
Die stad Lublin in Pole is waarskynlik nie vir baie Suid-Afrikaners bekend nie. Wanneer Suid-Afrikaners Europa besoek, verkies ons dikwels om vinnig in ‘n neutedop die kos, geure en kultuur van voor die hand liggende stede soos Parys, Amsterdam, München, Praag, Wenen, Rome of Venesië te ervaar. Europa is immers ver en ‘n vliegtuigkaartjie duur. Wat sal ons nou in Lublin gaan maak?
Self was ek ook nog nooit in Lublin of enigsins in Pole nie. Tog skyn dit ‘n besonder mooi stad met veral ‘n ryk Joodse verlede te wees – hoewel daardie kultuur hoofsaaklik in die Tweede Wêreldoorlog verpletter is met die Joodse konsentrasiekamp Majdanekwat in Lublin opgerig is. Omdat dit so sentraal tussen Pole, Litoue, Belarus, Oekraïne en Rusland geleë is, was Lublin nog altyd ‘n smeltkroes van verskillende kulture. Ná die oorlog het die stad ‘n belangrike universiteitstad geword met ses staatsuniversiteite. Ook het Lublin in 2007 ‘n kandidaat geword vir die titel Europese kultuurstad. Dit het deurgedring na die tweede ronde vir 2016, maar is uiteindelik deur Wroc?aw uitoorlê.
Maar hoekom hierdie blik-in-‘n-neutedop van Lublin weergee? En wat het dit met literatuur te make, mag jy dalk vra.
Die eenvoudige rede waarom ek met ‘n paragraaf begin wat jy dalk in ‘n reisgids oor Lublin mag vind, is om ‘n belangrike onderskeid te tref tussen die manier waarop skrywers vir toergidse oor stede skryf en die manier waarop skrywers dit vir literatuurdoeleindes doen.
Hoe skryf mens oor ‘n stad soos Lublin vir die doeleindes van ‘n toergids? Hoewel ek geensins aanvoer dat dit ‘n maklike taak is nie, dink ek tog dat daar ‘n meer voor die hand liggende antwoord op daardie vraag is as wat die antwoord op die tweede vraag sou wees. Kyk byvoorbeeld na die volgende vyfminuutvideo van die stad Lublin wat al die trefpunte van die stad, geskiedenis en ander interessanthede belig:
So, nou die tweede (moeiliker) vraag: Hoe skryf mens oor ‘n stad soos Lublin vir literatuurdoeleindes?
So drie weke gelede het ek, in ‘n rubriek oor een van my gunstelingskrywers, Arnon Grunberg, bespiegel oor een van sy reportages wat hy oor die kimlyn van New York geskryf het. Grunberg is verlede jaar deur die Vlaams-Nederlandse kultuurhuis deBuren in Brussel gevra om ‘n verhaal (deBuren noem dit ‘n citybook) oor die einste Lublin te skryf. En dit is presies hierdie verhaal wat ek vandag gaan gebruik om bogenoemde onderskeid (letterkunde/toerisme) te illustreer.
Die verhaal wat Grunberg vir deBuren se citybook geskryf het, se naam is “Aangifte” – of “Klag” in Afrikaans. Dit was ‘n opdragwerk van deBuren, en Grunberg het self daarvoor twee weke lank in Lublin gewoon.
Die verhaal kan hier in Nederlands geluister word (heeltemal gratis, so 25 minute lank en Grunberg lees dit self voor).
En dan kan die verhaal boonop nog in Afrikaans geluister word. Ek het dit self vir deBuren vertaal en ook voorgelees, omdat my stem maklik ‘n skynbaar-naïewe jong meisie (die verteller van die verhaal) kan voorstel. Ek hoop dat ek daaraan reg laat geskied het.
Grunberg skryf sy verhaal dus vanuit die perspektief van ‘n jong Poolse meisie met die naam van Danuta Kalinowska. Sy woon haar lewe lank in Pole en begelei in haar vrye tyd graag besoekers deur die stad – waar sy gebore is en waarop sy baie trots is. Ek stel my voor dat haar karakter dalk iets soortgelyk aan die “stem” in die YouTube-video hier bo is. Of in elk geval tot ons agterkom dat sy nie so onskuldig is soos wat sy voorgee nie.
Die verhaal bestaan uit ‘n klagbrief wat hierdie einste Danuta aan die stadsraad in Lublin skryf. Hierin stippel sy haar klagtes teen die skrywer Arnon Grunberg wat sy deur Lublin begelei het, uit. Hierdie skrywer (wat ons weet die citybook geskryf het) het, volgens die brief, onaangename dinge met haar gedoen – dinge wat geen man met ‘n vrou behoort te doen nie. Hy het geensins belang gestel in die kulturele bakens, die geboue en geskiedenis van Lublin wat sy met groot sorg aan hom probeer wys het nie. Hy was eerder geïnteresseerd om haar en haar malkop ma te misbruik – seksueel, maar ook materieel – hy het ‘n hele lys besittings van hulle gesteel.
Hoe verskil hierdie verhaal dus van die toerisme-video hier bo? Albei is op die internet beskikbaar; albei is uit die perspektief van ‘n jong Poolse meisie “vertel”; albei handel oor Lublin en albei bied ‘n blik op daardie stad.
Ek dink die mees algemene antwoord op die vraag oor die verskil tussen die twee tekssoorte is dat dit ‘n kwessies van doelstelling is. Die toerisme-video het die vername doelstelling om mense na Lublin te trek, om besoekers van die kulturele en geskiedkundige veelsydigheid daarvan te oortuig en dus toerisme aan te wakker.
Terwyl Grunberg met sy verhaal iets heeltemal anders wil doen. En wat is dit? Om die spot te dryf met homself? Om in die kop van ‘n jong Poolse meisie te kruip en op dié manier ‘n verhaal van onskuld teenoor skuld van ‘n jong meisie – en per implikasie van die stad – te vertel? Om ons te laat wonder of dit wat gebeur het, dalk die waarheid is? Om ons te vermaak? Om ons te laat wonder?
Ek dink dat die antwoord op die vraag wat die doelwitte van literatuur kan wees, nie net dubbelsinnig is nie. Maar ek wil selfs beweer dat literatuur dubbelsinnigheid as doelstelling voor oë het. Dat dit die oogmerk het om meerduidig te wees en sodoende die meerduidigheid van die werklikheid te probeer oopvlek. Dit gaan nie net vertel van die wonderlike dinge wat mens in Lublin moet sien nie. Dit gaan ook die nare kante, die vreemde elemente, die verskriklikhede van daardie stad belig. Ook die dubbelsinnigheid van die karakters sal ter sprake kom. Die toergids Danuta blyk aan die einde van die verhaal nie so onskuldig te wees soos wat sy aan die begin voorgegee het nie. Soos die verkillende elemente in die stad, is sy ‘n volronde karakter wat deelneem aan die vertoon, skyn, prag en praal daarvan, maar onder die oppervlak manipuleer en mislei en feilbaar is.
Ook die skrywer Grunberg is in hierdie verhaal natuurlik allesbehalwe ondubbelsinnig. Hy skryf sélf die verhaal en lees dit sélf voor, maar tog skryf hy oor homself vanuit die perspektief van ‘n ander. Hierdie ánder perspektief belig hom as ‘n droewige, lui, seksbehepte en depressiewe leuenaar en bedrieër. Maar is dit die werklike Arnon Grunberg?
Literatuur vra dus dubbelsinnige vrae. Literatuur oor ‘n stad (teenoor toergidse of toerismeliteratuur) wil mens nie net aanspoor om die stad te besoek nie, maar die werklikheid (en dus kompleksiteit) van daardie stad verhelder. Dit spoor ons aan om vrae oor daardie stad te vra, oor die lewe van die mense wat daarin woon, en om ons eie perspektief daarop en teenwoordigheid daarin.
Dalk is dit raad om te gebruik vir ons fiksiekompetisie “Reisende skrywers”?
Skryf asseblief in! Selfs al is dit ‘n verhaal wat meer in die toerisme-kategorie val. Dit sal ook met aandag gelees word. As gevolg van ‘n paar versoeke het ek besluit om die kompetisie-sperdatum met een week te verleng. Dus het julle nog tot 10 Junie om in te skryf.
Lekker skryf
Rentia

