Indrukke van die gesprek oor die muilbandwetgewing

  • 1

Al die een gehoor van die ANC groot kokkedoor wat téén sy eie party se wetgewing gestem het? Dis waarskynlik hoe die geskiedenisboeke die sedige Mathole Motshekga, ANC-hoofsweep, sal onthou: die dag toe hy – saam met opposisiepartye – teen die Wetsontwerp op die Beskerming van Staatsinligting gestem het.

Joernaliste het nie op hulle laat wag nie. “Die ANC-hoofsweep word ’n rebel,” het een op Twitter die draak gesteek. “Die Ja- en Nee-knoppies om te stem, lê ver van mekaar af,” het Nic Dawes, redakteur van Mail & Guardian, van hom laat hoor. “Dit is inderdaad ’n vet vingerfout.” Die ANC het Motshekga se glips gou reggestel en dit aan ’n tegniese fout toegeskryf, en sy nee-stem is intussen aangepas na ’n dawerende “Ja”.

Gister se debat oor die veelbesproke Inligtingswetsontwerp, oftewel die Muilbandwet, het met ’n stewige kwota drama gepaard gegaan. Benewens die ANC-hoofsweep se vergissing het LP’s mekaar die kop deeglik gewas.

Uit die ANC-banke is veral gewag gemaak van die party se edelmoedigheid deur kritici van die wetgewing tegemoet te kom met verreikende veranderinge.

“Agbare Speaker, laat daar nié gesê word dat die ANC nie luister nie,” het Cecil Burgess, voorsitter van die ad hoc-komitee wat oor die wetgewing beraadslaag het, aangevoer. “Die mate waartoe hierdie parlement die publiek in hierdie saak geken het, is weergaloos. Die ANC het na sy mense geluister en soveel veranderinge aangebring dat die wetgewing nou as ’t ware ’n nuutgebore kindjie is.”

Aanvanklik was die wind effens uit die seile van opposisiepartye, wat skoorvoetend moes toegee dat die nuwe wet inderdaad minder drakonies is as die oorspronklike een wat drie jaar gelede voorgelê  is. “Ons kan dit eerlikwaar nie meer met ’n skoon gewete ’n muilbandwet noem nie,” het Steve Swart van die ACDP gesê. Ook die DA se besware was van ’n tegniese aard – dat die wetgewing openbare rekordhouding in provinsiale argiewe reguleer, terwyl dit eintlik ’n provinsiale funksie is.

Dit was egter die IVP se Mario Oriani-Ambrosini wat die kollig gesteel het – die man het immers uit ’n hospitaalbed opgestaan (hy word vir ’n longinfeksie behandel) om sy toespraak te kom lewer. In sy kenmerkende swaar Italiaanse aksent (hy is ’n boorling van Rome) het hy ’n hartstogtelike pleidooi gelewer dat LP’s nie hul gewetens moet verkrag nie. “Julle sê self vir my in die wandelgange van die parlement hierdie is ’n slegte, slegte wet. Moet dan nie daarvoor stem nie! As die wet deurgaan, sal ons demokrasie vergaan.”

Buite die parlement het die Right2Know-veldtog ook van hom laat hoor. “Die wet bied beperkte beskerming vir fluitjieblasers en ander mense wat dinge soos bedenklike tenderpraktyke aan die kaak wil stel,” het die organisasie in ’n mediaverklaring gesê.

Die Twitterati het ook nie op hulle laat wag nie:

  • “Ons regering kan nie eens misdaad beveg nie – hoe wil hulle die media se monde snoer?”
  • “Die inligtingswet word goedgekeur op die vooraand van Vryheidsdag (27 April). Hoe ironies.”
  • “En so eindig ons eksperimentjie met demokrasie.”

Die uiteinde van gister se verrigtinge was dat die gewraakte Inligtingswetsontwerp finaal deur die Nasionale Vergadering (die parlement se hoër huis) goedgekeur is toe 191 parlementslede vir die wetsontwerp en 74 daarteen gestem het. Slegs een LP het buite stemming gebly.

So, waarheen nou hiervandaan?

Die onus rus nou op president Jacob Zuma wat moet besluit of hy die wet na die konstitusionele hof gaan verwys om die grondwetlikheid daarvan te toets en of hy dit gaan onderteken. Alle aanduidings is dat Zuma gaan deurdruk en dit gaan bekragtig. Waarom sou hy nie? Soos Rapport onlangs opgemerk het: geheimhouding is in die Man van Nkandla se aard. Hy was immers die ANC se intelligensiehoof in die struggle.

Billikheidshalwe moet gesê word dat die aangepaste wetsontwerp nie naastenby so drakonies is as die een wat in 2010 ter tafel gelê is nie. Danksy druk van die opposisie en burgerlike samelewing – merendeels aangevuur deur die Right2Know-veldtog en mediagroepe – het die ANC uiteindelik bes gegee en grootskaalse veranderings aan die wetgewing aanvaar.

Maar is dit genoeg?

Ek is bevrees nie. Die wet gee verreikende magte aan die minister van intelligensie om inligting goedsmoeds as geheim te klassifiseer. Dink bietjie: Sal daar ooit ’n haan kraai na die Nkandla-verslag oor verbouings aan Zuma se woning? Sal bedenklike tenderpraktyke aan die kaak gestel word? Beslis nie as sulke verslae geklassifiseer is nie.

Kortom: die wet sal ’n aanslag wees op die vryheid wat Suid-Afrika die afgelope twee dekades geniet het.

Ferial Haffajee, redakteur van City Press, het dit gisteraand só op Twitter verwoord: “Having lived in free times and not you come to know this: either you have freedom, or you don’t. There’s no grey, no gradation.”

  • 1

Kommentaar

  • Wat staan ons as gewone publiek te doen in so situasie en hoe word ons beskerm? Dit lyk my ons is heeltemal magteloos.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top