Gericke gaan ook van die standpunt uit dat die historiese verhaling fiktief is, omdat daar in sommige plekke tipografiese foute voorkom. Hy gee ook te kenne dat daar wesentlike foute is. Dit is egter nié korrek nie. Dan gee hy te kenne dat God nie betrokke kon wees by die verhaling van twee teenstrydige weergawes van dieselfde aspek, nie. Sy radikale uitgangspunt is dan om te sê dat God nie bestaan nie. Hierdie radikale standpunt is natuurlik die een wat sy agnostiese verwysingsraamwerk sal pas.
Maar Gericke is natuurlik nie sorgvuldig en reg in sy kritiek, nie. Dit is onmoontlik om ál sy sogenaamde teenstrydighede aan te haal en te bespreek in die perspektief waarin dit hoort, maar ons kan by demonstrasie so ’n paar daarvan uitsonder.
Dit is belangrik om daarop te let dat God die Woord geïnspireer, het en nié as sodanig verbatim gedikteer het, nie. Dit is immers darem mos duidelik komende van die Woord (HERE Jesus Christus) Self, waar die Woord duidelik maak dat die Hemelse Vader die Heilige Gees sal stuur om te kom om die getuies (wat sekerlik ook die latere skribas wat die Woord opskrywe, insluit) te herinner aan wat HY ons leer (Johannes 14:26) – te herinner en nié verbatim voor te skrywe, nie. Daarom kan ons verwag dat die essensie van ’n saak sal aanraak en dan die skriba laat om dit te verwoord, tensy die Gees sekere aanhalings verbatim so diktee, soos byvoorbeeld sekere aanhalings van die HERE se Woord. Die ánder belangrike aspek is ook dat die dissipels kontemporêre notas sou hou van belangrike dinge en gebeure en dan dit later gebruik het by die boekstawing van die evangelies. Dit is immers algemene gebruik by mense wat skrifbemagtig is vir so lank as wat ons kan onthou. Paulus het selfs ’n skriba gehad (Lukas) en Markus (Johannes Markus) was klaarblyklik ook só ’n skriba, te wete dié van Petrus. Die opskrywing van die evangelies in essensie is dus bo verdenking.
In die Ou Testament, was dit die Goddelike gebruik om direk met SY profete te kommunikeer. Hulle sou dus óók kontemporêre aantekeninge hou en in sommige gevalle gedetailleerde aantekeninge. Ons kan die voorkoms van beide in die Ou-Testamentiese Woord báie duidelik waarneem. Die boekstawing is normaalweg in algemene trant en selfs soms in poëtiese, prosaïese formaat. Maar wanneer die HERE verwag het dat HY verbatim gekwoteer moes word, sal ons sien dat die profete min of meer as volg rapporteer “So spreek die HERE…” (Moses); “[En] die Woord van God het tot … gekom en gesê …” (Semája); “Die Woord van die HERE het tot my gekom… ” (Jeremia) en “Hoor, o hemele, en luister, o aarde, want die Here spreek …” (Jesaja) ens.
Mens kan dus verwag dat die HERE die profeet of dienaar sou opdra om die plaasvind van spesifieke gebeurtenisse te vermeld, sonder om die detail daarvan weer te herhaal – byvoorbeeld, “teken geslagsregisters van so-en-so op”, of “maak besondere vermelding van die swerftog deur die woestyn en die redes daarvoor deur ook die volgende belangrike aspekte te vermeld … ” ens en sal die formulering en styl en aanbieding dié wees van die betrokke profeet of skriba wat dit boekstaaf.
Dit is dus moontlik om hier en daar tipografiese foute te sien, wat aan die essensie en waarheid van die Woord, absoluut géén afbreuk doen, nie – tewens, in soverre dit mog bestaan, het dit het nog nóóit enige gelowige mislei óf verwar, nie.
Só beskou Gericke die skeppingsgegewens in Genesis 1:1-31 as strydig met dié van Genesis 2:4-25. Maar daar is absoluut geen teenstrydigheid, nie. Gericke, so te wagte van ’n agnostikus, verstaan net gewoon nie wat hy lees nie. Genesis 1 gee die feite van die skepping in die orde wat dit gedoen is. Genesis 2 vermeld weer daardie die aspekte, maar vir ’n gans ander rede en dus in ’n ander orde – om die hiërargieë aan te dui – Dáár gaan dit oor die hiërargiese- én inter-verhoudinge van mens tot God, mens tot mens, mens tot dier, mens tot plant en dier tot plant. Dus, die gegewens in Genesis 2 laat glad nie klem val op die blote wetenskaplike volgorde van dinge, soos in Genesis 1 belangrik geag is, nie, maar vermeld die skepping weer ter wille van en in verhouding tot, die hiërargieë wat nou aangedui word, in die plekke waar dit in die besondere hiërargiese orde gepas, is.
Daar is nog heelwat voorbeelde van dieselfde mistastinge weens gebrek aan insig aan die kant van Gericke. Hy is ook nie in staat om die Woord in sy kontekstuele verband te begryp nie.
Hy vermeld Genesis 4:26 waar Adam en Eva en hul seun Set, die HERE (weer) begin dien, het – en dit word só gestel soos wat gebruiklik is in die Woord – “Toe het hulle die Naam van die Here begin aanroep”. Gericke beskou dit as teenstrydig met Eksodus 6:2 waar daar staan “Ek het aan Abraham, aan Isak en aan Jakob verskyn as God, die Almagtige, maar met my Naam Here het Ek My nie aan hulle bekend gemaak nie”. Hierdie mistasting aan die kant van Gericke grens aan die kwaadwillige – dit is opsetlik bevooroordeeld en ’n gegryp na strooihalms.
Eerstens het God het wél SY Naam aan Adam en Eva bekend gemaak – God het immers met hulle in die Tuin gewandel (Genesis 3:8), waarskynlik juis weer in die formaat van die Engel van die HERE, ’n formaat wat die HERE Jesus in die Ou-Testamentiese tyd redelik dikwels aangeneem het om aan die mens te verskyn (Genesis 16:7; 21:17; 22:11; 31:11; ?48:16; Eksodus 3:2; 14:19; ?Numeri 22:22–35; ?Rigters 2:1; 5:23; 6:11, 20-?21; 13:3, 9; ?13–21; ?2 Konings 1:3; ?Jesaja 37:36; 63:9 Psalm 34:8; ?35:5; ?Sagaria 1:11; ?Sg. 3:1–6; 12:8; ?13:9; Maleagi 3:1) voordat HY duisende jare later in die vlees (uit die maagd) as die Seun gekom, het. Die teks sê baie uitdruklik dat God nie SY Gedenknaam aan spesifiek Abraham, Isak en Jakob bekend gemaak het, nie. God het hoegenaamd nie in Eksodus 6 in die gesprek met Moses, na Adam, Eva en Set verwys, nie en verwys die twee tekste na geheel en al ander omstandighede en situasies.
Tweedens is die uitdrukking ’n geykte Bybelse idioom, ’n uitdrukking, wat bloot aandui dat mense hul in geloof en eerbied tot God wend (Genesis 12:8; 13:4; 21:33; 26:25; Psalm 99:6; 115:4; 116:13, 17; 1 Konings 18:24; 2 Konings 5:11; Jeremia 44:26; Joël 2:32; Sefanja 3:9; Johannes 1:12; 2:23; Handelinge 2:21; 22:16; Romeine 10:13; 1 Korinthiërs 1:2, ens.)
In die derde plek is dit ook ’n uitdrukking wat die outoriteit van God aandui (die Pentateuch is deurspek met voorbeelde).
Daar is dus hoegenaamd niks teenstrydig daaraan, nie.
Die enigste verskil tussen al die ander wat God by Naam aangeroep het (gedien het) het dit gedoen by die Naam wat God aan hulle openbaar het op daardie stadium. Maar tydens die ontmoeting met Moses in Eksodus 6, het God besluit om SY eintlike, heilige Gedenknaam bekend te stel (Eksodus 3:15; Psalm 30:5; 97:12; 102:13; 135:13; Jesaja 26:8; Hosea 12:6) welke God geheel en el onderskei van enige ander gode se name of enige genusnaam wat tevore gebruik sou wees.
Nog ’n selfs méér insiglose poging van Gericke is die bewering dat Genesis 7:4, 12, 14, wat bloot verklaar dat dit 40 dae en nagte aaneen sou reën en wel gereën het, teenstrydig is met Genesis 7:24 en 8:3 wat verklaar dat die vloedwaters vir 150 dae lank die aarde bedek het voor dit sodanig gesak het dat Noag-hulle die ark kon verlaat. Dus, dit het 40 dae en nagte lank aaneen hard gereën waartydens die watervlak bly styg, het. Daarna het dit nog die beste deel van ten minste 110 dae lank (dus altesaam 150 dae oftewel 5 maande lank) die aarde bedek het, waartydens dit stadigaan begin sak het deur wegsyfering en verdamping, ens. Wat is teenstrydig daaraan? Trouens, dit is perfek logies, juis een van die aspekte wat die Bybelse gegewe van die sondvloed onderskei van die latere pagan nasies s’n wat dit in verskeie korrupte variasies as deel van hul antieke geskiedenis het - daar is sowat 250 of dalk meer, antieke sondvloed verhale van regoor die aardbol (geen radio, televisie, internet, ens wat die advent rugbaar kon maak, nie), wat bewys dat dit wél ’n globale vloed, was. Soos die Noagiaanse nasate gaandeweg oor die aardbol versprei het, het die rekords oor die sondvloed waarskynlik ook mettertyd gekorrupteer geraak, nes die religieë. Maar Moses is deur God gelei om die werklike verhaal in die mate van detail wat daar wel is, op te teken.
Só kan mens aangaan met Gericke se uiters lasterlike wanvoorstellings en wanbegrippe … want in dit alles val hy God aan …
Daar is dus ’n bevredigende verklaring in konteks vir al die sogenaamde ‘teenstrydighede’ wat die agnostici (Gericke is een van hulle) probeer aangee as synde tot die wese van die betroubaarheid van die Woord, te gaan wat dan aandui dat dit nie teenstrydighede is nie, maar eerder onbegrip en insigloosheid aan die kant van die agnostici.
Vervolg …
Kobus de Klerk


Kommentaar
Kobus, JW Gericke verklaar homself as 'n ateïs, nie as 'n agnost nie. Ten einde jou "kwibus" boog skiet in perspektief te plaas, deel ek hierdie skakel om 'n algemene betekenis aan die woord agnost te bring [ http://en.wikipedia.org/wiki/Agnosticism ]. Daar is 'n wesenlike verskil tussen 'n agnost en 'n ateïs. 'n Agnost is iemand wat heel gematig en met respek tot almal se hart daarin aanvaar dat God se bestaan al dan nie, bewys kan word nie. Kobus, jy is lang gelede reeds en menigmaal intussen op jou dwaling gewys maar bewys jou narsisme om te volhard in jou hatige waansin met die woord "agnost" en jou vernieling daarvan. Is redelike taalbegrip dan nie meer 'n hoeksteen vir 'n goeie redevoering nie - of dra swakte daarin by tot jou omstrede "godskunde" en goedkoop sensasie op die werf?
Jou amigo in Adam, Cornelius
Dit: "Dit is onmoontlik om ál sy sogenaamde teenstrydighede aan te haal en te bespreek in die perspektief waarin dit hoort, maar ons kan by demonstrasie so ’n paar daarvan uitsonder", moet die "understatement" van jou lewe wees. Kyk maar net na die inhouds opgawe:
7.2 ARGUMENTS AGAINST HISTORICITY
7.2.1 The argument from intra-textual contradictions
7.2.2 The argument from fictitious cosmography
7.2.3 The argument from the impossible narrator’s perspective
7.2.4 The argument from numerical absurdities
7.2.5 The argument from chronological schematisation
7.2.6 The argument from mythological motifs
7.2.7 The argument from archaeological falsification
7.2.8 The argument from anachronisms in the texts
7.2.9 The argument from intrusive literary constructs
7.2.10 The argument from etiological ideology
7.2.11 The argument from typological construction
7.2.12 The argument from misinterpretation of natural phenomena
7.2.13 The argument from retrojective ideological projections
7.2.14 The argument from scientific absurdities
7.2.15 The argument from historical errors
Is dit nie duidelik dat jy nog nie een keer ’n skakel gegee het na JW Gericke se tesis omdat jy nie durf jou patetiese "argumente" plaas langs sy werk nie.
http://upetd.up.ac.za/thesis/available/etd-03192004-135203/
Wat help die tirade jou, Chris? Al wat jy doen is om elke keer maar net weer presies die (geselekteerde) woorde van Gericke te kwoteer, sonder om self enige bydrae hoegenaamd te maak wat die kwessie vir jou of Gericke sou kon deurhaak.
Wat die webblad verwysing aanbetref, waarom moet ek dit ook plaas? Jy doen dit slaafs elke keer en voor hierdie reeksie artikels, is dit ook deur jou en Redelinghuys geplaas. Of meen jy stellig mense sal dit slegs lees as ek die skakel plaas?!
Om ’n paar voorbeelde uit te sonder, beteken nie die res word nie ook onder dieselfde kam geskeer, nie. Maar ek glo enigiemand met meer insig as jy in die saak, sal besef dat ek nie ook 500 bladsye hier kan skrywe om Gericke se agnostiese snert in al die detail daarvan te behandel nie – sonder die hulp van karikatuurtekeninge, natuurlik.
Maar jy begryp nie die aard van die kritiek wat aangebied word, nie. Dit ondervang al die snert, want geeneen van die talle goedjies wat hy kwytraak, kan by die kritiek verbykom, nie.
Hou gerus op om na strooihalms te gryp. Insig in en van die Woord is slegs van die HERE bekombaar (Mattheus 11:26-30; Johannes 14:23-26) – uiteraard ook ’n bespreking van die openbaring van die HERE van Homself. Gericke en jy sal die HERE se uitdruklike uitnodiging soos opgeteken in Mattheus 11:29 en Johannes 14:23 moet aanvaar en uitvoer, anders sal julle – duidelik – niks van Hom kan weet, nie. Ons sien dit elke keer as julle iets sê oor die HERE, vergeleke met die insigvolle bydraes van gelowiges.
Kobus de Klerk