Invloede op Afrikaans

  • 2

Angus se brief, Afrikaans ’n lewende taal – vir Jan Rap, verwys.

Met die grys langs die slape wat nou ook al hoër verskuif het waar ek op my “oudag” weer begin groei het – al amper dwarsdeur die gryserige haredos, het ek ook al oor baie jare gesien hoe Afrikaans verander. Interessant hoe ’n mens maklik met sommige veranderings vrede maak, sommige veranderings verwelkom, en sommige heel onlekker in die keel vassteek.

Dat ’n groot deel van veranderings – erken of nie – via Engels kom is te wagte. Wanneer ek vir ’n instansie help om ’n mediaverklaring op te stel – en dan in Afrikaans en Engels uit te stuur, is dit nogal interessant om die paadjie te volg. Dit raak veral interessant as ’n koerant nie die Afrikaanse teks as nuuswaardig beskou nie, maar later as die Engelse teks via Sapa kom, dit wel as nuuswaardig beskou en weer terug in Afrikaans vertaal. En te kyk hoe die “nuwe vertaling” dan van die oorspronklike Afrikaanse teks verskil.

Tipiese voorbeelde wat maar moeilik gesluk word is as die oorspronklike Afrikaans na ’n “artikel” in ’n wet verwys. Die Engels hiervoor (in elk geval in ’n paar lande waar Engels gebruik word waaronder Suid-Afrika – ander verkies “article”) is “section.” In die “nuwe vertaling” word “artikel” skielik “seksie,” of darem bietjie beter, “afdeling.”

Ons het grootgeword dat “verban” beteken dat iemand uit sy land geskop word en nie mag terugkeer nie, en daar was toe ook heelwat skrywers in selfopgelegte ballingskap. Die Engels hiervoor is oa “excile”, maar nie “ban” nie. “Ban” se Afrikaans is (was?) inperk (soos destyds toe baie politieke aktiviste ingeperk was) of “verbied” waaronder die ANC.

Nou word byna deurlopende gesien hoe iets wat “verbied” word, en beslis nie in “excile” gestuur word nie, is Afrikaans “verban” word. Ek het selfs al gesien dat ’n taalkenners dit so gebruik, wat my laat wonder of dit nou aanvaarbare Afrikaans, of bloot laat gaande Afrikaans is.

Die vreemdste verskynsel vir my is dat veral in die sosiale media waar mense driftig kommentaar vir Afrikaans lewer, hulle nie ook “bodder” om hul spêling min of meer reg te kry nie. Veral saamgestelde woorde word op groot skaal los geskryf, so asof die regte spelling nooit vir die bloedjies op skool geleer is nie. Selfs by ’n groot Afrikaanse Hoërskool (ja, die deelteken bly tog veral in hierdie konteks belangrik) pryk die koperplaatjies wat trots aankondig dat dit die skool se “rekenaar kamer” is. ’n Klein plattelandse dorp het die klok hoor lui, en ’n padpredikant opgerig wat aandui: Sports Gronde (vir “Afrikaans”) en Sportgrounds (vir “Engels.”)

Toe ’n (intussen heengegane) Afrikaanse party strepe nuusverklarings uitreik waarin die “woordvoerder” die aanmekaarskrywery net nie kon baasraak nie, verweer die leierskap dat dit darem versagtend tel dat hy van Vlaamse herkoms is (wat egter dieselfde reëls as Afrikaans volg).

Terwyl dit darem seker nie nodig is om so puriteins te wees dat Mrs Balls se chutney nou mev Knaters se blatjang moet wees nie, sal daar tog seker iewers ’n soort grens bepaal word van watter taalverskuiwings groei behels, en watter op die wegteer van die taal dui.

 Herman Toerien

  • 2

Kommentaar

  • Netso Herman.  Mev Knaters se blatjang is skreeusnaaks. 'Sportgrounds' en 'Sports Gronde' is 'n tragedie. Dit is vir my snaaks dat omtrent niemand die aanmekaarskrywery kan baasraak nie; kyk maar na die oorgrote aantal briewe hier op SêNet. Hoe kry die Duitsers dit reg?

  • Beste Herman

    Dankie vir hierdie skrywe. Ek sou baie graag nog meer van jou wou hoor.
    Dit lyk my die skryftaal kry dit dubbeld: nie alleenlik is daar tallose skryfprobleme nie, maar dit sit ook met die gesproke taal se probleme opgesaal.
     
  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top