J W Gericke oor God - Deel 4 - Paganistiese mitologie

  • 10

Gericke probeer dan ook ’n saak uitmaak dat die Ou-Testamentiese Woord deurspek is van mitologie en dat daar te veel parallelle is met ander, paganistiese antieke volkere, om as nie-mitologies uitgesonder te word. Hy kom dan en maak die konklusie dat die Ou-Testamentiese uitbeelding van die Godheid nie werklik verskil van die mitologie en onwerklikheid van antieke pagan volkere se afgode, nie. Hoe lasterlik kán die man dan wees? Dit wys ook op sy gebrek aan insig.

Gericke se werk is deurspek met mistastinge en wanopvattings. Tog baseer hy sy gevolgtrekkings op sy eie en ander se mistastinge. ’n Voorbeeld is sy behandeling van die verwysing na die ondier, die leviatan, in Job en elders in die Woord. Hoewel die leviatan waarskynlik in die Babiloniese en Ugaritiese literatuur na ’n monster verwys (l?t?n in Ugarit), is die gebruik van dié term in die Ou-Testamentiese Woord enersyds ’n verwysing na ’n krokodilagtige antieke seedier (Psalm 104:25-27; Job 41:1-34) en ook metafories na Israel se vyande (Psalm 74:14 – die koppe verwys na die verskillende vyandelike stamme; ?Jesaja 27:1 – waarskynlik die Kusiete en Filistyne). Dus is dit nié mitologie wanneer daar gesê word dat God dié leviatan-vyande verslaan nie, want die Ou Testament is vol voorbeelde van Goddelike ingryping om die gesuiwerde volk Israel van hul pagan bure te red en ook die redding van individue.

Gericke werk met min of meer vier selfopgestelde ‘toetse’ om by sy ongefundeerde gevolgtrekking van mitologie te kom – dat daar parallelle in die Ou-Testamentiese tekste met antieke paganistiese mitologie wat voor die Ou Testamentiese tekste opgeskrywe is, bestaan; dat die entiteite en veronderstelde verloop van gebeure in die parallelle meestal of uitsluitlik fiktief, is; dat die Ou-Testamentiese skrywers die diskoers aangeneem en vir hul eie doeleindes aangepas het vanuit ’n gemeenskaplike kulturele poel met die pagan nasies en dat die God-konsep kwansuis sommer geskep is uit dié gerekonstrueerde veronderstelde verloop van gebeure terwyl die op hul berus op mites, bygelowe en sinkretisme.

Die uitgangspunt van Gericke is verbasend tekortkomend en insigloos. Hy gebruik die opskrywe van die Ou-Testamentiese tekste as afsnypunt.

Maar, toe Ou-Testamentiese Pentateuch aanvanklik (ongeveer 1450 vC) geboekstaaf is, was dié pagan tekste nié vryelik beskikbaar, nie. Meeste daarvan was in cuneiform op enkele kliptafels, wat in die vorstelike paleise en paganistiese tempels gestoor is, of op pilaar kolomme in die paleise, uitgegraveer. Daardie werke was nié in museums of biblioteke wêreldwyd beskikbaar, nie; daar was nié internet, nie; daar was nié geredelike vervoer vir heen en weer reis vir navorsing, óf geredelike toegang tot hierdie bronne beskikbaar nie. Dit is só logies. Moses is die outeur van ten minste die Pentateuch met die bystand van sy broer, Aaron. Dit is dus baie onwaarskynlik dat Moses of Aaron hóégenaamd bewus was van die bestaan van die Babiloniese tablette of rekords om daardeur beïnvloed te kon word. Beide was voortdurend in die Egiptiese hof gesetel, die een (Moses) as aangenome seun van die Egiptiese prinses en die ander (Aaron), as slaaf en daarna het hulle deur die woestyn geswerf op pad na Kanaän. Net só ook met die profete. Hulle het ook waarskynlik geen toegang tot die paganistiese bronne gehad, nie. Verál die profete is persoonlike ervarings met God wat deur hulle of hul skribas opgeskrywe, is. Ander Ou-Testamentiese skrywers, soos Dawid, ook nie, want die houers van die pagan tablette was hul vyande.

Dus verval hierdie bewerings en postulering van Gericke as onsin. Die gewilde agnostiese bewering dat die Ou Testamentiese geskrifte eers gedurende die verstrooiing en daarna opgeskrywe is, is eweneens bog. Benewens dat hulle deur talle geskiedkundiges en deskundiges weerspreek word, is daar ook voortdurend aanduiding in die Ou Testamentiese geskrifte van die lees van wette en geskrifte sodat dit noodwendig aandui dat die wette en die profete voortdurend op skrif gestel, is, báie lank voor die verstrooiing (Eksodus 34:28; 39:30; Deuteronomium 4:13; 5:22; 10:4; 17:-18-19; 28:61; 29:20-21, 27; 30:10; 31:11; Josua 1:8; 8:31-34; 10:13; 23:6; 24:26; Jesaja 29:11-12; 34:16; 1 Samuel 10:25; Jeremia 36:6, 8, 15; 51:61, ens.)

Daar is ook géén aanduiding dat daar kulturele interaksie was tussen die oorspronklike opskrywers van die Heilige Skrifte en die antieke pagan volkere, sodat hulle kulture die optekenaars kon beïnvloed, nie – tewens, die énigste opdrag en bekende kontak was dié van oorlog (Eksodus 34:24) en dit sal beswaarlik kulturele kontak en uitruiling van inligting kon aanmoedig wat tot kulturele besoedeling aanleiding kon gee, soos deur Gericke aan ’n paar ander agnostici, beweer, word. Daarom het die kontak gekom ná die oorspronklike optekening reeds gedoen was en nadat die volkere deur oorlog oorrompel, was. Trouens, toe die besoedeling wél kom (waaroor die profeteboeke van die Woord in hoofsaak handel), was die oorspronklike Goddelike Godsdienstige beginsels reeds gevestig en ingeburger by die volk en ook derhalwe die opskrywers van die Heilige Skrifte van die Ou Testament. Dit is juis dat besoedeling later gekom het, welke deur die Heilige Skrifte in die Ou testament pertinent  uitgewys word, maar juis nié aangeneem word, nie – die  profeteboeke is duidelike aanduiding hiervan. Die geskrifte wat dus deurgegaan het, was dié van profete nè gelowiges wie in persoonlike kontak met God, was. Hierdie aspek weerspreek Gericke en sy mede agnostiese koortjie se hipotese oor pagan invloede wat op die beweerde nie bestaan van God sou dui (lasterlik soos hulle bewerings ookal is), ook geheel en al.

Maar daar is egter ander, báie ooglopende en geldige redes waarom daar parallelle tussen die Woord en antieke paganistiese volkere se religieë is.

Na die sondvloed, was daar net gelowiges in God wat oorleef, het – die regverdige gelowige Noag (Genesis 6:8-9) en sy uitgebreide gesin. Dus, dáár is die Godsdienstige grondslag van álle nasies daarna, gelê (Genesis 8:15-22; 9:1-3). Wat dus gebeur het, is dat die Noagiaanse nasate ’n grondslag van opvoeding in die weë van die ware God had en mettertyd versprei het oor die bekende wêreld van die tyd – ’n bewys hiervan is verder dat hulle algar dieselfde gemeenskaplike taal gepraat, het (Genesis 11:1) – te verwagte vir naasverwante.

Maar weens verwydering en eiesinnigheid het daar mettertyd Godsdienstige besoedeling en korrupsie ingetree (Genesis 10:8-20 gm 11:2-4) en is daar paganistiese religieë gevestig deur korrupte gebruike en instellings te vervleg met die beginsels van die ware Godsdiens van hul herkoms en opvoeding.

Dit is voor die hand liggend dat die ware Godsdiens, die Godsdiens van oorsprong is en dat die paganisme later daaromheen ontwikkel het weens korrupsie. Beslis nié andersom, nie. Vandaar dan ook dat daar parallelle te vinde is tussen die latere paganistiese religieë  en die oorspronklike ware Godsdiens en nié andersom, nie. Dit is dus die spoorelemente van ware Godsdiens wat in verskillende pagan religieë te vinde is tussen al die ander korrupsie en versinsels wat opgebou het, wat foutiewelik deur agnostiese kommentatore aangesien word as kwansuis aanklamping van die ware Godsdiens by pagan religieë.

So, wat het dan van die ware, oorspronklike Godsdiens geword in die see van antieke paganisme?

God het, as Goddelike voorsienigheid en werkswyse, nog áltyd vir Hom ’n nukleus ware gelowiges uitgespaar en geseën om die ware, suiwer Godsdiens voort te sit en uit te brei – verál wanneer dinge elders maar sleg gelyk, het (1 Konings 19:17-18; Romeine 11:4). Die hoëpriester Melgisedek is ’n sprekende voorbeeld van die suiwer Godsdienstige in diens van die ware God tussen ’n klomp ander wat weens korrupsie afgedwaal, het (Genesis 14:18). God het Melgisedek in aanraking gebring  met ons geloofsvader, Abraham (Hebreërs 7:1-10) (Abram, wie uit die paganistiese Ur afkomstig was) en só het God telkens die ware Godsdiens deur uitverkorenes uitgered en voortgesit om van krag tot kragte gaan, totdat die HERE Jesus Christus tweeduisend jaar gelde die finale stap tot vestiging van die ware Godsdiens, wêreldwyd, kom neem, het en daarna die getuies (Mattheus 28:19-20) – die res is mos geskiedenis … in die formaat van die ware Christelike Godsdiens.

Die ware Christelike Godsdiens is dus die voortsetting van die oorspronklike, ware Godsdiens vóór enige paganisme, terwyl die Judaïsme (die religie van die fariseërs en waarvan Paulus ’n bekeerling tot die ware Christelike Godsdiens, is) ’n afsplintering is wat sy beslag gekry het net voor en veral tydens die verstrooiing en is inderdaad die oorsaak van die verstrooiing end ie verwydering met die HERE Jesus Christus.

Vervolg …

Kobus de Klerk

  • 10

Kommentaar

  • Chris Dippenaar

    Hierdie kners van Kobus se tande is al wat dit is. Intellektuele gronde vir sy argument teen JW Gericke bestaan eenvoudig nie. Behalwe vir die fundementalis, ontken geen studente van die Ou Testament die invloed van Pagan mites en godsdiens op die teks, nie andersom soos knersers hierbo met ’n swetende voorkop beweer:

    "Chapter 5 features a reconstruction of the argument from mythology and syncretism. syncretism. Here the ontological implications of embarrassing elements in the Old Testament texts such as parallels with other ancient mythologies, ample evidence of syncretism, the belief in magic and traces of superstition will be spelled out. It will be argued that the presence of these elements in Old Testament God-talk makes realism in Old Testament theology problematic as it suggests that the ontological status of the deity is demonstrably not much different from any other god featured in ancient Near Eastern mythology". (p.28) 

    http://upetd.up.ac.za/thesis/available/etd-03192004-135203/

     

  • CorneliusHenn

    Wat ’n klug!

    Kobus de Klerk boog die volgende: "Maar, toe Ou-Testamentiese Pentateuch aanvanklik (ongeveer 1450 vC) geboekstaaf is, was dié pagan (sic) tekste nié vryelik beskikbaar, nie. Meeste daarvan was in cuneiform op enkele kliptafels, wat in die vorstelike paleise en paganistiese tempels gestoor is, of op pilaar kolomme in die paleise, uitgegraveer. Daardie werke was nié in museums of biblioteke wêreldwyd beskikbaar, nie; daar was nié internet (sic), nie; daar was nié geredelike vervoer vir heen en weer reis vir navorsing, óf geredelike toegang tot hierdie bronne beskikbaar nie. Dit is só logies. Moses is die outeur van ten minste die Pentateuch (sic) met die bystand van sy broer, Aaron (sic) ..."  

    Blablabla ...  

    Die naïwelinge rondom Kobus de Klerk in sy huiskerkbende lek natuurlike elke letter van Kobus se onsin op. 

     ... daar was nie Internet nie ... juis ... daarom kon godsdiensboewe soos Kobus de Klerk sekerlik ook in daardie dae floreer ... EN, elke Israeliet het natuurlik volgens Kobus de Klerk ’n Pentateug deur Moshe self geteken in hul sak gedra ... 

    Hahaha ...

    Wat ’n klomp drek!    

    Tyd het genade saam en selfs hierdie stront van Kobus de Klerk sal weldra in die niet verdwyn nes die godsdiensboewe se KdK van ouds lankal nie eens meer van geweet word nie. 

    Elkeen egter wat van beter weet het vandag ’n verantwoordelikheid om Kobus de Klerk se omstrede "Godskennis" aan die kaak te stel.

    Die feit is dat daar menige Heilige Skrif die toets van tyd deurstaan het. Sonder om tyd te mors op die algemene onsin hierbo nooi ek enige belangstellende om self op die verlossende Internet wat ons vandag tot ons beskikking het oor die onderwerp te Google. Die Internet is beslis ’n fundamentele anderhater soos Kobus de Klerk se vyand.  

    ’n Goeie begin kan dalk hier wees: http://en.wikipedia.org/wiki/Ancient_literature  

    Ja, die oudste Heilige Skrifte dateer reeds 2 600 voor Christus en ek glo ook nie elkeen het sy eie Veda in hul sak gedra nie. Die lering van Heilige Skrifte was egter nog altyd algemeen geken deur Godsdienstiges oor al die millennia heen.  

    Dis egter net ’n krappie aan die heel buitenste lagie van Kobus de Klerk se waansin hierbo. Enige ernstige student aan Ou Testamentiese studies behoort egter die Rabbinisme ook in ag te neem. Dis immers steeds die Jode se Heilige Skrifte en so vir meer as 3000 jaar reeds.

    Stel jouself voor Kobus de Klerk in sy gedeelde dwaal hierin met JW Gericke se kaf wis 3 000 jaar se Joodse belewenis uit!  

    Mag Jesus Christus onse HERE ons van Kobus de Klerk se waansin verlos.

    Cornelius

  • Chris Dippenaar

    Hello Cornelius

    Iets oor Rabbinisme. Jy het vantevore al aangedring daarop dat hierdie vorm van Judaïsme in ag geneem word deur JW Gericke. Ek kon nie verstaan dat my verwysing na hoofstuk 8 (8.2.7.5) blykbaar nie ernstig opgeneem is deur jou nie. Die feit dat jy na hierdie tradisie verwys as 3 000 jaar oud maak die probleem egter vir my duidelik.

    In die tyd van Jesus was daar rofweg vier hoofgroepe binne Judaïsme, nl. die Sadduseërs, Fariseërs, Esseners en die Selote. Daar was nie ’n enkele Judaïsme nie, en die verskille tussen hulle was soms groot. Die Fariseërs, volgens Josephus, was die groep wat die middelgrond verteenwoordig het. Sy beskrywing van die Fariseërs lei meeste kenners tot die gevolgtrekking dat Rabbinisme ontwikkel het uit hierdie groep. Hulle benadering was ideaal geplaas om die dominerende vorm van Judaïsme te raak na die verwoesting van die tempel.

    Rabbiniese tekste dateer vanaf die jaar 200 met die Mishna, die opskryf van die "oral law" of Halakah. Die Tosefta is ’n byvoegsel tot hierdie dokument. Die Talmud het twee weergawes (Land van Israel en Babiloniese) die eerste eindig in 400 en die tweede word gefinaliseer in 500.

    Die Talmud, veral, is dan seker die Rabbinisme interpretasie waarna jy verwys. Behalwe dat dit nie die dominerende vorm (via die Fariseërs) van Judaïsme was tydens die tyd van Jesus, is dit ook nie 3000 jaar oud nie. Die woord 'Fariseërs' het heel moontlik sy oorsprong in die woord 'Farsi', ’n verwysing na die Persiërs en die tydperk van die ballinskap, vandaar die invloed van Zoroastrisme op Judaïsme.

    Hoe dit ookal sy, die Rabbynse interpretasie van die Ou Testament kan nie in ag geneem word as ’n gesaghebbende bron in die konteks van Gericke se tesis nie: "In early post-biblical Judaism, the interpretation of the canonical text in the Mishnah and Gamarah (= the Talmud) and the differences between the various Talmudic traditions also indicate the creative reinterpretation of traditional materials for contemporary purposes" (Gericke:396)

    Chris

  • Kobus de Klerk

    Die kwessie is besonder eenvoudig – tensy daar iemand is wat kan bewys dat die Noagiaanse vloed gebeure en nagevolge ’n is mite is wat nie werklik is, nie – en daar is niemand nie want dit is waar –  is dit duidelik dat mense sommer daar die voorgeskiedenis ignoreer en hier op ’n plek wegspring asof die paganistiese volke die begin van alle religie, was. Trouens, die heel eerste mense op aarde, Adam en sy nageslag, was gelowiges (hoewel ongehoorsaam).

    Die storie dat dit die paganisme is wat die oorsprong of invloed van die ware Godsdiens soos in die Ou Testamentiese Woord vervat, is absoluut ongegrond.

    Die enigste teoloë wat so aandring op die paganistiese invloed op die Heilige Skrifte soos in die Ou Testamentiese Woord vervat, is agnostici met ’n baie duidelike vooropgestelde agenda. As die mense insig het, sal hulle juis die teenoorgestelde sien, want dit blyk baie duidelik uit die ganse Pentateug – die Mosaïese wette suiwer juis alle pagan gebruike en kulture uit die ware Godsdiens uit – voor die hand liggende voorbeelde van die talle wat daar is, is die kwessie omtrent tatoeëring en sekere haarsnit wat taboe is juis omdat dit pagan gebruike voorstel (Levitikus 19:28; 21:5; Deuteronomium 14:1; 21:11-13 ) – en vervang dit met suiwer Goddelik geleide, Godsdiens.

    Hieruit moet mens noodwendig aflei dat die gebruike by die pagan volke wat nie deur die Mosaïese wette verbied of verbeter is nie, nog oorblyfsels was van die ware Godsdiens wat weens tradisie en oorlewering nog behoue gebly het uit die oorspronklike ware Noagiaanse Godsdiens, wat op sy beurt weer sy oorsprong het van voor die sondeval omdat Noag en sy familie die vloed oorleef, het maar regverdig gelewe het voor God (Genesis 7:1) wat beteken dat hy, anders as die wat uitgedelg is, gehou het by die ware, oorspronklike Godsdiens.

    Met die waarheid omtrent die Noagiaanse Verbond en invloed van ware Godsdiens op alle volkere daarna, as synde voorvader van hulle algar, stort die gerieflike klugspul van die sekulêre en agnostiese teoloë totaal in duie.

    Dit is baie teleurstellend dat ’n persoon wat homself uitgee as teoloog, soos Gericke (jy kan ook maar die skoen aantrek, Chris), sy Bybelgeskiedenis soos in die Ou Testamentiese Woord geopenbaar so swak ken en die noodwendige implikasies daarvan so kan ignoreer. Die enigste verduideliking, veral iemand op doktorale vlak, is dat hy bevooroordeeld inligting selekteer om sy agnostiese agenda te pas. Dit is intellektueel laakbaar en lasterlik teenoor God, met Wie se Woord hy so omgaan.

    Kobus de Klerk

  • CorneliusHenn

    Hallo Chris,  

    Baie dankie vir jou leersame kommentaar.  

    Die rede waarom ek die Rabbinisme in hierdie geval as verteenwoordigend van ’n milinia oue Hebreeuse beskouing sou wou uitsonder, is hul konserwatiewe lering en bewaring van die Tora en die Talmud vandag steeds (onder andere).  

    Daar is wel veel meer kundige katolieke en ander meesters in die studie van die Ou Testament, maar hulle staan ongelukkig reeds onderhewig as Christene en daarom verdag volgens JW Gericke.  

    Behalwe die Rabbinisme moes elke ander vertakking in die Judaïsme en selfs Islam se interpretasies van bronne in die Ou Testament ook geag word om tot so ’n algemene beskouing van die Ou Testament te kom soos dié van JW Gericke.  

    Die Talmud bevat vele Bybelse uitlegte en kommentare oor die Tora, die Nevi'im en die Ketuvim; Joodse Bybel. Dit gee eintlik ’n historiese verband omtrent die hele Bybel.  

    Die enigste ernstige en toegewyde studente van die Talmud vandag waarvan ek weet is ’n Rabbi; eintlik net soos ’n dominee in sy kennis tussen die Protestante staan.  

    JW Gericke se aanspraak is op die end net so vreemd so die van Kobus de Klerk, naamlik dat hulle almal buite hulself se belewenis en beskouing van die tafel probeer vee. Hulle mag dit sekerlik doen as hulle wil, maar dit raak absurd as hulle hul aansprake agterna as absoluut probeer stel.

    Daar is baie ander skeptici buite ’n eng Afrikaner en gegriefde beskouing wat die Bybel analiseer. Sonder om enige onderhewigheid daarin te skep dink ek ’n mens moet Joodse skeptici en selfs Moslems wat godsdiens die rug gekeer het se werk lees alvorens jy ’n weldeurdagte ateïs kan wees.

    Boonop moet jy ook met ’n oop gemoed jou hart vir ander Godsdienste en ervaringe soos klasieke musiek kan oopmaak en dan besluit of die mens se hartstog na ons Skepper so vergesog is.

    Chris, het jy al ooit gedagte aan kundiges soos Sasha Lessin se beskouing omtrent "Yahwe" gegee? – kyk hier – http://vimeo.com/37006979 (laat weet my asseblief as jy ’n probleem met die skakel het)  

    Cornelius

  • Chris Dippenaar

    Kobus, met interpretasies soos hierdie van jou hierbo verdien jou geloof niks minder as bespotting nie. Soos ’n brak met ’n gebreekte rug sleep jy jou verlamde agterlyf agter jou aan terwyl jy tande wys vir almal. Pateties!

  • CorneliusHenn

    Hoekom alweer die "agnoste" so neerhaal "Kwibus" de Klerk?

    Ja, Kobus de Klerk se infernale omgang met taal en ander se harte beslaan ’n lang lys. Ten einde sy gekke boog skiet in perspektief te plaas, deel ek hierdie skakel om ’n algemene betekenis aan die woord agnost te bring [ http://en.wikipedia.org/wiki/Agnosticism ]. Daar is ’n wesenlike verskil tussen ’n agnost en ’n ateïs. Die teiken van Kobus se haat is dalk self gerekende ateïste soos onder meer JW Gericke, Angus, Thomas, Chris Dippenaar, Jaco Fourie, en heelwat ander. ’n Agnost is iemand wat heel gematig en met respek tot almal se hart daarin aanvaar dat God se bestaan al dan nie, bewys kan word nie. Onse Kwibus is egter lang gelede reeds en menigmaal intussen op sy dwaling gewys maar bewys sy absolute patologiese narsisme en anderhaat daarin om te volhard in sy hatige waansin met die woord "agnost" en sy vernieling daarvan.

    Is redelike taalbegrip dan nie meer ’n hoeksteen vir ’n goeie redevoering nie – of dra swakte daarin by tot Kobus de Klerk se omstrede "godskunde" en goedkoop sensasie op die werf?

    Cornelius

  • Chris Dippenaar

    Cornelius, jy kan tog nie ernstig wees nie.

    Het jy al gehoor van Erich von Daniken (Chariots of the Gods, Was God an Astronaut?)? Sasha Lessin volg in dieselfde tradisie en maak lekker geld uit ouens soos jy wat glo die woord 'gullible' is uit die Engelse woordeboek verwyder.

    As jy al ooit in jou lewe ’n argeologie of antropologie teksboek onder oë gehad het sou jy gekots het, plaas van skakels verskaf soos hierdie een hierbo. Tensy jy dit bedoel het as ’n grap?

    Chris

  • CorneliusHenn

    Hallo Chris,

    Al is ek nie eens met harte soos Sasha Lessin en Erich von Daniken se beskouinge nie, lag ek nooit vir ’n ander solank hulle nie ander daarmee probeer neerhaal nie.

    Min of eintlik niks is oor Astrale Reisigers is in ons Moedertaal te lese nie. Ons is egter wel met Afrikane soos Johan Heine, Michael Tellinger en CredoMutwa hier aan die Suidpunt van Afrika geseën. Ons het ook die oudste astrale struktuur op aarde hier aan Mzansi; die wonderfonds "Adam's Calendar". "Adam's Calendar" verbind antieke strukture tussen Waterval Boven, Machadodorp, Carolina en Dullstroom; ’n gebied veel groter as ons moderne Johannesburg. Dis die grootste antieke stad op aarde. "Adam's Calendar" is ook met goeie rede op dieselfde lengtegraad as die Zimbabwe Ruïnes en die Groot Piramide geleë. Daar word gereeld daarna as koning Salomo se Goudmyne verwys. Dan is daar nog die klipsirkel en wit leeus van Timbavati ...

    Lees ’n mens die boek Esegiël nadat jy Jamie Uys se "God's must be Crazy" gekyk het, dan word die beskrywing van ’n lansering op Cape Canaveral deur die profeet meer as tweeduisend jaar gelede in sy beperkte ervaring verstaanbaar. Soos daar geskrywe staan: "Toe het ek gekyk – en daar het ’n stormwind uit die noorde gekom, ’n groot wolk met onophoudelike vuur; en ’n glans was rondom die wolk, en daaruit, uit die vuur, het iets soos blinkende metaal geskitter ...

    Lees ’n mens die uittog van die Israeliete uit Egipte, hul omswerwinge in die woestyn en Moses se ervaringe op Sinai, dan verstaan ’n mens hoekom Astrale Ruimtevaarders so ’n diep indruk by die mens gelaat het. Vir 3000 jaar reeds wy die harte daarin se nageslag Pesach getrou.

    Die punt wat ek egter wou maak is dat  verwysinge na God in die Ou Testament deur menige hart en wyd oor millennia heen geïnterpreteer word.

    JW Gericke se algehele vervanging van God met ’n self opgemaakte naam soos "Yahweh" en dit dan aan dieselfde strooi afskiet is onsinnig.

    Chris, jy het duidelik in diepte kennis oor die onderwerp; kan jy asseblief jou mening oor Johan Heine, Michael Tellinger en CredoMutwa se werk en veral dalk die ontdekking van "Adam's Calendar" met ons in ’n volledige bydrae deel?  

    Namaste!  

    Cornelius

  • Chris Dippenaar

    Hello Cornelius

    As jy wil gesels oor Astrale Reisigers sal jy vir jouself ’n ander maatjie moet gaan soek.

    Chris

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top