Instapkaart

  • 0

Ek seil af op silwerstaal-trappe
my lang skaduwee val oor die leë sitplekke van ‘n vertreklokaal
doodstil verlate, laaste sonstrale deur hemelgrote vensters
buite die vensters ‘n plat opstyg-area, omring met berge
Agter die berge ‘n donker onbekende vallei

Hy het daar gesit in ‘n hoek met sy hande op sy knieë, sy ou vereelte hande op sy benerige knieë
sy oë was helderblou en moeg, sy grys stoppelbaard reg vir ‘n skeer.
sy ou grys trui wat altyd na tabak en son ruik as hy my optel
die wol grof onder my kinderhand

In sy hande ‘n verfrommelde instapkaart; maande oud.
“Ek sit al so lank hier my kind.”

“Wil Pa nie maar terugkom huis toe nie? Die kar staan buite.”

“Nee; ek dink die volgende vlug is uiteindelik myne.

“Ek wou net hê jy moet eers kom kyk of ek by die regte hek is."

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top