Kyk byvoorbeeld hoe die toerismebedryf sou moes werk in die dae voor geld, met ander woorde toe alle transaksies ruilhandel was: ’n Toeris kom en, om te betaal vir sy verblyf, bring hy goed saam om vir die gasheer te gee in ruil vir sy kamer. Hierdie goed wat die toeris saambring, goed soos kledingstukke, messe, selfs kos, gaan tot gevolg hê dat die verblyfverskaffer minder hoef te werk; al wat hy moet doen is om ’n kamer of twee-drie in stand te hou.
Die feit dat geld (goud, silwer, wat ook al) ruilhandel uitgedien gemaak het, maak geen verskil nie, kan dalk die probleem net vererger. Die toeris kom in en ruil sy land se geld vir die gasheerland se geld wat natuurlik al hoe waardeloser word want daar is geen produksiesteun daarvoor nie; niemand werk meer nie.
Op die manier kan jy vind dat die bevolking van ’n gewilde toeristebestemming al hoe minder produseer en al hoe meer in die toeristebedryf werksaam is as gashere, toerleiers, sakerollers, con-swendelaars, uitbuiters en rowers. ’n Groot deel van die bevolking maak ’n lewe uit toeriste uit, parasietiseer as't ware die toeriste en produseer niks behalwe miskien itempies as aandenkings of so-iets nie.
Is dit nie dalk wat met Griekeland gebeur het nie? Die plek is so gekommersialiseer jy kan skaars na ’n antieke kolom kyk of jy moet ’n lustelose Griek ’n fooitjie betaal dan vertel hy jou niks van die kolom wat jy nie in elk geval geweet het nie.
So, voel ek, is die toeristebedryf in Suid-Afrika ook ’n onding:
Nie alleen ontvang gemeenskappe geld vir niksdoen nie maar dit is ’n goeie verskoning (kamtig) vir die verval van Afrikaans; alles moet Engels wees “want die toeriste is maar Engels”.
Op die manier word die karakter van die veld/wildtuin/park ook ingeboet. ’n Toeris sal eerder voel hy is in Afrika as daar Afrikaans oral is; dis al vir my asof Afrikaans in elk geval meer pas tussen kameeldorings en leeus as Engels wat weer pas by neonligte, Coke en hamburgers (maar ek sê weer dis my persoonlike [en toevallig die Engelssprekende broers Hobson ook] se gevoel).
Dan is daar nog die inflasie ook waarvan ek hierbo gepraat het. Hoe makliker geld by toeriste gekry word hoe moeiliker word die bevolking gemotiveer om goedere te produseer.
Dalk is hier iemand op die Sê wat nie so ekonometrie-gestremd soos ek is nie en wat my vrese oor die toerismebedryf in die verband kan besweer. Ek hou egter voet by stuk dat hierdie bedryf glad nie goed vir Afrikaans is nie, selfs al is die klantebasis hoofsaaklik Afrikaanssprekend. Aan die ander kant nou weer, laasgenoemde beswaar is nie die skuld van die toerismebedryf nie; dit is vanweë die Afrikaner se gedienstigheid. Soos die osse van Jan F Celliers …
Jan Rap

