se lewe wesenlike betrokkenheid het – eerstens as Skepper daarvan en dan ook in die standhouding van die skepping (Kolossense 1:17; Hebreërs 1:3)
Dit is dus verstommend insigloos dat ’n mens sal wil voorgee dat God, Wie deur die mens aanbid word, SY ontstaan of bestaan te danke het aan die eerste keer dat die mense skriftelik melding maak van God in hulle rekords. Daar is beswaarlik ’n meer insiglose en onjuiste benadering as dié soort van ding.
Wat wél duidelik is - en dit weerspreek Gericke se spekulasie geheel en al - is dat God besluit het om suiwering te bewerkstellig deur die vestiging van ’n volk wat dan sou dien as voorbeeld vir ander volkere ten aansien van die ware God en Godsdiens (Eksodus 6:6; 19:5; Deuteronomium 4:20; 7:6; 2 Samuel 7:24; Psalm 75:4) as logiese opvolg van die sluiting van die Verbond met Abram (Abraham - Genesis 17:2–14) as opvolger van die Noagiaanse Verbond (Genesis 9:1–19) en soos wat bevestig was met hierdie Israelitiese Verbond in Sinai (Eksodus 19:5–8).
Vervolg ...
Kobus de Klerk

