My gevoel is dat daar bepaald iets soos Afrikaanse humor is, maar of Afrikaanse humor oor sekere besondere eienskappe beskik wat dit van ander soorte humor onderskei, dit is dalk meer kompleks.
En dan is daar nog persoonlike smaak, en swak smaak. Jare gelede was ’n groep van ons, almal Blikore, vir ’n kursus in Durban. Na ’n dag of wat begin ons wonder oor wanneer ons gashere ons na ’n bring-en-braai of iets gaan nooi, en toe vra ons. Die verstomming: “But this is Durban, and you need entertaining?!” Daai soort van reaksie.
Ons koop toe maar ’n weggooibare pak, en braai op die strand – in die gure wind en eet meer sand as tjops (by terugskoue, boonop dalk donkie of iets).
Dis toe een van die manne van Pietermaritzburg sien die Bore kort bietjie “uitneem” of hulle dros en sleep ons na die een of ander kelder waar ’n “komediant” optree. Die “komediant” se “humor” bestaan uit snedige opmerkings oor Vrystaters maak, en kort voor lank lol dit. Ons is darem daar uit voor die plek omgekeer is, of voor die Moord- en Roof laat kom kon word. Plein banaal.
Maar die man van Pietermaritzburg het darem met enetjie gekom wat ek nog gereeld inspan. Die Transvalers, verduidelik hy, staan as die sopkoppies bekend. Wanneer hulle see toe kom in Natal, piekel hulle die kleingoed saam, dikwels op pa se skouers, en as daar by ’n deur ingegaan word, kom dit soos klokslag: “Soppiekoppie.” Miskien het hy besluit dis veiliger om dit “Transvalers” as “Vrystaters” te maak na aanleiding van die amperse moles in die kelder.
Dus, beslis een soort Afrikaanse humor – ons kan (soms) vir ons self lag.
Dan is daar ’n bestaande woord “skreeusnaaks” en dit beteken stellig dat daar ’n soort humor moet wees wat iemand laat skaterlag. En ja, luister hoe die manne kort-kort daar om die braaivleisvuur uitbars van die lag (behalwe die aand daar op dit rand met die vleis half gaar en vol sand).
Lag met ’n traan is iewers anders op die lagspektrum.
En het ’n binnelander nou al die beste in ’n woordewisseling met ’n Kaapse man daarvan afgekom? Jare gelede ry my ouers met die destydse ou kronkelpaadjie (die een waarmee Koos Meyer-hulle so met hul tjor sonder enjin Strand toe en terug gery het) toe my pa sien daar kom iemand op ’n fiets oop en toe op ’n plaaspad aangery. Dis afdraand, en my pa twyfel of die man betyds gestop gaan kry. My pa ry oor na die verkeerde kant, en toe op die skouer, waar ta in ma se deur vasry. Die man is baie apologeties: “Sorrie my maastah, my briekse het gefyl, ma ek sal darem nie ’n saak maak nie.”
Dan is daar die kwessie van droë humor, wat so met wyle Jan Spies geassosieer word Dis vir my die kuns van humor, iets wat my pa, wat self uit die Namakwaland se storiewêreld gekom het so vervolmaak gehad het, en wat ek in my e-boek, Die reine waarheid en ander liegstories, probeer vasvang het.
En so veel ek kan in my rubriek, Herrie se kerrie (deesdae uit respekte vir die grysheid, Oom Herrie se kerrie) probeer weergee.
Man, kan ’n man nou nie erg maagpyn kry nie om te sien hoe iemand vreeslik ernstig, en met die sedigste gesig, ’n storie opdis wat die aanhoorders laat skree van die lag? Die kuns van hoe iets gesê word, hoe die situasie geskets word, en ’n soms valerige storie lewend word.
Dis kuns, en dis wat ek graag as tipiese Afrikaanse humor sou wou sien.
Maar dit sou selfsugtig wees, en seker Afrikaanse humor armer laat as die ander soort humor uitgerangeer word.
Ai, en dan is daar die kuns van humor doen, eerder as om die storie self te vertel. Soos die twee knape wat tydens die ABO die twee ooms wat op wagdiens was se skaapkoppe uit die kole haal en verorber, en die twee koppe met twee hondekoppe vervang van honde wat tydens ’n kanonvuur in die slag gebly het. Eers toe die een oom begin wonder oor van wanneer af ’n skaap nou sulke erge slagtande het, het die waarheid ontvou.
My oupagrootjie, onder meer orrelis en koster, het ook een aand op ’n tak oor die paadjie waaronder ’n minder vrome lidmaat saans deurslinger gaan lê, en hom toe met ’n hol stem meegedeel sy siel sal die nag van hom opgeëis word.
Ta is reguit predikant toe, waar die leraar en ’n klomp kerkraadslede reeds sedig op sy aankoms gewag het. En so is die waak begin...
Of dit die man uit sy suipery gehelp het, het die oorleweringe ongelukkig nie opgelewer nie.
As daar terugvoer is kan ’n mens dalk ’n behoorlike artikel saamstel oor wat alles nou eintlik regte Afrikaanse humor is.
Herman Toerien


Kommentaar
Om vandag geestig met die teenstrydighede rondom ons hier aan Mzansi te handel, kan jou in 'n japtrap voor die MRK laat land. Ek het nou die dag "If I were a Blackman", op die maat van Fidler on the roof se "If I were a Rich man", om die vuur gesing. Tot op hede blyk ek al een wat my oorspronklikheid geniet het. Saamlag is vir almal die gesonde deel; om voor gelag te word, vir meeste seer. Afrikaans is met besondere komediante geseënd; Lizz Meiring, Dowwe Dolla, Nathaniël, Frank Opperman, Hannes Muller, Leon Shuster, Karen Wessels, Pieter-Dirk Uys, Thys die Bosveldklong, Melt Sieberhagen, Hannes Brümmer, Piet Potgieter ... inderdaad 'n lang lys wat ons heeldag aan die lag behoort te hou!
Liewe Cornelius
Dowwe Dolla en Pieter-Dirk Uys is regtig nie meer snaaks nie. Om die waarheid te sê is die twee maar eergister se nuus. Oud en koud. Hulle is lank reeds vergete. Leon Shuster was snaaks maar is nou net gulsig en oud en en ek weet rerig nie wie Karen Wessels is nie. Gelukkig het jy nie daai grillerige kort vet mannetjie met die vuilbek se naam genoem nie, dus kan jy maar self uitfigure van wie ek praat.
Nathaniel en Liz Meiring is goed.
Maya
Dowwe Dolla is skerp en baie snaaks. Leon Shuster is partykeer wreed en ek glo nie hy ontvang so goed wat hy uitdeel nie. Nico Nel is 'n meester en ek onthou 'n Van Pletzen wat ook baie snaaks was. Jan Spies se stories is wenners en Kasper/Casper (die mannetjie wie se naam Maya nie eers wil noem nie) kan partykeer skreeusnaaks wees maar partykeer ook nie. Karen Wessels is ook 'n wenner. Herman Charles Bosman, alhoewel sy stories in Engels is (weliswaar met 'n Afrikaanse aksent geskryf) is baie goed en ek sou sê tipies Afrikaanse humor.