Interessante feite aangaande Venus

  • 3

 

Oor die planeet Venus was daar al baie misgetas en waarvan die ergste waarskynlik die keuse van die naam was. Daar is die storie van die Franse Vloot wat ’n patrollieboot uitgestuur het om ondersoek te gaan instel na die skerp lig saans in die weste bokant die Engelse Kanaal, nadat die vermoede ontstaan het dat dit moontlik ’n vyandige spioenasieballon is. Vroeër hierdie jaar was daar selfs ‘n ongelukkie toe ’n passasiersvliegtuig van Air Canada op 14 Januarie tydens ’n transatlantiese vlug tussen Zürich en Toronto, skerp geduik het om — wat die loots vermoed het ’n aankomende vliegtuig reg van voor was — te ontduik. Iets soos 16 passasiers en bemanningslede is in die onverwagse maneuver beseer. Die gelukkige einde was dat die op-en-wakker loots toe darem die botsing met Venus vermy het.

Die uitkoms van die eerste teleskope wat op Venus gerig is, was uiters teleurstellend. Daar was niks anders as die dik wolkelaag te sien nie. Die oppervlakte was onsigbaar wat natuurlik ruimte geskep vir allerhande verbeeldingsvlugte van ’n lushof met uitgestrekte oseane en vrugbare valleie en wuiwende vlaktes en selfs bespiegeling oor intelligente lewe met ’n gevorderde beskawingspeil en ’n wonderlike infrastruktuur.

Die werklike ontdekking van Venus het maar eers in 1961 begin met die Russiese tuig Venera 1 wat ongelukkig sy rieme styfgeloop het en nie deur die dik atmosfeer kon dring nie. Eers 5 jaar later het nog ’n Russiese tuig Venera 3 die eerste ruimtetuig geword om die oppervlakte van ’n ander planeet te bereik toe dit buite beheer op Venus neergestort het. Sy opvolger Venera 4 was meer suksesvol en het vir ’n paar minute lank data versamel en teruggesein voordat dit ook deur die geweldige atmosferiese druk verfrommel is. In 1970 het die eerste tuig Venera 7 ’n suksesvolle sagte landing uitgevoer en in 1975 is Venera 9 en 10 in wentelbane om Venus geplaas om data te versamel en terug te sein. Verskeie suksesvolle sendings het gevolg en sedertdien is selfs al 98% van die oppervlakte deur NASA se tuig Maggellan met behulp van radar gefotografeer en ’n magdom inligting is tans vryelik beskikbaar.

En dan kan ’n mens maar net in verwondering en ongeloof lag as jy die onkunde en spirituele snert lees wat onlangs hier kwytgeraak is, dat die bewerings aangaande Venus spekulatief is en nog glad nie bewys kan word nie.

Venus is effens kleiner as die aarde en die oppervlakte temperature wissel met ongeveer 32° rondom 500° C. (smeltpunt van lood is daarteenoor maar 327.5° C) Op die naaste punt aan die aarde in sy baan om die son is dit ongeveer 167 keer verder van die aarde af as die maan. Die atmosfeer bestaan uit 95% koolstofdioksied en die res uit hoofsaaklik stikstof en swaelsuurdampe. Die oppervlakte is ’n dorre woestyn wat bestaan uit gestolde rots en o.a. ’n rivier van gestolde lava van meer as 300 km lank.

Venus roteer in 243 dae van oos na wes een keer om sy as, wat dus 18 dae langer is as wat een omwenteling om die son duur. Die son kom dus in die weste op en sak eers meer as 120 dae later in die ooste. Daar word gespekuleer dat hierdie eienaardige gedrag waarskynlik te wyte is aan ’n botsing met ’n hemelliggaam duisende miljoene jare in die verlede. Venus is die enigste planeet in die sonnestelsel wat van oos na wes roteer.

Venus het geen magnetiese veld nie wat natuurlik oa daaraan te wyte is dat dit so stadig roteer.

Inferieure konjunksie vind plaas wanneer die twee planete in lyn met die son aan dieselfde kant van die son is. Tydens inferieure konjunksie (6 Junie 2012) is die buiteplaneet (Aarde) in opposisie met die son soos vanaf die binneplaneet (Venus) gesien. D.w.s. die son en die aarde is aan teenoorgestelde kante van Venus se horison.
Vanaf die aarde gesien sal Venus van ongeveer middel Junie af as die oggendster verskyn en vanaf Venus gesien (indien dit moontlik sou wees deur die dik wolkelaag) sal die aarde en die maan dan in die ooste as ’n baie helder tweeling gesien kan word met die maan wat op en af in ’n 28 dae siklus om die aarde dans terwyl hulle baie stadig agter die horison wegsak met die son wat weer besig is om net so stadig in die weste op te kom om eers ± 120 dae later in die ooste onder te gaan.

Panda

 

 

 

 

 

 

 

 

  • 3

Kommentaar

  • Dagsê Panda,

    Soos gewoonlik baie interessant. Deur hierdie skrywe het jy nou uitendelik vir ons openbaar waar die hel lê! Dis 'n gruwelike warm plek daardie. Klink ook of dit moeilik is om daar te kom ... die dikke atmosfeer kortwiek alle liefhebbers!

    Groetnis

    Perdebytjie.

  • Perdebytjie — Ja, dié Venus is maar 'n onplesierige plek maar gelukkig glo ons twee mos nie aan die hel nie. Sommer 'n bangmaakstorie! Eintlik behoort ons Grondwet ons kinders teen sulke snert te beskerm. Besoek gerus die volgende webwerf as jy lekker wil lag:
    http://www.youtube.com/watch?v=MeSSwKffj9o

    Groetnis
    Panda 

  • Panda,ek het nou lekker gelag vir die ou. Hy is kostelik!

    Ek stem saam. Enige iemand wat 'n kind bangmaak met die hel, is besig om ontsettende skade aan te rig en dit behoort deur te gaan as geestelike mishandeling. Ek het vroeg al vir my kinders geleer dat daar nie so-iets is nie. Hulle was gelukkige, vreeslose kinders wat goed uitgedraai het, sonder sulke vieslike dreigemente!

    Ek moes hulle natuurlik die heeltyd gerusstel, wanneer hulle tuiskom met stories wat die "goedbedoelende" onderwysers vir hulle gespin het! Die dag toe godsdiens begin status verloor het in skole, was ek baie verlig. Dit klink egter of dit nog steeds op 'n subtiele manier  beoefen word. Baie skole spog met hul christelike etos, asof moraliteit die alleenreg van godsdiens is!

    Dis maar 'n stryd wat nog lank gaan neem!

    Groetnis

    Perdebytjie

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top