Hey, Jo! Baie geluk dat jy as een van die Sanlam Sing ‘it-finaliste gekies is! Hoe lank skryf jy al lirieke?
Ek skryf al van 1992 af lirieke.
Hoe voel jy oor die feit dat Zaki jou lirieke opgeneem het?
Ek wou aanvanklik nie vir die kompetisie inskryf nie, maar besluit toe om bietjie na die kunstenaars te gaan luister wat hierdie jaar deelneem. Ek het Zaki se stem gehoor en ek was in vervoering. Ek het van die begin af my hart daarop gesit dat sy my lirieke sal kies. So, om te sê ek het uit my nate gebars van geluk is ‘n bietjie van ‘n “understatement”.
Hoekom dink jy het jou lirieke uitgestaan?
Ek is ‘n baie visuele mens en ervaar alles as beelde en prentjies, veral emosies en sterk idees. Ek het nog altyd probeer om daardie beelde en prentjies in my kop te laat deurkom in my lirieke. Ek wil hê mense moet onmiddellik ‘n rolprent in hul gedagtes sien wanneer hulle my lirieke lees of hoor. Die ander aspek van my lirieke is dat dit oor regte mense en werklike situasies gaan wat ek probeer omsit in ‘n storie.
Interpretasie is meestal subjektief, maar waaroor gaan die song vir jou persoonlik?
Ek skryf gewoonlik ‘n gedig of lirieke en dan beteken dit vir my iets. Dan lê dit in my laai en as ek dit weer lees – maande, partykeer jare later – dan beteken dit vir my iets heeltemal anders. Huidiglik gaan “Liquid Stone” vir my oor hoe plasties en vals mense en die samelewing kan wees. Dit wat mense so belangrik ag, is dikwels uiteindelik niks meer as wolke wat voor die son verdwyn nie. Dit gaan ook vir my oor mense wat hulself beter as ander ag, maar so baie keer in ‘n vorm van sosiale waansin lewe. Die lirieke help my ook om myself te analiseer en om te voorkom dat ek nie in dieselfde slaggate beland nie.
Hoe en waar het jy jou wen-lirieke neergepen?
Ek het die lirieke ses jaar gelede geskryf terwyl ek skoolgehou het in China. Ek en my familie was amper ses jaar in China en op daardie stadium was die houding van baie van die “expats” teenoor die Chinese mense, asook ander buitelanders, net te veel vir my.
Stem hier vir Jo en Zaki se snit.
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter


