Ineenstortende nuwe geboue; ’n paar vreesaanjaende gedagtes

  • 7

...
Produktiwiteit en spoed is belangrik, maar produktiwiteit en spoed beteken niks sonder refleksie, nadenke en intuïsie nie.
...

Toe ek ’n paar dae gelede die eerste berigte lees oor die tragedie van die ineengestorte gebou in George, kon ek my oë nie glo nie.

’n Nuwe gebou? In puin? Sommer net so? Sonder dat daar ’n aardbewing of iets was?

Dis mos nie veronderstel om te gebeur nie? Ou geboue stort in duie, ja. Soms. Maar nie ’n gebou waaraan die bouwerk nog nie eens voltooi is nie?

Hoe verder die nuus uitlek, hoe aakliger die besef tot mens deurdring dat hier werklik ’n verskriklike ramp aan die ontvou is, hoe meer gaan jou hart uit na die naasbestaandes van die slagoffers wat dood is of nog steeds vasgekeer onder die bourommel.

En vreemde gedagtes en assosiasies flits deur jou kop.

Ek dink onwillekeurig terug aan die eksperimentele Duitse musiekgroep Einstürzende Neubauten.

Einstürzende Neubauten (lit. ‘Collapsing New Buildings’) is a German experimental music group, formed in West Berlin in 1980. The group is currently composed of founding members Blixa Bargeld (lead vocals, guitar, keyboard) and N.U. Unruh (custom-made instruments, percussion, vocals), long-time contributor Alexander Hacke (bass, vocals), plus Jochen Arbeit (guitar, vocals), and Rudolph Moser (custom-built instruments, percussion, vocals), who both joined the line-up in 1997 (Wikipedia).

My medesanger en vriendin, Liela Groenewald, het my jare gelede van hierdie groep vertel, en ek is sedertdien gefassineer deur hulle vreemde musiek en selfs nog vreemder musiekvideo’s.

Jeff Terich beskryf die filosofie agter hierdie groep as volg in sy essay “A Beginner’s Guide to the industrial innovation of Einsturzende Neubauten”:

They called themselves Einstürzende Neubauten: “Collapsing new buildings,” in reference to the cheaper, mass produced construction that cropped up in postwar Germany.

As jy van sulke dinge hoor soos die nuwe gebou wat in duie gestort het, en as jy kennis neem van die sosiale kommentaar van kunstenaars soos hierdie, wonder mens onwillekeurig of daar selfs meer fundamentele dinge verkeerd is met ons moderne samelewing as wat jy besef het.

Ons leef in ’n eeu van kitsplesier, kitsoplossings vir komplekse probleme, kits-entertainment en kits-celebrities.

...
Eendag gaan mense verby outydse rooi posbusse stap en kinders sal hul ouers vra: “Mamma, wat is dit?” en die ouers sal antwoord: “Ek weet nie, my kind.”
...

Wat het John Lennon nou weer gesê toe hy in 1980 vir Paul McCartney gekritiseer het na die opbreek van die Beatles? “A pretty face may last a year or two...”

Waar die bouers of die argitekte van daardie rampspoedige bouprojek in George gefouteer het – indien hulle gefouteer het – sal ons dalk nie gou weet nie. Dalk nooit werklik nie.

Dis wel ’n feit dat iets baie ernstigs verkeerd moes gegaan het vir so-iets om te gebeur.

Wat het geword van die waardes van duursaamheid, kwaliteit, langdurigheid en konsekwentheid? Hoekom is daar nog steeds, of nog meer as tevore, doef-doef-musiektreffers sonder werklike inhoud of betekenis? Wie wil nog lang romans lees?

Ons kyk kort TV-episodes van ’n halfuur lank. Ons stap nie meer ure lank langs die see nie. Ons stuur WhatsApp-grappies in plaas van om behoorlike gesprekke te voer.

Die lewe in die een-en-twintigste eeu is ’n reeks vinnige punchlines, daaglikse (of uurlikse) status updates en vereenvoudigde one-liners. Dit het begin met Twitter se 140-letter-boodskappe. Intussen het alles selfs nog meer bondig geword. Hoe meer ongekompliseerd, hoe makliker vir die massamens om te verteer!

Ek gesels nou die dag met ’n vriend om die braaiplek en hy sê vir my dat hy deesdae audio-boeke luister in die motor omdat hy nie meer tyd het vir lees nie.

Natuurlik is daar niks met audio-boeke verkeerd nie, maar soms wonder ek by myself: Gaan daar eendag ’n generasie jongmense verrys wat heeltemal die waarde van letters en woorde ontgroei? Wat nie meer die punt insien van geskrewe of gedrukte taal nie?

Binnekort en toenemend en alreeds is feitlik alle inligting wat voorheen in gedrukte tekste te lees was, beskikbaar as audio-grepe of video’s.

Wat gaan van boeke word?

En as die geskrewe woord verdwyn, wat word van poësie as kunsvorm?

Kom daar eendag ’n geslag mense op aarde wat gaan terugkyk na die primitiewe instellings en kommunikasiekanale van boekwinkels en biblioteke soos wat ons vandag terugkyk na die eeu van hiërogliewe en piktogramme?

Ons weet dat tale soms uitsterf.

Maar wat as taal self uitsterf?

Of ten minste: taal as geskrewe teks?

Alreeds stuur niemand meer vir mekaar outydse briewe nie. Boekwinkels verkoop nie meer skryfblokke nie. En noudat die poskantoor sy gat gesien het, kry mens natuurlik ook nie meer iets soos posseëls nie.

Eendag gaan mense verby outydse rooi posbusse stap en kinders sal hul ouers vra: “Mamma, wat is dit?” en die ouers sal antwoord: “Ek weet nie, my kind.”

Kitskultuur het alles oorgevat. Handgeskrewe notas en dagboeke is vervang deur e-pos-boodskappe, digitale tekste en stemnotas.

Die verlies van die ou dinge gaan dieper as bloot die verlies van sekere ouwêreldse tegnologieë. Dit is besig om ons op ’n dieper vlak te verander. Daar is die gevaar dat die mensdom al dommer gaan word, al minder in staat om genuanseerde ervarings te probeer verwoord, te verstaan of te kommunikeer.

Wat as alle emosies en gewaarwordinge verander in emoji’s?

Of is ek onnodig negatief?

Dalk is ek. Wel, ek hoop ek is.

Ek dwing myself deesdae om, wanneer ek soggens wakker word, nie dadelik na my selfoon te gryp om dadelik ’n kort opsomming te soek van wêreldgebeure en nuuswaardighede nie. Ek dwing myself om eers my drome te probeer onthou en daaroor na te dink (indien enige). Dan ’n koppie koffie te gaan maak en my gedagtes neer te skryf terwyl ek deur die venster kyk en luister na die voëltjies.

Dit klink kontra-intuïtief, maar die dae wat ek so begin, loop gewoonlik beter af as die dae wanneer ek sommer wegspring met die nuutste WhatsApp-grappies of Netwerk24-sensasies.

Produktiwiteit en spoed is belangrik, maar produktiwiteit en spoed beteken niks sonder refleksie, nadenke en intuïsie nie.

Dit is hoekom daar soveel kollektiewe angs in die wêreld is. Dit is hoekom ons so vervreemd is van onsself.

En dalk is dit hoekom nuwe geboue ineenstort.

  • 7

Kommentaar

  • Kitsbestaan is die nuwe norm.
    Die essensie van die lewe, in al sy fasette, is besig om te kwyn. En op dié huidige trant verloor die mens sy waarde. Puik verwoord, Koos Kombuis.

  • Jy slaan die spyker op sy kop Koos. Die gebou in George is tipies van wat in ons land (maar ook wêreldwyd) aan't gebeur is.

  • Ek begin my oggend met 'n halwe suurlemoen se sap (met die pitte en al) uitgedruk in 'n beker gekookte water, en daarby 'n eetlepel appelasyn. Dis vreeslik ek weet, maar ek raak nou al mooi gewoond daaraan. Na afloop van die konkoksie kou ek 'n naeltjie en sluk dit in. Ek mag een beker koffie drink per dag nuttig, om en by 10 uur in die oggend. Maar niks na 12 nie.

    Oudioboeke is fantasties. Ek moet hulle meer gebruik. As mens luister, skeep jy jou leesvaardighede af, en as jy lees, skep jy jou luistervaardighede af. Daar is in alles maar 'n bedreiging maar ook 'n geleentheid.

  • Ek self probeer maar 'n balans hou. Geboue het in die antieke tye ook ingestort. Daar is en sal altyd miljoene wees wat van skryf hou en as mens skryf: lees jy al hoe meer. Ek skei maar die koring van die kaf op die internet en saans as ek moeg is kyk ek maar laeklas vermaak soos Netflix en mense wat vinnig reis deur plekke op YouTide vir die insta foto's. Soggens kyk ek podcasts soos Alex O'Connor se meer as uurlange gesprekke oor interessante onderwerpe in die filosofie en post-religie. Verder het ek al meer navorsing gedoen op die internet en meer geleer as wat ek gedink het moontlik vir my sou wees in my leeftyd. Ons leef in fantastiese tye. Ek leef as invalide 'n alleen lewe, so my skootrekenaar waarna ek gryp elke oggend na my stappie en koffie, is 'n lewenslyn.
    Verder skilder ek op my ou bed.
    Daar sal beslis iets fisies fout gegaan het met die ineengestorte gebou en die bouers sal nou met dit loop vir altyd.
    Dit bly tragies – rampe en dood. Verskriklik.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top