IV Son-net

Foto: Canva
Waar is daar nog so ’n skittering
soos die vroegoggendson op die see,
waar spikkels lig van waterrande
afkaats tot een strook goud?
Waar waterprismas bly beweeg
en ligstrale breek, die kleure
van die spektrum in weerspieëlings
saamraap tot ’n konsentraat wit lig
wat die see uitbundig terugsmyt
tot in die blinde blou oog,
tussen solêre storms en kolkende vuur,
in die hart der harte van die son?
Op die strand die dowwe mens, kwalik in staat
om die oordaad na ander te weerkaats.

