Innibos-fees: 'n Seder val in Waterkloof benodig geen ontrimpeling om gehore te laat skater

  • 0

’n Seder val in Waterkloof
Skrywer: PG du Plessis
Regisseur: Albert Maritz
Rolverdeling: Chris van Niekerk, Erica Wessels, Waldemar Schultz, Perlé van Schalkwyk, Jana Fischer, Petrus du Preez, Wessel Pretorius, Janel Jordaan, Lulu Botha, Francois Jacobs en Adriaan van As
Tegniese Regisseur: Gaerin Hauptfleisch
Ontwerp: Leopold Senekal, Gaerin Hauptfleisch en Albert Maritz
Looptyd: 120 minute

Uitnemende skrywers dink en skryf tydloos. Hulle hou hulle nie op met enige giere binne ’n spesifieke tydvak nie, want wat hulle wil sê moet eeue later nog tot die hart, siel, gemoed of die lagspiere spreek.

Al PG du Plessis se dramas word van nature genadiglik nooit aan ’n verouderingsproses onderwerp nie, tensy ’n regisseur dit verkeerd of oudmodies sou interpreteer. Selfs iets soos ’n Seder val in Waterkloof wat gebeure uit ’n spesifieke tydvak weerspieël, benodig geen ontrimpeling om gehore in ’n ander eeu hul gô uit te laat skater nie.

Omtrent die enigste aspek van dié stuk wat as ongekend argaïes voorkom, is die luukse van ’n rolverdeling van 11 "dramatis personae" op die verhoog. Ons het lanklaas so iets ervaar – veral in só ’n perfek-gekose rolverdeling wat in wese veel meer prikkelend is as die première van 1975 wat dié resensent beleef het.

Albert Maritz werk soos ’n magiër met hierdie geselskap wat spelers van twee generasies verteenwoordig. Soos met sy produksie van Chris Barnard se Taraboemdery in 2009, is ook dié keer die konsep opnuut deurdink sodat dit minstens ewe vars met eietydse gehore kan kommunikeer as wat dit die geval was met die meer suksesvolle reïnkarnasies van Seder tot nou toe.

Innoverend is Maritz se spelplan gewis. Jy't eintlik oë van ’n verkleurmannetjie nodig om alle verhoogwerkinge in te neem. Hy't veral ook toegesien dat die "stil" spel tussen spelers – beweging, mimiek, reaksies en teenreaksies – heeltyd onomwonde duidelik en met lewendige spel ingevul word. Die groter doek is egter die een wat so baie by die meer fisies ingestelde komedie tel en hier was elke speler uiters en volledig midde-in sy of haar karakter. Om ook oor ’n duur van bykans twee ure dit nie net vol te hou nie, maar ook met die nodige nuanses vol te hou, wil gedoen wees.

Die enigste twee karakters wat vir my ietwat té klugtig en ietwat verwyfd voorgekom het, was Petrus du Preez as prof Lategan en Adriaan van As as prof Vredenburg. Die regisseur se motivering daarvoor het my verbygegaan. Om pretensieuse, hoogdrawende, snobistiese akademici – ’n subspesie wat baie van ons raaksien vir wat hulle is – só uit te beeld, is dalk ’n geregverdigde manier van subtiele wraak …

In kontras hiermee, was Chris van Niekerk as die akademie-indoena prof Jacobus-Daniël van Vuuren verkwikkend. Dit was ’n heerlik komiese uitbeelding van ’n man wat  die mees intense nagmerrie-verleentheid van sy lewe beleef in die uiteindelik oorleef. Presies wáár die kopskuif plaasgevind het was nie heeltemal duidelik nie, maar hy was dáár.

Jana Fischer as sy oujongnooi-suster, Sus, was perfek sonder om ooit na stereotipering te neig. Dit was ook ewe lekker om ’n uiters jong aktrise soos Janel Jordaan te ervaar wat van haar karakter die lewendige en opstandige tolbossie moet maak wat Vredelief reeds vanweë haar ongelukkige naam moet wéés.

En dan is daar die Van Vuurens van Krugersdorp. Hier was dit Erica Wessels wat van ma Sally iets ongeloofliks ég gemaak het – veral op daardie oomblik wanneer sy ewe driftig die stof van haar skoene wil afstamp in die Wôterkloof-huis. Vir meer zef-heid sal ’n mens ver soek. Waldemar Schultz se Van, die bou-inspekteur wat deur Sally se broek regeer word, se senuagtige onderdanigheid was iets om te aanskou en jou in te verkneukel.

Wessel Pretorius se Oom Tampan Olivier was ’n kragtoer duisend, en eweneens – op ’n totaal ander vlak – Lulu Botha se Mercia van Vuuren, die enigste karakter op dié verhoog wat g’n sprook gesprak het nie.

Gigi as die masseuse Poppie Olivier voel uiters tuis op dié verhoog en sy het in die tweede uur van dié opvoering nuwe lewe in die stuk geblaas. Maar hierdie Poppie is meer as wat sy voorgee. Sy toor met mans se diepste psigologiese blokkasies en ontblok dit met terapeutiese finesse. Te lekker.

  • Hierdie artikel het verskyn in die Innibos-feeskoerant: Muskiet/Laevelder

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.

Top