Is dit mensebloed wat hierdie bossie-aarde voed?

  • 0

Eenkeer het daar ’n klompie mense bo-op ’n berg gewoon, en elke dag het een of meer by die berg afgeval en erge beserings opgedoen. Die mense kom toe bymekaar en begin geldinsamelingsaksies loods – koekverkopings, jumble sales, pannekoekstalletjies en so – alles om geld te kry vir ’n hospitaal onder aan die voet van die berg. Later nog harder gewerk omdat hulle besef het hulle sal moet ’n helikopter aankoop om die heel ernstigstes na ’n beter hospitaal te kan afvoer. Toe sê ’n wyse ou man: “Why don’t we just put a fence around the edge of the cliff?”

Ek glo dat die SAPD, ons howe en Korrektiewe Dienste die hospitale onder in die “valley” is – wanneer hulle nodig raak, is die misdaad klaar gepleeg. Waaroor ons moet besin, is watter heinings ons kan oprig om te keer dat mense misdaad – en veral dan geweldsmisdade – wil pleeg. Om dit te kan doen, sal ons eers moet probeer verstaan waarom mense misdadig word.

Die bloed wat ons bossie-aarde voed, is gemeng met ’n dik stroom gal! Daar is steeds erge wrewel en disrespek vir mekaar, en dit spoel oor in die afgryslike geweld wat ons daagliks teenoor mekaar pleeg. Die redes daarvoor is inderdaad ingewikkeld en multidimensioneel, maar daar kan na ’n paar gekyk word:

Frustrasie/aggressie
Frustrasie is gewoonlik die gevolg wanneer gedrag wat op ’n spesifieke doelwit gemik is, op een of ander manier gedwarsboom word - die persoon moes verwag het of voorsien het dat die doelwit bereik sou word. Armoede lei nie noodwendig tot frustrasie nie - mense wat onder erg armoedige toestande leef, is nie noodwendig gefrustreerd nie, tensy hulle werklik iets beter verwag - of beloof is. Mense wat onder armoede gebuk gaan en wat nog nooit gedroom het om duur motorkarre, platskermtelevisiestelle of deftige wonings te besit nie, is nie gefrustreerd omdat hulle nie hierdie dinge besit nie, maar raak gefrustreerd eers nadat hulle begin HOOP het.

Frustrasie kan dus in aggressie oorgaan wanneer

  • mense geblokkeer word om ’n verwagte doel te bereik
  • frustrasie ontstaan wat in woede verander 
  • die woede mense dan predisponeer of bereid maak om gewelddadig op te tree.

Of daar wel tot geweld sal oorgegaan sal word, gaan afhang van vorige ervarings, persepsies van die gebeure en die wyse waarop die persoon gewoonlik op frustrasie reageer. Dit is te verstane dat dit ook sal afhang van die teenwoordigheid van snellers (of stimuli) in die situasie self. Empiriese studies deur wetenskaplikes het die volgende bewys:

Aggressiewe gedrag word gegenereer in die mate wat

  • die persoon die mishandeling (mistreatment) as doelbewus beleef
  • die frustrasie wat veroorsaak is, beleef word as onwilligheid om te help van die ander kant.

Mense word dus woedend en aggressief as hulle daarvan weerhou word om ’n doel te bereik as hulle glo dat iemand hulle doelbewus blokkeer om die doel te bereik of opsetlik daarop uit is om hulle leed aan te doen. Hulle sal baie meer geneig wees om openlik gewelddadig te word teenoor diegene wat hulle glo hulle doelbereiking blokkeer as hulle glo dat die blokkeerder doelbewus en onregverdiglik probeer het om hulle te keer as wanneer hulle glo dat die dwarsboming nie doelbewus was of dat dit teen hulle persoonlik gemik was nie.

Maatskaplike druk kan afwykende of misdadige gedrag veroorsaak en misdaad kan in die sosiale sisteem, eerder as in inherente boosheid, geleë wees. Misdaad kan veroorsaak word deur die onderskeiding wat daar tussen kultureel-gedefinieerde doelwitte en die norme wat die middele waardeur die doelwitte bereik kan word, gereguleer word. Doelwitte (goals) is gewaardeerde doelwitte (purposes) en belange wat die kultuur as wettige mylpale (objectives) vir al die lede van die gemeenskap voorhou. In die meeste kulture word gelyke geleenthede vir almal om die doelwitte van rykdom en mag te kan bereik, beklemtooon.

Gelyke geleenthede vir almal in ons land is ’n doelwit, maar baie besef nog nie dat dit so is nie. Die meeste kulture plaas hoë waarde op die goals van rykdom en mag - en ’n individu se waarde word gemeet aan materiële sukses - maar ongelukkig is die geleenthede om sodanige suksesse te behaal, nie werklik heeltemal gelyk nie. Almal word aangemoedig om dieselfde hoë ambisies te hê - en mislukking om daardie kulturele doelwitte te bereik word gesien as die individu se mislukking eerder as ’n tekortkoming of gebrek in die maatskaplike sisteem self.

Hierdie geloof beskerm die maatskaplike sisteem teen kritiek. Die kultuur se invloed op die maatstaf van individuele waarde deur middel van materiële sukses lewer ’n gemeenskap met ’n ingeboude dryfveer om te presteer. Dit het baie mense al gehelp om ’n hoë lewenstandaard te bereik, maar het terselfdertyd relatiewe deprivasie gegenereer, en misdaad is die gevolg by diegene wat die doelwitte soos rykdom en mag nooit sal kan bereik nie - dit is as gevolg van talle faktore, waaronder ’n volslae gebrek aan enige vaardighede of skoling of opleiding.

Norme wat aanvaarbare wyses om kulturele doelwitte te bereik, definieer, word afgelei uit die waardes of voorkeure van die gemeenskap, eerder as loutere tegniese bekwaamheid of die wyse waarop die doelwitte bereik kan word. Deur dit byvoorbeeld reg te kry om suksesvol bedrog te pleeg, kan die persoon wat gedepriveerd voel of reken dat daar teen hom/haar gediskrimineer word, se enigste of mees suksesvolle manier wees om materiële rykdom te behaal. Uiteraard sal maatskaplike en regsnorme sodanige verkryging van rykdom as onaanvaarbaar definieer. Norme beklemtoon, inteendeel, harde werk oor ’n leeftyd in ’n maatskaplik aanvaarde beroep - gekoppel aan die uitgestelde bevrediging van die beloning van materiële welvaart – as die aanvaarde wyse waarop materiële welvaart bereik kan word.

Sosiale ekwilibrium word bereik indien bevrediging mense toekom wat geïnstitusionaliseerde wyses gebruik om kultureel aanvaarde doelwitte te bereik. Wanneer daar ’n skeiding/splitsing (disjunction) tussen die middele en die doelwitte bestaan, sal anomie of normloosheid ontstaan. Sodanige splitsing kan die gevolg wees van die maatskaplik gestruktureerde onbevoegdheid van mense om die aanvaarde wyses te gebruik om kulturele doelwitte te bereik. Rassediskriminasie in die verlede in opvoeding, onderwys, werksgeleenthede en behuising het dit bykans onmoontlik gemaak vir die meeste mense in ons land om die doelwitte van sukses te kon bereik. Die voortdurende sterk beklemtoning van materiële welvaart vandag veroorsaak ’n magtige emosionele belegging in daardie doelwitte; en op sy beurt lei dit tot ’n kwesbaarheid om in onwettige wyses om dit te bereik te verval - veral nou in die tyd waarin dit soveel makliker lyk om materiële welvaart te bereik (of dat dit lyk asof dit makliker bekombaar en beskikbaar is) - maar in die oë van baie wat werklik vir jare in die "struggle" gewikkel was, voel dit eenvoudig dat dit te lank neem (en dat sommige van hulle kamerade dit makliker as hulle het en te veel, in vergelyking met die meeste, kon bymekaarmaak).

Dit bring mens by die begrip relatiewe deprivasie - dit het ’n subtiele invloed op die misdaadsyfer. Daar is baie wat voel dat hulle veel minder vir dieselfde werk as hulle kollegas betaal word. Indien daar ’n wydverspreide persepsie onder sommige mense is dat ander finansieel baie beter as hulle vaar, of dat hulle veel meer betaal word as wat hulle inderdaad werd is, sal ’n gevoel van relatiewe deprivasie ontstaan. Hierdie gevoel van deprivasie ontstaan wanneer mense hulle eie posisie vergelyk met dié van mense wat hulle as min of meer hulle gelyke beskou.

Diskrepansies tussen mense se verwagtinge en hulle vaardighede kan hulle motiveer om misdaad te pleeg. Verwagtinge is die goedere en toestande van die lewe wat mense dink hulle regmatiglik toekom, en vaardighede, onder die huidige maatskaplike sisteem, wat hulle glo hulle kan bereik en onderhou/volhou (maintain). Die diskrepansie tussen daardie twee toestande is dan relatiewe deprivasie. Misdaad sal meer voorkom waar daar baie relatiewe deprivasie met betrekking tot diepgewortelde doelwitte soos materiële sukses is. Misdaad sal ook gebeur wanneer mense dink hulle het elke moontlike konstruktiewe uitweg probeer om hulle doelwitte te bereik en dan glo dat alle wettige geleenthede om hulle gevoelens van relatiewe deprivasie te verminder, vir hulle onbereikbaar is.

Die subkultuur van geweld
Die norme wat in sommige groepe heers, kan hulle geweld as die mees toepaslike respons in baie omstandighede laat beskou. Hierdie norme het ’n eie werklikheid en beïnvloed gedrag - gedrag wat dikwels, om aan die groep se verwagtings te voldoen, tot uiterste geweld kan lei. Dit word as ’n kulturele verklaring van geweld beskou - daar is identifiseerbare subkulture waarin geweld en aggressie die korrekte reaksie op dreigemente (volgens hulle persepsie) beskou word. ’n Subkultuur is ’n gepatroneerde lewenswyse wat op sekere maniere dieselfde is as, maar op ander maniere verskil van, die dominante kultuur in die gemeenskap. Dit sluit spesifieke gedragstandaarde in wat aangeleer word en van geslag tot geslag oorgegee word.

In ’n subkultuur van geweld verskil die norme van dié van die dominante kultuur in die verwagtinge oor die gebruik van interpersoonlike geweld en aggressie. Die gevolg is dat hoe meer die individu in die subkultuur geïntegreer is, hoe groter is die moontlikheid dat daardie individu of groep gewelddadig sal wees. Geweld in sodanige subkulture gaan selde met skuldgevoelens gepaard, omdat geweld nie as verkeerd of afwykend beskou word nie. Individue wat lede is van so ’n subkultuur, is dus nie patologies nie, maar konformiste tot die waardes van die groep.

Om te kan bly bestaan, moet daar in ’n subkultuur van geweld drie elemente teenwoordig wees:

  • ’n groep wie se norme en waardes verskil van die kultuur van die groter gemeenskap
  • ’n moontlikheid om hierdie norme en waardes na ’n volgende generasie oor te dra
  • noue kontak tussen die lede van die groep om die norme en waardes lewend te hou.

 

’n Paar los gedagtes

  • Wie definieer die erns van ’n misdaad? As al wat ek het, een sak mieliemeel is om my kinders vir ’n maand mee te voed en dit word van my geroof, sou ek die rower wat die sak mieliemeel gevat het (vir ander van min waarde) as minder erg beskou as die witboordjie-oortreder wat ’n maatskappy uit miljoene bedrieg?
  • Ons spandeer geld wat ons nie het nie om goed te koop wat ons nie regtig nodig het nie om mense te impress van wie ons nie eers hou nie!
  • Sommige misdadigers oortree weer en weer omdat hulle, terwyl hulle moor of skiet of verkrag, in daardie paar oomblikke in totale beheer van alles en almal voel.
  • Die probleem kan moontlik in ’n wanbalans van mag lê - aan die een kant is daar diegene wat vas glo dat hulle nou oor totale mag beskik en dat hulle almagtig is - dat hulle kan doen net wat hulle wil en aan niemand verantwoording hoef te doen nie – hulle glo eenvoudig dit kom hulle nou toe – dis nou hulle beurt, so ons vat van dié wat het. Aan die ander kant is daar diegene wat voel dat die mag wat hulle gehad het, onregverdiglik van hulle weggeneem is en dit ten alle koste wil terug kry.
  • Watter rol speel die handves van menseregte? Het ons nie dalk te veel klem gelê op regte nie - sonder om ooit na verantwoordelikhede te verwys of om daarop te wys dat mens regte moet verdien of net die respek van ander kan vra mits jy jou so gedra dat jy dit verdien!

 

Die belangrikste heinings wat ons kan oprig

  • Die kwaliteit opleiding van onderwysers sal die kwaliteit van hulle opvoeding bepaal – hulle moet opgelei word om betyds rooi ligte raak te sien en op ’n konstruktiewe wyse (sonder om die kind te vernietig) optree.
  • Om die begeerte om misdaad te pleeg te verwyder, is, op die lang duur, die mees effektiewe wyse om misdaad te bekamp. Uiteraard sal, op kort termyn, die wete dat jy, wat jy ook al aanvang, gevang en gestraf sal word, veel doen om misdaad te verminder. Maar deur (a) 'n wettige identiteit, (b) ’n gesonde selfbeeld, (c) die aanleer van vaardighede wat verkoop kan word, (d) aanvaarding van persoonlike verantwoordelikheid ten opsigte van gedrag en die skep van sterk bande met die gesin, skool en kerk, kan daar ’n aandeel aan konformerende gedrag geskep word wat die belonings ten opsigte van wetsgehoorsame gedrag belangriker as misdadige gedrag maak. Steeds swaarder strawwe en ’n groter polisiediens is minder geneig om misdaad werklik te bekamp as ’n beleid wat dit meer lonend maak om binne die wet te leef.
  • Ons moet dus meer aandag aan gesonde gesinstrukture gee – ons moet mekaar leer hoe om goeie ouers te wees. ’n Kind vanuit ’n huis waarin hulle geliefd en geborge voel en aan wie gesonde waardes en norme oorgedra word, sal, wanneer hy/sy moet kies tussen wangedrag of nie, die "psigologiese" teenwoordigheid van liefhebbende ouers ’n uiters belangrike invloed vind (ook dié van die skool, kerk en uitgebreide familie).

Indien die land ’n oorvloed van geld gehad het, kon ons so duur betaal het vir nuwe sokkerstadions en sportsterre - maar daar is min geld en dit behoort aangewend te word (a) om veilige speelplekke vir kinders te maak; (b) om kundigheid te koop om byvoorbeeld te help in inrigtings wat konstruktief kan meehelp om reeds ontspoorde jeugdiges (miskien vir die eerste keer) op die regte pad te kry; (c) om beter gevangenisse daar te stel waar straf as rehabiliterend beleef word en ons nie derduisende gevaarlike mense weer na die samelewing terugstuur waar hulle enigste uitkoms weer die pleging van misdaad is nie.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top