Ten slotte is dit die moeite werd, eintlik essensieel vir die onderrigwaarde daarvan, om Gericke se slothoofstuk, hoofstuk 11, te lees oor sy persoonlike ervaring van ‘gelowige’ na agnostikus – dit is besonder insiggewend, verál omdat dit weereens klinkklare bevestiging is van die betroubaarheid van die einste Woord soos opgeteken in die Bybel – en weerspreek sy poging om die Bybel as bron van die opgetekende Woord af te kraak (elders in sy proefskrif, hoofstuk 7, met talle ‘weersprekings’ kompleet), terwyl die einste Woord sý (en baie ander soos hy) geval vir ons só duidelik demonstreer en verduidelik:
“18 Luister julle dan na die gelykenis van die saaier.
…
20 En by wie op rotsagtige plekke gesaai is—dit is hy wat die Woord hoor en dit dadelik met blydskap aanneem;
21 maar hy het geen wortel in homself nie, hy is net vir ’n tyd, en as daar verdrukking en vervolging kom ter wille van die Woord, struikel hy dadelik.
22 En by wie in die dorings gesaai is—dit is hy wat die Woord hoor, maar die sorg van hierdie wêreld en die verleiding van die rykdom verstik die Woord, en hy word onvrugbaar” – Mattheus 13.
Goddank, God het hom uit die sendingveld weggehou … en gebruik hom nou as demonstrasie van die betroubaarheid van SY Woord.
Gericke se getuienis oor wat hom oorgekom het, is ’n absoluut grafiese voorbeeld van hoe dit in die praktyk werk wat deur die gelykenis van die saaier voorgestel, word – die weg van ’n man met ’n siel van rots en dorings ... by keuse, natuurlik. Arme Gericke. En hy is nie alleen, nie. Hoe tragies vir hulle. ’n Man wat die roepstem van God as jong seun gehoor het, maar sy hart aan sy eie karnale menswees gegee het – soos die Woord waarsku … waar jou skat is, sal jou hart ook wees (Mattheus 6: 21) en só sal die goeie mens, goeie dinge uit die goeie Skat van sy hart voortbring … maar die slegte mens, slegte dinge uit die slegte skat van sy hart.
In stede dus om die geloofswaarde en die werklikheid van God en SY Woord soos in die Bybel opgeteken – Ou én Nuwe Testament - te erodeer met sy lasterlike poging, dien Gericke se pogings tot die teendeel vir ons vandag as ’n amperse locus classicus van hoe die Woord, wat duisende jare gelede al opgeteken is, in grafiese detail mense soos hy se dwaling meer as tweeduisend jaar later, beskrywe en daarmee die absolute betroubaarheid en Waarheid van die opgetekende Woord net weereens bevestig. Wat ’n bemoediging. En só word die betroubaarheid van die Woord gedien ook (dikwels verál) deur diegene wat die Woord probeer diskrediteer. Deur die negatiewe word die positiewe beklemtoon en omskakel (Romeine 8:28-30).
Só ook bemoedig selfs die felle Gericke tipe agnostiese aanslag weereens die ware gelowige se vertroue in die absolute betroubaarheid van die Woord, én vir die wankelrige wat kan sien, dat die Woord boweal staan.
Groete,
Kobus de Klerk


Kommentaar
Kobus
Ek het nogal gewonder waarmee jy jou besig hou daar in Kammaland.
Behalwe dat jy dit duidelik maak dat jy nie hou van wat Gericke te sê het nie, kan jy geen behoorlike teenargument aanvoer nie. Dan is jy nogal so astrant en verwaand om die integriteit van my alma mater aan te val. Ek daag jou uit om ’n navorsingsvoorstel vir ’n Ph.D. by ’n erkende universiteit in te dien waarin jy voorstel dat jy gaan bewys dat God of Yahweh wel bestaan. Hierdie spul bog wat jy in jou drie aflewerings kwytgeraak het, sal nie eers verby die sekretaresse van die prof. in Ou Testament kom nie. Dis bloot ’n versameling persoonlike opinies en is in die akademiese wêreld van geen waarde nie.
Kon jy so tussen die skryf deur dink aan die universiteit wat kreasionisme gebruik as basis vir die aanbied van biologiese wetenskappe? Elke keer wat jy dié vragie van my ignoreer bevestig jy ons almal se wete dat jy bloot ’n spul twak op die Sê plaas en grootmeneer probeer speel met karakters soos Dolf, Driesie en Trienie. Kom nou Kobus, antwoord ’n slag my vragies of kom verras ons met ’n doktorale navorsingsvoorstel wat deur die akademiese wêreld aanvaar word – of is die akademiese wêreld volgens jou ’n spul nonsens?
Groetnis
Thomas
Kobus, jou houding sê dit als ... haat, onverskilligheid, minagting, veragting, selfsug, eersug, hebsug, selfverheffing, eersug, hoogmoed, trots, snobisme, aanstellerigheid, verwaandheid, grootpratery, hardheid, ongevoeligheid, koudheid, ongenaakbaarheid, brutaliteit, genadeloosheid, veroordeling, ongeduld, waansin, desperaatheid, histerie ... dis die dorings en distels wat uit jou borrel ... jy dink jy is God ... te goed vir jouself skyn jy ’n wanbeeld van jouself vir almal om te aanskou wyl bangheid uit jou wese straal ... so begroet jy elke dag met ’n gebroke hart bang vir verwerping ... bang vir seer gooi jy jou omstrede sente voor nog iemand se deur ...
Thomas, sal dit nie wonderlik wees as Kobus sy "dreigement" deurvoer nie: "Ek is voornemens om hierdie werk van Gericke aan ander voor te hou as bemoediging – eerstens vir die betroubaarheid van Gods Woord en ook as amperse locus classicus van hoe die agnostiese selfdesepsie sindroom inskop en sy vernietigingswerk met ’n andersins baie bruikbare mens, doen".
Hy gaan honderde kopieë maak van hierdie tesis en uitdeel aan Christene soos hulle by die kerkdeure uitloop. Hulle kan dit dan self gaan lees en volgens hom gaan hulle een honderd persent saamstem met hom?
Thomas, ek is nie verbaas dat jy nie my 'teenargumente' verstaan, nie. Dit is nie teenargumente nie, maar ’n kort en baie bondige dissertasie van die aspekte wat Gericke oor die hoof gesien het en glad nie behandel het nie, terwyl dit van wesentlike belang, is, terwyl dit geheel en al aansluit by die kwessie wat hy gepoog het te ondersoek – want as hy het, sou hy nie die taak aangepak het nie, omdat dit sy hele poging fataal beïnvloed. Dit is duidelik dat hy as agnostikus nie die aspekte kon insien nie – daarom jy ook nie – julle is mos albei ateïstiese agnostici wat afgeskop het as kamstige 'gelowiges' uit ’n Christelike ouerhuis.
Chris, jou aanmerking beteken ook maar dat jy nie werklik kon insien wat ek sê, nie. Maar wees gerus, gelowiges weet presies waarvan ek praat – al wat nodig is om te doen, is om die massas kaf wat Gericke as ateïstiese agnostikus opskop, weg te krap en dan uit te kom by die kruks van die saak – die aspekte wat in die artikel wat ek voorhou, uitgewys is. Dit is nie moeilik vir gelowiges om die kaf uit te sif, nie – in gesprekke met agnostici moet hul dit gedurig doen en hoe meer mens dit met die Godgegewe insig doen, hoe makliker en meer effektief word dit.
Cornelius val weereens kenmerkend sinneloos die boodskapper aan, en probeer al sy eie persoonskenmerke op die boodskapper projekteer – insiggewend dat hy so manifesteer teen die gelowige, terwyl hy self, diegene wat vir God (wat hy voorgee te dien) belaster en te na kom, met heuning om die mond smeer – en dan noem Chris hom ’n 'Christen'. Wys net hoe min insig Chris van Christenskap, het. En natuurlik, hoe min van ’n gelowige, Cornelius self, is.
Kobus de Klerk
Kobus, jou maandans ("bondige dissertasie"?) hierbo maak natuurlik geen sin nie. Almal, volgens jou idee van hemel en hel, lewe vir ewig, niemand sterf nie. Christene speel harp vir ewig in die hemel en sondaars (Satan en sy trawante ingesluit) brand vir ewig in die hel. As jy dood is in die hel, wat is die sin daarin om die vure vir altyd te stook? Jy moet maar vir die Jahowah Getuies gaan vra hoe hulle by hierdie een verby kom.
Kobus, ek is lank reeds bewus van jou neerhalende en bekrompe opvatting naamlik dat dit ’n "agnost" verg om ’n "agnost" te herken – behalwe natuurlik van toepassing in jou waan op jouself (soos byvoorbeeld dat jy nooit enigeen in hul persoon of selfs hul geliefdes sal spaar wat jou wil nie eer nie maar kerm as jy as "boodskapper" gekritiseer word – siestog). Dis egter gewoon en algemene intuïsie wat ’n mens instaat stel om haters soos jy te onderskei. Almal het ongelukkig nie sulke onmiddellike en innerlike waarskuwing nie. Daarom my besorgde gedagte aan al die naïwelinge om jou en elders (en almal wat met jou as strooipop mors). Met begrip; jou amigo in Adam, Cornelius
Chris,
Dit wil voorkom asof jy niks meer by te voeg het tot hierdie gesprek, nie. Daar skort niks met my verduideliking hierbo nie, die probleem lê steeds maar by jou onbegrip as agnostikus.
Jy is maar as agnostikus maar net nie in staat om die onderskeid te tref tussen jou verganklike vlees en jou spirituele dimensie, nie – maar weereens, nogeens, is dit juis die oorsaak van jou agnostiese dilemma – daar is baie belangrike dinge wat jy net nie kan insien nie, wel wetende dat jou fisiese vermoëns op sigself in soveel opsigte eenvoudig ontoereikend, is. Jy is dus kortsigtig en insigloos teen jou beterwete, want dit is die lot van die agnostikus – vir die ateïstiese agnostikus is dit die ergste van algar.
Jou beskouing van alles is so onhoudbaar oppervlakkig – het julle dan werklik gaan insig nie? Uiteraard nie – dit is alleenlik van God.
Jy verstaan nie eens wat spiritualiteit is, nie. Die werklike dood, het niks te make met die 'verdwyning' van iets of iemand, nie.
’n Goeie beskrywing van die toestande en plek in die hel, is te vinde in die HERE se kort verwysing daarna in Mattheus 8:12; 13:42, 50 waar die ontbering en blootstelling daar vergelyk word met ’n vuuroond en verder ook in gedeeltes hieronder.
God is juis die Lig en die Lewe, die sin in alle bestaan en daarom is die ewigheid na dese, sonder God, inderdaad die ware dood. Die plek waar die terhelle veroordeelde hom sal bevind vir ’n ewigheid is ’n plek in die toekoms waar God Homself sal onttrek (God stuur die veroordeeldes weg van Hom na die hel) en die hel-plek word vergelyk met ’n buitenste duisternis waar niks is behalwe die mede veroordeeldes nie en natuurlik die reeds veroordeelde satan en sy trawante wat hulle aan die veroordeeldes se foltering, kwelling en pyniging sal verlustig want hulle veroorsaak dit daar en die ervaring daar sal wees ’n geween en gekners van tande – sien in hierdie verband Mattheus 22:13; 24:51; 25:30 g.m. juis terwyl die veroordeeldes gedurig die verloste lewendes aan die ander kant, saam met God en die verlostes, sal kan sien (Lukas 13:28-30), maar self daar nooit sal kan uitkom, nie ... en dit is wanneer die veroordeelde sal wens dat hy ook saam kan 'harp speel', soos jy neerhalend sê.
Jy sal natuurlik nog jou spottende woorde sluk ... en onthou, spyt kom altyd te laat.
En vertel tog vir ons, waar kom jy daaraan dat die vure in die helse hiernamaals 'gestook' sal word? Dit is duidelik dat jy nie eens daardie konsep begryp, nie. Daar sal ’n geween en gekners van tande wees wat jou soos ’n vuuroond treiter.
Kobus de Klerk
My reaksie hierbo hoort eintlik by Kobus se ander "bondige dissertasie", maandans van dieselfde dag.
Jammer