Insomnia

  • 5

Prent: Pixabay.com

Oupa het sy lewe lank sleg geslaap. Ek onthou dit tot vandag toe, want deur al ons kuiers heen by hulle in my jeugjare onthou ek dat Oupa soggens vir ’n mens tot in die fynste besonderhede kon vertel wat deur die grootste deel van die nag in die huis en op die werf aan die gang was. Dié slapeloosheid was Oupa se nalatenskap aan my. Hiermee is ek vanselfsprekend nie so érg in my skik nie! Oupa kon sy slapelose ure met ’n pak sigarette of twee verwyl, maar ek rook glad nie en moet dus totaal ander planne beraam om my slapelose ure om te kry. Soos die yskas leeg eet en die volgende dag ’n kilogram swaarder weeg en my hare uit my kop wil trek van spyt!

Ieder geval, ek onthou weer so ’n kuier by Oupa en Ouma toe Ouma een oggend die kombuis binne stoom en ewe melodramaties soos ’n Oscar-wenner aankondig: "Ek het vannag nie één oog oor die ander gehad nie! Ek het nie ’n benul hoe ek hierdie vreeslike dag gaan hanteer wat soos ’n eindelose woestynland voor my uitstrek nie!!"

Oupa was egter ’n meester in die uitkenning van snert wanneer hy dit gehoor het (buitendien was hy die een wat die hele nag gelê en om rook het en die hele laken vol gate gebrand het), en vat Ouma sonder ’n omhaal van woorde kort: "Maar Vrou, nou lieg jy darem soos tien tandetrekkers!"

En nét daar begin Oupa akkuraat, en deur ál die registers heen, illustreer hoe Ouma deur die ganse nag heerlik na Morfeus gevry het. (Ook g’n wonder die arme Oupa kon nooit ’n ordentlike nagrus inkry nie, want hoor ’n bietjie hier!) Oupa begin Ouma se kuiertjie by Morfius de profundis illustreer. Ek reken nogal menige operabas sou groen van jaloesie wees! Ouma wil nog keer met ’n: "Ou man, maar nou lieg jý darem verskriklik, en jy weet mos dis sonde om leugens te versprei!" Ouma glip sommer ’n Nederlandse woordjie in haar sin in, net om te bewys dat sy nog haar Nederlandse Bijbel ken en nie vergeet het wat sy aan moedersknie geleer het nie.

Aan Oupa is daar egter nou geen keer nie en so al fyntjies proe-ende durf hy die baritongedeelte aan. Simon Keenlyside se moses! Ouma se verleentheid breek natuurlik deur die klankgrens en sy keer vir die vale, maar verniet! Op ’n keer het sy vir my vertel dat sy dikwels bitter lus gehad het om polisie toe te gaan as Oupa so tekere gaan, maar wat sou haar klag nou eintlik wees? My man maak my snorkery na as ek snags slaap en ek wil sterf van verleentheid? Die polisie sou hulle slap lag. Dus: ’n verdere verleentheid. Ek het ewe vroom voorgestel dat Ouma vir Oupa met ’n sambok bydam. Ek het een in die skuur sien hang. Ieder geval, Oupa snork Prospero namens Ouma baie beter as wat Simon Keenlyside ooit kan droom om hom te sing.

Oupa proe-proe weer so fyntjies voordat hy die volgende stel oktawe aandurf. Ek kan sien Ouma soek na iets swaars om hom mee te gooi, maar in haar netjiese kombuis is daar niks wat swaar genoeg na haar sin is nie. Buitendien, Ouma kon in haar hele lewe niks raakgooi nie, al was die voorwerp vlak voor haar. Ek dink ook nie Oupa sou positief gereageer het as iets swaars hom getref het nie. Veral nie as hy aan ’t "komponeer" was nie.

Maar as ek nou een negatiewe ding van my liewe oupa mág sê: sy kennis van die operaregisters was nie prysenswaardig nie, want skielik besluit Oupa hy het nou genoeg van die manstemme gehad, en hy glip oor na die mezzo’s. Ek wonder tot vandag toe wat Kathrine Jenkins sou sê as sy oupa se "uitvoering" kon hoor!

Intussen het ek tjoepstil in ’n hoekie van die kombuis bly sit sodat ek nie aandag sou trek en die "meesterskonsert" onderbreek nie. Dit het maar bars gegaan, want ek wou my breek van die lag.

Oupa proe-proe weer so fyntjies; dié keer deur sy neus. Hoe hy dít regkry, weet g’n mens nie. Ek het hom al probeer naboots, maar verniet!

"Ag nee, deksels Ouman! Dis darem nou genoeg!" Ouma is nou opgeblaas so Boos is sy — met ’n hoofletter bee.

Natuurlik steur Oupa hom nie aan haar nie. Sy oë is eintlik toe van die lekkerkry. Sy ’konsert’ nader nou sy einde. Hy pak die register van die liriese soprane aan. Hy kies die érg liriese soprane soos die stem wat Montserrat Caballe besit het — ek het hulle verskuif na die kategorie van Histeriese soprane.

Uiteindelik eindig Oupa sy "konsert" met ’n meesterlike falsetto, soos ’n mens dit in "Carmina Burana" aantref. Gelukkig bly hy weg van die kontratenore, want wat my betref, sou dit alles bederf het!

Ouma se kommentaar? "Gmmf! Ek gaan by Hettie tee drink. Sy is darem ’n deetlike Christenmens! Jy kan sien sien waar jy ontbyt kry!!"

Ai, Oupa, hoe verlang ek nou na Oupa hier waar ek weer slapeloos op ’n wilde uur sit en tee drink!

 

 

  • 5

Kommentaar

  • Avatar
    Tiens Pretorius

    Hans, skryf vir ons 'n lekker stuk wat Sênet kan plaas. Ons word lank gyselaar gehou deur 'n ateïs, nou na 'n lang tyd opgevolg deur die ietwat vervelige "Insomnia".

  • Avatar
    Hans Richardt

    Tiens Pretorius, ek probeer hard, maar die emosionele parasiete lewer kommentaar soos na jou ...
    Ek slaap soos 'n klip deesdae. Insomnia kom net met 'n skuldige gewete.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top