Inligting | Sing 'it 2013

  • 0



Sing ’it
 is ’n lekker liriekskryfkompetisie, aangebied deur LitNet en met trots geborg deur Sanlam, wat ’n platform bied aan elkeen wat belangstel in musiek, kreatiewe skryf of bloot kreatiwiteit. Dis die enigste kompetisie wat SA-musikante en liriekskrywers so direk saambring om unieke, oorspronklike liedjies te skep.

Die idee agter Sing ’it is eenvoudig:
1) Jy skryf fantastiese lirieke (ons sal jou selfs help om jou kreatiwiteit vlerke te gee en jou skryfvaardighede te ontwikkel) voor 30 September 2013. Skryf dit in op die Sing ’it Facebook-blad, of via epos. Onthou om jou naam en van, ouderdom, kontak besonderhede, liedjie titel en die kunstenaar vir wie jy skryf by te voeg. Jy kan ook jou inskrywing SMS: tik jou naam en van, ouderdom en kunstenaar vir wie jy skryf, dan jou lirieke en kontakbesonderhede, en stuur dit aan 33641.

2) Vier van Suid-Afrika se top-musikante sal elk ’n gunsteling-liriek kies uit al die inskrywings en dit opneem as ’n splinternuwe liedjie. Groot pryse is op die stel vir hierdie ses liriekskrywers, so laat jou woorde leef! 

3) Hierdie nuwe liedjies sal gratis aflaaibaar wees in November 2013. Die publiek kan stem vir hul gunsteling, en die wenners – musikant en liriekskrywer – loop weg met reuse-pryse: ’n musiekvideo én ’n kontantprys, elk ter waarde van R50 000!



So, om die liriekskrywer van ’n kokende nuwe liedjie deur jou gunsteling-musikant te wees is nie genoeg vir jou nie? Soek jy meer as jou naam in die musiekbedryf en die kans om met van SA se vuurwarm musiekmakers saam te werk? As jou liriek een van die vier is wat opgeneem word, wen jy R5 000!

Jy sal ook 'n stel uitstekende Monster DNA-oorfone en 'n Roland-tuisopneem- toestel met komplimente van Paul Bothner Music ontvang. Die Roland-stel sluit 'n Roland Tri-Capture USB Audio Interface en Cakewalk by Roland se Sonar X2 Essential tuisateljee-sagteware in – alles wat jy benodig om elke aspek van die musieproduksieproses te bemeester!

Lees meer oor hierdie jaar se borge.

Maar lees verder: as die liedjie van jou liriek as wenner uit die vier liedjies deur die publiek aangewys word, kry die kunstenaar R50 000 vir ’n musiekvideo en jy stap weg met R50 000 om jou kreatiwiteit te laat hoogty vier. Ook kry jy die kans om skouers te skuur met die musikante en deel te wees van die musiekvideo. Kan jy vir meer vra? Dis waar dit begin!

 

  • Alle inskrywings moet LitNet teen 30 September 2013  bereik. Enige lirieke wat na 30 September ontvang word, sal nie tot die kompetisie toegelaat word nie.
  • Slegs persone 18 jaar en ouer mag aan die kompetisie deelneem.
  • Lirieke mag in enige van die amptelike tale van Suid-Afrika voorgelê word. Daar is geen beperking op taalvermenging of die gebruik van ander tale nie, maar indien ’n taal anders as Afrikaans of Engels ingesluit word, moet vertalings/verklarings vir die betrokke woorde die lirieke vergesel.
  • Slegs elektroniese inskrywings op die Sing ’it Facebook-blad of LitNet word aanvaar.
  • Lirieke mag nie vloekwoorde, laster, haatspraak of godslastering bevat nie.
  • Inskrywings moet oorspronklike werk wees, en nie verwerkings van enige materiaal wat voorheen gepubliseer is, of wat reeds in enige vorm kommersieel opgevoer is nie.
  • Deur jou lirieke vir die Sing ‘it-kompetisie in te skryf bevestig jy dat alle lirieke wat ingestuur word, jou eie oorspronklike werk en intellektuele eiendom is. Jy erken dat dit nie enigsins van enige bron geplagieer is nie. Deur om  vir die kompetisie in te skryf sertifiseer jy ook dat jy geen kennis dra dat hierdie woorde – vir enige doeleindes – op ‘n ander plek gebruik of gepubliseer is nie. Jou inkskrywing vrywaar LitNet en enige kunstenaar betrokke by Sing ‘it wat jou woorde vir die Sing ‘it-kompetisie gebruik van enige regstappe of skade wat uit die gebruik van die woorde wat jy vir Sing ‘it ingeskryf het mag ontstaan.
  • Lirieke wat vir verlede jaar se kompetisie ingeskryf en nie as wenlirieke aangewys is nie, sal weer aanvaar word.
  • Hoewel alle moontlike voorsorg getref word, aanvaar LitNet geen aanspreeklikheid vir die verlies van enige lirieke nie. Kandidate moet afskrifte van hulle tekste hou en kontroleer dat dit wel op LitNet verskyn (laat asseblief minstens een werksweek toe vir proeflees- en publikasietyd).
  • Alle inskrywings word op LitNet gepubliseer. Deelnemers behou die kopiereg van hulle publikasies, maar LitNet het die reg om dit op verskillende platforms – insluitend ander publikasies – ter bemarking van die kompetisie te gebruik.
  • LitNet sal die liriekskrywer se kopiereg aandui, maar aanvaar geen verantwoordelikheid indien die lirieke buite die omvang van hierdie kompetisie getoonset sou word nie.
  • LitNet aanvaar geen verantwoordelikheid indien enige lirieke wat vir die kompetisie ingeskryf is en/of deur LitNet gepubliseer is, geplagieer word nie.
  • Die publikasie van enige lirieke op LitNet behels ’n aanvaarding van die LitNet-webtuiste se algemene Bepalings en Voorwaardes.
  • Die kunstenaars kies self die lirieke wat hulle wil toonset en LitNet of Sanlam het geen direkte inspraak hierin nie. Indien die aantal inskrywings onhanteerbaar is, mag voorafkeuring deur professionele beoordelaars wel plaasvind.
  • Die aanwysing van wenners deur LitNet is finaal en nie onderhandelbaar nie.
  • Indien een van die genomineerde kunstenaars jou lirieke vir die kompetisie toonset, word ’n prysgeld van R5 000 (per liriek) aan jou betaal. Indien meer as een genomineerde kunstenaar vir die kompetisie ’n liriek van jou toonset, sal jy vir elke toonsetting vergoed word.
  • Indien ’n kunstenaar jou lirieke kies, verbeur jy alle winsregte op die uiteindelike snit. Jy sal wel as die liriekskrywer erken word en behou kopiereg vir alle verdere/nuwe toonsettings.
  • Kunstenaars het die reg om lirieke in ’n mate, in oorleg met LitNet, te wysig ten einde dit by hulle spesifieke styl aan te pas.
  • Die vier kunstenaars het toegang tot al die lirieke en kan enige stel kies, ook een van dié wat spesifiek vir ’n ander kunstenaar geskryf is. Lirieke wat vir ’n spesifieke kunstenaar geskryf word, sal wel as sodanig aan hulle deurgegee word. Hierdie voorkeure word nie op LitNet gemeld nie.
  • Slegs wenners sal persoonlik in kennis gestel word.
  • Deelnemers wat as wenners aangewys word, gee toestemming dat LitNet foto’s van hulle en/of onderhoude met hulle en/of video-beeldmateriaal van hulle mag plaas. Wenners stem ook in om bogenoemde foto’s te verskaf en om hulself beskikbaar te stel vir bogenoemde (video-) onderhoude.
  • Indien jou liriek as ’n wenliriek gekies word, sal LitNet optree as tussenganger met die media en moet jy sover moontlik beskikbaar wees vir onderhoude of kommentaar.
  • Alle korrespondensie tussen liriekskrywers en kunstenaars sal deur LitNet behartig word.
  • Indien jou toonsetting die musiekvideobegroting wen, sal jy die geleentheid gebied word om in die video te verskyn (op Sing 'it se onkoste indien jy binne die grense van Suid-Afrika woon). Jou teenwoordigheid in die musiekvideo is vrywillig en nie ’n verpligting nie.

Stuur ’n e-pos aan singit@litnet.co.za vir enige navrae.

 

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top