eish, wat Mens ook’l ’p Aard aanrig, v’ranner,
ergens, innie univers, ’s tog duid’lik skeidslyn,
al issit ragsuperfyn, dui’t mos oppe onnerskeid,
tussen Wêreld Een en Twee, betwiekst Skepper,
en Sy opponent, sjatan, Sy Liefde versus kwaad,
ter wille van voortbestaan, vooruitgang, progressie,
vuil goed soos haat, saam’t oorlog ver agtergelaat,
Gewete, so Gewete-loos, tot innie basis, verkrag,
soos ‘n vark, klaar vasgemaak, reg virrie slagdag
gooi “isiBhulu” een moerske hlungu, eina,
hier plaaslik vervaardig, multilinguaal,
via integrasie, sonner diskriminasie,
waar penis pas, is da’ hapskiet “ras”,
taal outo-metafisies g’transponeer
grote g’dorie, hoe lank nog, patriot,
gat Mens se kinners, hul kenners,
se kjennerkens, vat, vóór Mens,
humanitêr, vol respek, disseplien,
onsuiwerheid weg-, uitgepomp,
versoenend geraffineer, gesuiwer,
weer waardig, Menslik, Mens is
alle effekte van Gini-koëffisiënt,
oortref verwyding, vannie kloof,
ongelowige se kil pseudo-geloof,
aktiewe statistiek, Groter Geheel,
gejukstaposisioneer, langs realiteit,
sien wie’s tevrede m’t krummels,
wie ly aan apartheidsmentaliteit,
wie gee gehoor aan superioriteit
struktuurgeweld selfs in taal-arena,
op pleknaamkomiteevergadering-
agenda, ingebed, wie wil wie red,
uit onkunde-ontkenningskunde uit,
uit Self-destruksie van pejorativering
sien Mens Self hoe selfs Eie innie slag bly,
issie net “isiBhulu”-sprekers wat seerkry
Jacobus Faasen

