Is Kersfees nog relevant?

  • 9

Ek moet erken my eerste reaksie, sowat ’n jaar gelede, toe ek hoor Kersfees word dalk binnekort iets van die verlede, was ongeloof en verbystering. Kersfees afgeskaf? Ondenkbaar! Maar hoe meer ek daaroor nagedink het, hoe meer het ek begin hou van die idee van ’n lewe sonder Kersfees. So opgewonde was ek oor die gedagte dat ek ’n kort stukkie daaroor geskryf het vir ons plaaslike dorpskoerant, Die Distrikspos. Daar was min of geen reaksie nie, en ek beskou die feit dat niemand ontsteld was oor die rubriek nie, as ’n positiewe faktor ... Dalk is die publiek gereed om so apaties hieroor te word soos ek? Ek weet dat, onder my vriendekring altans, ek nie al ou is wat so voel nie!

Soos ’n pel van my tereg die ander dag opmerk: “Van wanneer af is Kersfees ’n Christelike vakansiedag? As dit was, sou mense op Kersdag kerk toe gegaan het.” Ek het nie die moed gehad om hom daarop te wys dat daar wel sommige mense is, weliswaar ’n edele of delusionêre minderheid (afhangende van jou perspektief), wat op Kersoggend ’n erediens bywoon in plaas daarvan om by die huis te bly met die hande desperaat geklem om ’n plastiekhouertjie vol Panado na Kersaand se oordosis sjampanje nie. Dit sou vir hom ’n groot ontnugtering gewees het, veral aangesien hy nog een van die ou hippies is wat saam met Kris Kristofferson glo dat Jesus ’n Capricorn was en glad nie naby Desember gebore is nie! (Of is hy dalk reg?)

Hoewel ek nie heeltemal so onkundig is soos hy nie, is dit wel so dat, in die praktyk, Kersfees deesdae baie min te doen het met geloofsake. Om die waarheid te sê, Kersfees, soos ons dekadente samelewing dit vier, het deesdae so min te doen met Jesus se geboorte as wat Boxing Day te doen het met boks. Ek weet nie van julle nie, maar om vir ’n volle maand lank net Boney M te hoor en vertrap te word deur waansinnige skares elke keer wanneer ek ’n bevrore hoender in Woolworths wil gaan koop, doen f*****l vir my geestelike lewe!

Vir byna solank as wat ek kan onthou, verval ek elke Desember in ’n diepe depressie wat eers begin wyk wanneer ek my eerste Nuwejaarsvoornemens begin verbreek (gewoonlik so drie dae na Nuwejaar). As daar een ding is wat ek nog selde, indien ooit, tydens Kersfees kon regkry, was dit om my naaste lief te hê soos myself of om vrome Bybelversies te prewel soos “vrede op aarde en in die mens ’n welbehae”. Inteendeel, ek kan die kere dat ek oor die Kersseisoen met my kar byna oor ou tannies gery het by verkeerskruisings, op die vingers van albei hande tel, en dan het ek waarskynlik nog te min vingers ook.

Die leë week tussen Kersfees en Nuwejaar is ongetwyfeld die ergste. Dit is tradisioneel die tyd wanneer die kinders hulle eerste nuwe speelgoed begin breek of verloor of neul dat dit aanmekaar gesit moet word maar iemand het die instruksies wat saam met die verpakking gekom het per abuis weggegooi saam met die mandjies vol oortrekpapier en gebruikte sellotape. Dis ook wanneer mens begin wonder wanneer gaan die skoonfamilie terug huis toe, en of jy ooit weer die huis gaan skoon kry, aangesien die huishulp Transkei toe verdwyn het met die geld wat sy geleen het vir daardie massa-begrafnis drie weke gelede, ensovoorts, ensovoorts.

Goed, ek oordryf nou die stereotipes so ’n bietjie – my huishulp is nie so nie en eintlik hou ek baie van my skoonfamilie, maar feit bly staan dat familieverhoudings wat geneig is om normaal en gemoedelik te wees regdeur die jaar, klokslag elke Kersgety onder ongelooflike en onnodige addisionele stres geplaas word. Dis asof die hele wêreld vir twee of drie weke lank besete word!

Dit is in elk geval nie normale gedrag vir die menslike spesie om onder dwang ’n smaail op te sit en te kuier nie. Gee my enige tyd ’n vrywillige dinner-paartie of ’n toevallige braai, maar moenie vir my ’n datum op die almanak in rooi omsirkel en vir my sê: “Wat jy ook al beplan het vir jou vakansie, op daardie spesifieke datum MOET jy alles laat vaar en MOET jy jou boringste ghrênd hemp aantrek en MOET jy om ’n lang tafel gaan sit met tientalle mense wie jy jare laas gesien het en wie se kinders se name jy skaars kan onthou en MOET jy ’n snaakse papierhoedjie dra en MOET jy met crackers toutrek tot hulle ontplof en die plastiek-goetertjies onder die tafel tussen die ooms en tantes se voete inrol waar mens dit nooit weer kan kry nie en MOET jy jouself oorvreet aan kos wat jy nie rêrig kan bekostig nie en wat baie sleg is vir jou kolesterol-telling.”

Nee. Hoe meer ek daaroor dink, hoe meer wens ek hulle skaf Kersfees liewer heeltemal af. Wat ’n verligting sal dit nie wees nie!  

My post-Kersfees-pre-Nuwejaar-depressie het een Desember, enkele jare gelede, so erg geword dat ek sommer die pad gevat het en weggeraak het vir 24 uur, tot groot ontsteltenis van my gesin en my ongeveer 5 000 fêns. Ek het myself in ’n hotelkamer naby die Waterfront gaan toegrendel en TV gekyk, maar dit het nie gehelp nie, want al wat op elke TV-kanaal was, was die tsunami in Thailand. Dit was selfs nog erger as Superstorm Sandy in Amerika! Elke uur, soos die stomme Taiwannese deur die puin gegrawe het, het die dodetal saam met my depressie gestyg. Dit was op die ou end uit pure desperaatheid en verveling dat ek teruggekeer het na die post-Kersfees-oorlogsone wat my huis was. Dit was ’n nare ervaring (die wegloop-episode, nie die blye weersiens nie) – en tog was daar, soos altyd, ’n waardevolle lessie te leer uit hierdie trauma!

Sedertdien het my vrou besluit dat ons voortaan beide Kersfees en Nuwejaar alleen vier, sonder vriende of familie, net met ’n klein sintetiese Kersboompie (om Greenpeace gelukkig te hou, want hulle glo mos nie mens moet onnodig bome afsaag nie, nè) en ’n paar presentjies vir die kinders. Dit werk fantasties! Almal kry ons deesdae baie jammer en hulle glo vas my vrou doen dit net om te keer dat ek weer in my Kersfees-psigose verval, maar intussen het ons albei ontdek dat so ’n klein, afgeskaalde feesgety eintlik baie beter werk as die reusagtige familiegedoente van vroeër. Daar is minder skottelgoed, daar is minder stryery en irritasies, daar is minder reëlings om te tref, en eindelik kan ons die werklik belangrike dinge doen waarvoor die vakansie eintlik bedoel is: ons kan rustig sit en goeie landgoedwyn drink sonder om dit hoef te share met elke Jan Rap en sy maat wat dit nie eens sou waardeer nie, en ons kan kwaliteit-tyd met ons kinders spandeer terwyl ons hulle AL ons onverdeelde aandag gee.

As almal voortaan so ’n rustige Kersdag by die huis kan vier, sonder al die blikkerige promosieveldtogte en die tinsel en die geraas en die bandelose gesuip op straat en die gesinstragedies en die vervreemding en die kollektiewe waansin, om nie van die motorongelukke te praat nie, dink net hoe baie pyn en lyding sal ons kan vermy! En dink net hoeveel rande sal ons spaar! Dan kan hulle maar die e-tol-stelsel weer instel, ons sal genoeg kontant hê om die regering uit sy padbou-geldtekort uit te help vir die hele res van die jaar! Praat van jou burgerlike plig doen en al daai!

Ja wat! As Kersfees as amptelike feesdag afgeskaf sou word, sou ons dalk boonop mettertyd weer die ware boodskap van hierdie dag – ek is seker daar ís so iets – herontdek, in plaas van die rumoerige bazaar wat dit die laaste paar dekades geword het, en sou dit dalk eindelik weer vir ons en ons gesinne ’n mooi geleentheid kan word, ’n dag sonder spesifieke naam of etiket, dog ’n dag van stilte en oordenking en (soos ek gesê het) goeie landgoedwyn en opregte liefde vir mekaar en vir ons Skepper.

Wie weet, dalk raak ons almal nog gewoond aan ’n lewe sonder Kersfees? Ek is klaar gewoond daaraan, en dis heerlik!

  • 9

Kommentaar

  • Ek stem saam met jou Koos, my Pa het al jare gelede gese dat die dag misbruik word deur mense (hy het hulle Jode genoem) wat net wil geld maak uit Kersfees en die dag nie meer sy doel het nie. Ek verkies ook ’n rustige dag by die huis saam met my kinders met ’n lekker braai en ’n goeie wyntjie.

    Groete

     

  • Hallo Koos

    Hier in Hatfield Sentrum is die klokkies en bokkies alreeds twee weke gelede ingesit. Ek was verstom. Miskien volgende jaar hoef hulle dit nie eens af te haal nie want die liggies sal kan bly vir Paasfees en die bokkies se ore hoef net langer gemaak te word. Een se rooi neus sal moet swart.

    Die Kersfeesmusiek is vir my mooi. Ek stem wel saam met jou dat dit soms net te veel word en dis asof sommige vrouens meer histeries as gewoonlik raak wanneer hulle die "big sales" (ag, asseblief!) raakloop. Tog is dit asof die Kersmusiek so half gerustellend is en mens kry daai salige gevoel as jy by by die winkels instap en hulle varsgebakte broodrolletjies ruik.

    Januarie is altyd vir my so half 'n treurige maand.  So asof die Kersseisoen verby is, en dit waarvoor jy gewag het nooit gerealiseer het nie. So amper asof jy iets gemis het, maar jy nie seker is wat daardie iets is nie.

    Mooi bly

    Maya 

  • Wat ek kan ek meer sê, as DITTO. So ’n bek moet jêm kry. Ek's lankal gatvol vir Krismis. Was eers vreeslik geskok jare gelede, dat die dopperkerk nie kersfeespreke hou, toe ek met ’n dopper getroud is nie, maar my man, met sy ewige beheptheid met kersversierinkies, (wil nou glads Europa toe gaan na al die kersmarkte), kersmusiek, ja Boney M ook, dryf my tot raserny.

    Ek glo onvoorwaardelik aan my Drie-Enige-God en erken dus Jesus se geboorte, maar 25 Desember met sy gepaardgaande vervelige tradisies, steek my dwars in die krop.

    Goed geseg Koos.

  • Ek hou te veel van Koos Kombuis om hom ’n grumpy old man te noem (veral die post-weed Koos). Ek stem, maar ek en jy is baby boomers en ons is die geslag wat alles deur ’n vergrootglas sien en wat die vrae begin vra het, soveel so dat ons ons verskriklik opregte (dis ’n veralgemening – ek weet – jirre tog) GI-geslag ma's en pa's verskriklik in hul later jare ook aan goed begin laat twyfel het. Ons vrae was hul oor.

    Daar is geen boodskapte vinde aan Kersfees soos kerke dit wil he nie. Tensy jy (Koos) dit as ’n tipe politiese versoeningsding sien – en politiese versoening is net ’n skimgedagte. Maar kersfees soos in kerktaal is werklik ongeanker. 

    Maar ai, my en jou kinders is nou groot, maar toe hulle peuters was, was dit net vir ons (veral ma's) die lekkerste droomding om op te maak, te geniet en te maak asof die wereld nie kan beter nie. Ek het nog nie kleinkinders nie, maar wanneer hulle wel te voorskyn kom, sal ek nogal graag weer ’n slag wil sit en maak of dit waar is. Die bybel is trouens daarteen, maar ek dink nie G-d staan daar bo arms gevou en se: "Kyk, daar's daai Rietha alweer met haar plastiekboom en liggies – skryf dit op!" O die pyngedagte.

    Ek is toe ook ’n bietjie van ’n grumpy old woman.

  • Koos, ek stem nogal saam met jou, skaf die dag af en laat die ware Christene die dag vier op die regte wyse en met die regte motiewe, soos dit hoort.

  • Ek stem saam. Gooi dit saam met die badwater uit en dan kan die wat wil dit reg doen. Gaan kerk toe en doen jou ding op 'n normale skaal. Geniet jou eie familiedag. Die hele ding het inderdaad in 'n ekonomiese boerpot verander. Lekker skrywe.

  • Ek stem saam die winkels en sentrums het dit in ’n bazaar verander ... maar ek moet erken dat ek is mal oor ’n mooi boom en die geleenthede wat hierdie tyd ook skep om mense te nooi en gesellig te wees. Ek is nou 11 jaar in Brittanje, en as ek nie huis toe kom vir Kersfees nie, wat nou meer gebeur want dis vrekals duur (lugrederye maak ook hulle ponde uit ons) is daar niks soos die vrolikheid van die liggies, en musiek (wat jou later van jou kop afmaak) en die algehele "Vibrant" atmosfeer wat my deur die donker, koue en nat dae van Des kry nie.

    So ja, kersversierings in Okt op die rakke is ongehoord en maak my vies. Maar hier in die koue winter is daar niks beter vir die siel om nou en dan in ’n (duitse nogal!) mark op die Thames wal te gaan rond loop en na als te kyk met ’n glasie gluhwein en te luister na ’n paar "carol" sangers.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top