J W Gericke oor God - Deel 1 - Teologiese pluralisme

  • 2

J W Gericke wend in sy doktorale proefskrif sewe ‘maatstawwe’ aan waaraan hy God van die Ou Testament (daar is mos net die Één ware God en dus ook God van die Nuwe Testament, God van vandag en God vir ewig) meet en te lig bevind ... Hoe lasterlik, arrogant en verwaand kán die mens meer wees, as juis dít?

Ewentwel.

Daar is nie spasie vir my op hierdie forum om sy bewerings oor die bestek van meer as 440 bladsye in enig detail te bespreek nie en sal dus báie, baie bondig in die hooftrekke daarvan behandel.

Teologiese pluralisme – Gericke meen die Woord in die Ou Testament bied God in teenstrydige hoedanighede aan. Sy fatale mistasting kan opgesom word in die volgende aanname wat hy maak, naamlik dat om die bestaan van ’n deïteit te bewys, daar eers ’n profiel van die aard en kenmerke van die deïteit gekonstrueer moet word –  hy meen mens kan nie die bestaan of nie-bestaan van ’n deïteit erken of ontken tensy die mens weet van watter soort deïteit daar sprake is, nie. Nou meen hy dat die openbaring van die Godheid in die Ou Testament glad nie kan inpas by só ’n kenmerkende deïteit – tipe profiel, nie en derhalwe dus net versinsel, is.

Genugtig, wat ’n groteske mistasting. Dit sou dalk in ’n multi-deïteitiese kultuur soos die Japanners se Shinto-religie vir hulle gewerk het omdat dit vir hulle belangrik sou wees om vas te stel of hulle met ’n spesifieke tipe deïteit te make het, of nie. Hulle word nie verniet na verwys as die “land van die miljoen gode”, nie. Selfs naaldwerk naalde het by hulle deïteit status om die ‘naaldwerkgod’ mee te dien … So ook sekere teepotte … ek meen juis dit is waar Russel se teepot-idee vandaan kom waarna ongelowige Thomas so graag verwys (en nie die insig het om van die ware God te onderskei, nie). Daar is ook natuurlik die talle gode van die hindoeïsme waar soiets in hulle kultuur vir hulle tot nut sou wees want hulle versin vryelik gode in hul religieuse kultuur. Hierdie multi-afgod konsepte met afgebakende funksies het hul oorsprong in die antieke afgodsdiens van die Sumeriërs derduisende jare gelede.

Die mistasting van Gericke lê daarin dat hy nie in staat is om te onderskei tussen daardie multi-deïteit afgodsreligieë en die ware Godsdiens, nie. Hy het egter géén verskoning nie,  want hy gebruik die Ou Testament as bron en moes dus volstaan met wat hy daarin vind – want dít is waar die ware Godheid Homself báie kursories openbaar aan die mens, juis in teëstelling met die versameling van antieke afgode. Gericke meen dus verkeerdelik (en natuurlik uiters lasterlik) dat daar teenstrydige in hierdie openbaring, is en dat God daarom, nie bestaan, nie.

Dit gaan egter Gericke se karige agnostiese mensgebonde begrip te bowe dat hy nie met ’n panteon van antieke afgode te make het, nie, maar met die Karakter van die multi-fasettige God te make het Wie verantwoordelik is vir die ganse skepping en Wie kan deel met énige van die multi-fasettige situasies wat die mensdom in sy vindingrykheid kan opdis, nie en wil God in een klein blikkie druk om by sy benouende agnostiese verwysingsraamwerk en profiel in te pas, anders is God se hoedanighede vir hom weersprekend. Dus, hy soek nie die ultra dinamiese God Wie Homself so effens (let wel, so effens) in die Ou Testament aan ons openbaar nie, maar eerder ’n got wat hy kan voorspel en kan tipeer en definieer in ’n spesifieke rigting, anders is dit taboe en daarmee maak hy ook sommer vir God, af.

Die probleem dus lê nie by die wyse waarop God Homself in al SY haas onbegryplike (let wel - onbegryplike) wonderlikheid en werklikheid in die Ou-Testamentiese Woord openbaar nie, maar by die kniehalterende en begrensde begrip van die mensgeskepte religieuse filosofie wat aan God ’n maak-of-breek mensgemaakte profiel wil toeken.

Daar is egter hoegenaamd niks binne die bestek van menslike kennis, ervaring en verwysing waarmee die volheid en omvang van God vergelyk kan word, nie en juis die Ou-Testamentiese Woord, waar Gericke sy halfgebakte ‘studie’ gaan doen het, maak dit ook baie duidelik (Jesaja 40:18, 25; 46:5; Eksodus 8:9-10; 15:11; 1 Samuel 2:2; Miga 7:18; 1 Konings 8:27 en sien ook Handelinge 17:29).

Die omvang en wonderlikheid van God is verhewe bo die menslike begrip en definisie en onbegryplik omvangryk en maak dit ook só in dieselfde Ou Testamentiese Woord duidelik (Job 11:7–9; 37:23; 36:26; 37:5) en die Goddelike openbaring van Homself in die Ou Testament is ooglopend net ter bekendstelling en nie ter volle openbaring, nie. Daarom is dit duidelik dat Gericke of enige ander wat sou probeer, dit gewoon nie sal regkry op God in ’n mensgemaakte religieuse profiel in te pas, nie. God is gewoon te kompleks, groot en omvangryk daarvoor.

Wie kán die Skepper van die heelal begryp en oordeel? Net die agnostikus in domastrante arrogansie en verwaandheid sal vergeefs probeer (Romeine 1:19-23; 1 Korinthiërs 1:20). God stel bloot net genoeg van Homself aan ons bekend sodat ons sal weet met Wie ons te make het en sodat ons in Liefde in Hom kan hoop en glo (1 Korinthiërs 13:12-13 gm 2 Korinthiërs 3:18; 5:7; Hebreërs 1:10-12; Jakobus 1:23-25).
Het Gericke sy navorsing afgeskeep, dat hy die belangrike aspekte hierbo genoem, wat sy hele premis verongeluk, kon mislees? Ken hy sy Bybel só swak? Het hy dalk nie begryp waarmee hy te make het, nie? Nee, ek meen hy het ’n bevooroordeelde agenda en dít is om te alle koste die bestaan van God te ontken en indie proses sal hy die baie inligting wat sy agenda weerspreek, ignoreer, soos ons sy sielsgenote hier op forum só dikwels ook sien doen – deel van daardie agnostiese selfdesepsie sindroom.

Vervolg …

Kobus de Klerk

  • 2

Kommentaar

  • Chris Dippenaar

    Hierdie opsomming van JW Gericke se argument behoort dit duidelik te maak dat Kobus besig is met ’n prokureurs-truuk:

    "In Chapter 2, the argument from intra-textual theological pluralism in the Old Testament will be reconstructed from a philosophical-critical perspective. First of all, it will be demonstrated that there exist within the Old Testament’s depiction of Yahweh serious and irreconcilable contradictions regarding the nature and attributes of Yahweh; the acts of Yahweh in history and the morality the deity considers normative. Secondly, diachronic perspectives from both tradition and source criticism will also reveal serious ontological dilemmas for realism. Given the reality of mutually exclusive representations of Yahweh in the Old Testament texts, the implication appears to be that, if Yahweh does exist at all, at least some of the depictions have no extra-textual counterparts. This means that realism based on a supposed "Old Testament view" of Yahweh is impossible. There is no one coherent Old Testament view of Yahweh. All we have is a host of mutually exclusive ideologies relating to each other in deconstructive fashion" (p.26)

    http://upetd.up.ac.za/thesis/available/etd-03192004-135203/

     

  • Kobus de Klerk

    Jy sal jou verbaas hoe sommige prokureurs dikwels die kaf van die korrels kan skei, Chris. En dit is ’n gawe, nie ’n truuk nie.

    Die gedeelte wat jy in vet druk benadruk van Gericke se opsomming, is juis die punt wat die kruks van die inhoud van my artikel hierbo onderstreep, maar dit sal jy mos nie besef nie – die agnostikus soek ’n enkel, eenvoudige definisie, profiel, van God, wat hy in sy agnostisiteit sal kan begryp, want dit is maar sy lot in die lewe – as iets nie fisiologies sigbaar, tasbaar en proebaar opgedis word nie, dan gaan die hele spektrum van ander heerlikheid en ervaringsveld (Spiritualiteit) gewoon by hom verby. Ek probeer jou nie hiermee beledig nie – dit is ’n aspek oor die jare heen wat baie duidelik in gesprekke tussen gelowiges en agnostici uitstaan. Maar dié sal jy nie omtrent God kry, nie.

    Verstaan jy dan nie wat jy lees in my artikel, nie? Duidelik nie.

    God is ultra kompleks en die opgeskrywe Woord openbaar maar net ’n baie geringe hoeveelheid van die komplisiteit van die Wese van God. Net genoeg om vir die mens te dien as aanknopingspunt om ’n verhouding met God te hê. Vandaar, as die verhouding eers vestig, dan word die mens gaandeweg meer en meer bewus van die kompleksiteit en Heerlikheid van God. Dit is ’n lewenslange groeiproses wat eendag in die hiernamaals in heerlike, ultra skitterende volle openbaring sal kulmineer (1 Korintiërs 13:12) Vers 13 is egter die belangrike raad vir die huidige proses.

    Die skepping getuig natuurlik ook van God se werke (Romeine 1:19-20 g.m. Job 12:7–9; Psalm 19:1–6; Jeremia 5:22) en dus ook van God se kompleksiteit en vul die Woord aan in daardie verband. Die man Gericke ken nie die Bybel, nie – kan dit lees, maar verstaan en ken dit nie – nes jy. Die Woord (soos na verwys) maak dit duidelik dat die heerlikheid van God nié vir dié wat nié ’n verhouding met Hom het, nie – soos jy en Gericke – net uit die opgetekende Woord geken word nie, maar inderdaad die kombinasie van Goddelike Woord (soos in die Bybel opgeteken) en Goddelike Daad (die kosmiese en veral die aardse skepping). Dan is daar natuurlik ook nog die derde aspek, wat julle niks van weet nie omdat julle dit nie kan ‘sien’ nie – die  persoonlike verhouding met God – vir die praktiserende gelowiges beskore (Jeremia 29:12; 33:3; Psalm 91:15; Jesaja 55:6, 7).

    Die feit dat daar dus in die Woord nie ’n sogenaamde enkel duidelike samehangende openbaring is, wat deur die agnostikus verstaan kan word, nie, is dus te verstane. Dit is die gesamentlik openbaring tesame met die getuienis van die natuurlike skepping van die kosmos (verál die aarde) tesame met die heerlike persoonlike verhouding met God, wat vir die mens slegs ’n glimp gee van die komplekse werklike heerlikheid van God.

    Dan is daar natuurlik ook die kwessie dat dit ’n fatale benaderingsmetode is om God te probeer 'meet' aan die korrupte religieuse konstrukte van pagan nasies van die tyd. Dit is mos duidelik dat hulle by die oorspronklike, ware Godsdiens (van Noag en sy seuns se nasate) – die enigste wat daar was om mee weg te spring – geleen het en dat hulle religie, nie die ware Godsdiens, nie, gekorrupteer  geraak het. Natuurlik sal dit ook dan ’n invloed hê oor hoe hulle dan oor die Godheid rapporteer. Maar met insig, kan dit maklik onderskei, word. Die Ou Testament bied sodanige onderskeiding. Die Mosaïese wette, byvoorbeeld, is ’n duidelike voorbeeld van hoe God suiwering van die pagan invloede bewerkstellig het – daar is talle voorskrifte en verbiedinge wat die pagan gebruike en korrupsie uitwys en uitwis.

    Gericke is kwaadwillig. En jy ook.

    Kobus de Klerk

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top